Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Nóg ’n flater maak dat jy iPhones kan afluister
’n Fout met Apple Watch het dit moontlik gemaak om toegang tot die mikrofoon van ’n iPhone sonder toestemming te verkry. Foto: Unsplash

Apple het inderhaas ’n funksie soortgelyk aan ’n tweerigtingradio op sy horlosie buite werking gestel omdat dit gebruik kon word om ander gebruikers sonder toestemming af te luister.

Die ingeboude Walkie-Talkie-app in die Apple Watch laat gebruikers wat toestemming verleen het toe om met mekaar deur middel van hul horlosies te gesels.

’n Gogga het egter veroorsaak dat ’n gebruiker teoreties die Walkie-Talkie-funksie kon misbruik om toegang te verkry tot die mikrofoon op iemand se iPhone, in plaas van net sy Apple Watch soos oorspronklik bedoel.

In ’n verklaring sê Apple hy het “bewus geword” van die probleem met die Walkie-Talkie-app en het dit daarom gedeaktiveer totdat hy ’n permanente oplossing kan vind.

Volgens die BBC is daar geen aanduiding dat iemand die fout met die app doelbewus uitgebuit het nie. Apple meen dit sou ’n “spesifieke reeks gebeure” geverg het vir ’n gebruiker om die fout uit te buit en toegang tot ’n ander persoon se iPhone-mikrofoon te kry.

LEES OOK: Gogga laat iPhone-eienaars in koue sweet uitbars

Die tegnologiereus het in Januarie ook onder skoot gekom nadat ’n 14-jarige Amerikaner ’n soortgelyke fout met Apple se FaceTime-app ontdek het.

Grant Thompson het ontdek gebruikers kon via die FaceTime-app ook toegang tot die mikrofoon van ’n ander gebruiker se iPhone kry – sonder toestemming.

Apple het ook dié fout erken en ’n nuwe weergawe van die FaceTime-app uitgereik wat dit regstel.

Apple het Thompson vergoed en aangebied om sy universiteitsgeld te dek.

Meer oor:  Apple  |  Apple Watch  |  Iphone  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.