Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Nou kan jy ook in SA met jou Fitbit, Garmin betaal

FNB-kliënte met sekere Fitbit- of Garmin-fiksheidshorlosies sal voortaan met dié toestelle kan betaal.

Die Fitbit Ionic (regs) en Versa is versoenbaar met Fitbit Pay. Foto: Fitbit

Dié aankondiging Donderdagoggend kom net ’n paar dae nadat Absa aangekondig het sy kliënte sal die eerstes in Suid-Afrika word wat met Samsung Pay kan betaal. Nedbank het ook pas sy Money-app bygewerk om alle QR-gedrewe betalingsmetodes, soos SnapScan en Zapper, op een plek te kan doen.

FNB het reeds die funksie FNB Pay, ’n app wat jou in staat stel om met jou slimfoon by ’n kontaklose betaalpunt te betaal.

Die nuwe betaalmetodes beteken FNB Pay-kliënte hoef nie meer hul krediet- of debietkaarte of kontant by hulle te dra nie.

Hoe werk dit?

  • Kies die betaalfunksie op jou slimhorlosie (Fitbit Pay of Garmin Pay).
  • Tik die slimhorlosie by die kontaklose betaalpunt – presies soos wat jy jou kontaklose kaart of jou slimfoon met FNB Pay sou tik.

Jason Viljoen, FNB se hoof van digitale betalings, sê die fiksheidshorlosie-opsie vul hul digitale oplossings aan om dinge vir kliënte selfs geriefliker te maak.

Hy is oortuig dat die nuwe oplossing goed ontvang sal word. “Vir mense wat reeds hul fiksheidshorlosies in hul alledaagse lewe gebruik, vul dié nuwe betaaloplossing hul aktiewe leefstyl aan deur bykomende gerief en veiligheid.”

Is dit veilig?

FNB verseker dat betalings via Fitbit en Garmin veilig is.

  • Veelvuldige veiligheidseienskappe sluit in enkripsie en sogenaamde tokenization, ’n stelsel wat sensitiewe data verander in kodes wat nie misbruik kan word nie.
  • Geen kaartbesonderhede word met Fitbit en Garmin gedeel nie.
  • As ’n bykomende veiligheidsmaatreël sal mense ’n wagwoord moet intik as hulle hul fiksheidshorlosies afgehaal het en weer terugplaas voordat hulle daarmee kan betaal.
  • Die toestel bly 24 uur lank gemagtig vir betalings vandat die betaalfunksie gekies is of totdat die horlosie afgehaal word.
  • Transaksies van ’n sekere waarde (FNB spesifiseer nie wat die bedrag is nie) sal ook vereis dat die PIN van die kaart ingevul moet word.
  • Wanneer kliënte hul bankkaart die eerste keer met die Fitbit- of Garmin-app op hul foon verbind, sal hulle ’n eenmalige wagwoord deur die FNB-app, of per SMS of e-pos ontvang.

Viljoen herinner mense om nooit hul kaart se PIN of die wagwoord van hul slimhorlosie met ander mense te deel nie.

Wie het toegang daartoe?

Enige bestaande FNB- of RMB-kaarthouer met ’n Fitbit of Garmin wat wel die betaalfunksie het.

Watter toestelle het Fitbit Pay of Garmin Pay?

  • Garmin: D2 Delta S, D2 Delta, D2 Delta PX, Fenix 5S Plus, Fenix 5 Plus, Fenix 5X Plus, Forerunner 645, Forerunner 645 Music, Vívoactive 3 en Vívoactive 3 Music
  • Fitbit: Ionic en Versa

Mense wat met die slimhorlosies betaal, sal die transaksies op die slimhorlosies se app kan sien, sowel as op hul FNB-app.

Dié Garmin-reekse is versoenbaar met Garmin Pay. Van links is die ’n Delta, Fenix, Forerunner en Vívoactive 3. Foto: Garmin
Meer oor:  Fnb  |  Garmin  |  Fitbit  |  Slimhorlosies  |  Tegnologie  |  Fiksheidsbandjies  |  Apps  |  Banke  |  Betalings  |  Bankbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.