Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Nóg ’n terugslag vir die video-app Zoom

Google het Woensdag sy werknemers verbied om Zoom te gebruik weens kommer oor veiligheid.

Zoom word daagliks deur meer as 200 miljoen mense gebruik.Foto: Reuters

Zoom, ’n app vir videokonferensies, se getal gebruikers het in die laaste paar weke met etlike miljoene toegeneem weens die Covid-19-pandemie wat noodsaak dat mense van die huis af werk. Hooggeplaaste regeringsamptenare gebruik dit ook om vergaderings te belê.

Zoom Video Communications, die genoteerde maatskappy wat die Zoom-app ontwikkel, het egter onder skoot gekom vir sy skynbare laksheid wat die veiligheid van sy diens betref. Gesprekke op Zoom word byvoorbeeld nie gekodeer nie, wat beteken die maatskappy (of ’n kuberkraker) kan dit tegnies onderskep.

Gesprekke op apps soos Messenger of Instagram is ook nie gekodeer nie.

Zoom Video Communications word nou deur een van sy aandeelhouers gedagvaar en daarvan beskuldig dat hy die “foute” in sy veiligheid doelbewus probeer versteek het.

Zoom het glo ook gebruikers se inligting sonder toestemming aan derdepartye, insluitend Facebook, gegee.

Eric Yuan, uitvoerende hoof, het reeds toegegee die maatskappy kon meer gedoen het om die veiligheid van gesprekke op Zoom te verseker, maar bygevoeg die app is nie meer onveilig as enige van sy mededingers nie.

Nóg ’n risiko van Zoom-gesprekke was sogenaamde “Zoombombing” waardeur iemand onregmatig toegang tot ’n vergadering kry en onsedelike aanmerkings maak en weer die gesprek verlaat.

Dié risiko is intussen uit die weg geruim, sê Yuan. Zoom het begin om vergaderings met ’n wagwoord te beskerm en om te vereis dat enigiemand wat by ’n vergadering wil aansluit eers in ’n digitale wagkamer moet wag.

Die maatskappy beplan ook om eersdaags ’n nuwe weergawe van sy diens met bykomende kodering van videogesprekke beskikbaar te stel.

Nietemin het ’n hoërskool in die Amerikaanse deelstaat Kalifornië in ’n brief aan ouers gesê hulle gaan nie meer Zoom gebruik nie nadat ’n “kaal volwasse man” toegang tot ’n vergadering gekry het en rassistiese aanmerkings kwytgeraak het. Dié vergadering was met ’n wagwoord beskerm, voer die skool aan.

Zoom het nie op die beweringe gereageer nie. Die skool het toegegee iemand in die vergadering kon moontlik die wagwoord met die indringer gedeel het.

Miljoene skole het begin om Zoom te gebruik om klasse aanlyn voort te sit. Ander opsies sluit ook in Google Classroom en Microsoft Teams.

“In vergelyking met ons mededingers is Zoom veilig om te gebruik,” sê Yuan.

“Ons is daartoe verbind om beter te wees en die hoogste standaard te handhaaf wat veiligheid en privaatheid betref.”

Elon Musk se Tesla het ook verlede week die gebruik van Zoom verbied weens kommer oor die veiligheid daarvan.

Meer as 200 miljoen mense het Zoom daagliks begin gebruik sedert die Covid-19-pandemie dwarsoor die wêreld begin versprei het. Voorheen het ’n gemiddeld van sowat 25 miljoen mense dit per dag gebruik.

Zoom het intussen ook Alex Stamos as hoof van veiligheid aangestel. Stamos was voorheen in dieselfde posisie by Facebook.

Meer oor:  Google  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Werk Van Huis Af  |  Zoom  |  Sosiale Media  |  Inperking  |  Covid-19  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.