Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Nog geen einde in sig vir SA se stadige internet
Die Franse skip die Léon Thévenin wat gestuur gaan word om die ondersese kabels te herstel. Die skip is egter nog in Kaapstad se hawe vasgemeer. Foto: Wikipedia

Die Léon Thévenin, die skip wat herstelwerk aan twee ondersese kommunikasiekabels moet doen wat die internet na Suid-Afrika bring, was Maandagmiddag steeds in die Kaapse hawe vasgemeer.

Dié skip is groot dele van die vasteland se enigste hoop om die spoed van die internet weer na normaal te laat terugkeer.

Die SAT-3/WASC- en die Wacs-kabels het Donderdag byna gelyktydig gebreek, wat tot ’n ernstige vermindering in internetspoed in Suid-Afrika gelei het.

’n Stormsterk suidooster het oor die naweek ook gekeer dat die Léon Thévenin die hawe kon verlaat om die kabels dringend te gaan herstel.

Die nodige onderdele sal Maandagaand ook eers gelaai word voor die skip kan vertrek.

Dit gaan eers die kus van die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) aandoen om die Wacs-kabel sowat 3 750 m onder die oppervlak te herstel.

Daarna sal die skip vaar na Gaboen waar die SAT-3/WASC-kabel langs die kus naby die hoofstad, Libreville probleme gee.

Die onderbrekings met die kabels is van so ’n ernstige aard dat Namibië ’n dag lank sonder internet was.

Die hele land se internet was Vrydag minstens 24 uur lank afgesny, berig The Namibian.

Telecom Namibia het intussen internetverkeer na die ooskus van Afrika herlei en internettoegang herstel.

gebreekte internetkabels
Grafika24

Alternatiewe opsies gevind

Suid-Afrikaanse internetdiensverskaffers was ook intussen genoop om alternatiewe opsies te vind om aan gebruikers se internetbehoeftes te voldoen.

Sowel Afrihost as Webafrica het bykomende kapasiteit op van die oorblywende ondersese kommunikasiekabels na Suid-Afrika aangeskaf en oor die afgelope paar dae in werking gestel.

Volgens Afrihost hoop hy om spoedig sy dienste “so na as kan aan normaal” te herstel.

Webafrica waarsku egter dat die bykomende vermoë wat hy op die kabel tussen Brasilië en Angola (en uiteindelik Johannesburg) aangeskaf het, eers teen Dinsdag in werking gestel sal word.

Suid-Afrika word deur minstens ses belangrike ondersese kommunikasiekabels aan die internet verbind.

  • Seacom, aan die ooskus van die vasteland, verbind Mtunzini in KwaZulu-Natal met Marseille in Frankryk en bied ’n totale kapasiteit van 12 teragrepe per sekonde.
  • Die SACS-kabel tussen Brasilië en Angola het ’n kapasiteit van 40 teragrepe per sekonde.
  • Die EASSy-kabel tussen Mtunzini en Port Soedan se vermoë is 10 teragrepe per sekonde.
  • Die Ace-kabel tussen Frankryk en Yzerfontein bied ’n kapasiteit van 5 teragrepe per sekonde.

Met die SAT-3/WASC- en Wacs-kabels buite werking, is Suid-Afrika ’n totale vermoë van meer as 15 teragrepe kwyt.

Omdat die presiese fout(e) met die kabels nog nie bepaal kon word nie, is daar nie duidelikheid oor wanneer dit volkome herstel sal wees nie.

Trouens, die Wacs-kabels het op twee plekke gebreek: naby die kus van die DRK én naby Brittanje. Daar word verwag dat dié kabel eers op die vroegste teen vroeg Februarie herstel sal wees.

Die Wacs-kabel is 14 530 km lank en op 12 plekke aan die vasteland van Afrika verbind. Sy eindpunt (en Suid-Afrikaanse verbinding) is by Yzerfontein in die Wes-Kaap.

Dit word deur ’n konsortium van 12 maatskappye besit, waaronder MTN, Vodacom en Telkom.

Die kabelprobleme het nie net tot stadige internet gelei nie, maar Twitter het ook oor die naweek in Suid-Afrika gelol. Twitterati was Saterdag boos nadat die diens ’n tyd lank nie hier of in sommige van Suid-Afrika se buurlande gewerk het nie.

Die fout hou klaarblyklik verband met die probleme met die kabels.

“Herstelwerk aan ondersese kabels is ingewikkeld en kan tydrowend wees,” het Openserve, Telkom se afdeling vir groothandelsdienste, Saterdag in ’n verklaring gewaarsku.

Probleme met stadige internet blyk die meeste Suid-Afrikaanse internetdiensverskaffers te raak.

Afgesien van Afrihost en Webafrica het Axxess en Cool Ideas óf bykomende vermoë aangeskaf óf verkeer via Johannesburg eerder as Yzerfontein herlei.

Dit beteken die latensie (dus die vertraging in oordrag van data op die netwerk) sal styg vir gebruikers in Kaapstad omdat inligting nou via Johannesburg uiteindelik aan die wêreldwye web verbind.

Meer oor:  Internet  |  Ondersese Kabels  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.