Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
NFT’s: Habana, The Kiffness benut dié tendens

Suid-Afrika het nou sy eie platform vir die verkoop van onvervangbare bewysstukke (NFT’s), ’n nuwe vorm van digitale bate wat wêreldwyd posvat.

Joshua Minsk, Adam Romyn en Ahren Posthumus is die stigters van die platform. Foto: Momint

Die Momint-platform is Vrydag op sosiale media bekend gestel.

Volgens Momint is die platform daarop gemik om plaaslike skeppers – insluitend rolprentvervaardigers, kunstenaars, musikante en sportsterre – in staat te stel om hul werk regstreeks aan ondersteuners te verkoop as ’n NFT.

Digitale bates of NFT’s is sover die grootste gonswoord in tegnologie in 2021. Twitter se uitvoerende hoof, Jack Dorsey, het sy eerste twiet, “Just setting up my twttr”, onlangs vir $2,9 miljoen (R43 miljoen) verkoop.

Daar was ook ’n geveg oor die witste wit kleur en die model Emily Ratajkowski wat foto’s van haar wat deur ander kunstenaars verkoop word, weer verkoop het.

Die groot verskil met Momint is dat sy NFT’s nie met kriptogeldeenhede gekoop hoef te word nie, soos die geval is met ander aanbiedinge.

Op Momint kan jy die goeie ou rand gebruik om unieke artikels by jou gunsteling-skeppers te koop.

Belangstellendes kan hier aanmeld.

Bryan Habana is die eerste Suid-Afrikaanse sportster om ’n NFT te verkoop. Foto: Momint

Momint het die app twee weke gelede getoets met ’n veiling van ’n 3D-animasie van die rugby-superster Bryan Habana wat ’n jagluiperd jaag, wat Habana die eerste Suid-Afrikaanse sportster maak wat ’n NFT verkoop het. Die toets was ’n sukses, met 800 mense uit 25 lande wat aangesluit het en meer as R150 000 vir die Bryan Habana-stigting ingesamel het.

Momint het ook ’n paar munte met beperkte oplaag opgeveil saam met Smutby (’n eksklusiewe klub vir besluitnemers en bekendes), wat geld sal bydra tot die Dierebeskermingsvereniging se wildafdeling om te help in die nasleep van die onlangse brande in Kaapstad. Kumulatiewe verkope gedurende Momint se geslote uitreiking het oor twee dae meer as R300 000 bereik.

Volgens Momint kan NFT’s per veiling of regstreeks aan aanhangers vir ’n vaste prys verkoop word.

Die enigste koste vir die skepper is veilingsgeld van 12% of direkte verkoopsgeld van 0,5% wat Momint hef sodra dit verkoop is.

Momint, wat deur Joshua Minsk, Adam Romyn, Ahren Posthumusen en die belegger Rob Hersov gestig is, het die geld vir die projek, wat op meer as R30 miljoen gewaardeer is, uit ’n mengsel van buitelandse en plaaslike beleggers ingesamel.

“Dit was wonderlik om deel te wees van Momint se toets en om die eerste Suid-Afrikaanse sportpersoon te wees wat ’n NFT verkoop. NFT’s doen regtig goed vir atlete, veral in die VSA, en hulle bied ’n opwindende manier vir sportlui en musikante om hul werk te kommersialiseer en iets te verdien daaruit, ” het Habana gesê.

Vandag op Momint is daar NFT-aanbiedinge van Habana en AB de Villiers, die musikante Goldfish en The Kiffness, die beïnvloeder Diipa Khosla en die rolprentvervaardiger Dan Mace.

SA het nou sy eie platform om NFT’s (digitale bates) te verkoop. Foto: Momint
Meer oor:  Nft  |  Kuns  |  Kunsveilings  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.