Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Nuwe app: Betaal sommer met jou kar vir petrol

Kontantlose betalings is nou al ’n geruime tyd met ons, maar wat as jy nie eens by ’n vulstasie jou kaart of foon hoef uit te haal nie?

Petrol
Gebruik jou kar om met FastLane te betaal. Foto: Unsplash

Payment24, ’n Kaapse tegnologiefirma waarvan Standard Bank 40% besit, het ’n nuwe stelsel ontwikkel waarmee jou kar die “betaalwerk” doen wanneer jy petrol ingooi.

Hoe werk dit?

Die FastLane-stelsel gebruik kameras en kunsmatige intelligensie (KI) om die voertuig se registrasienommer, fabrikaat, model en kleur na te spoor terwyl dit na die vulstasie ry. Dié data word na die Payment24-wolk gestuur, en as die voertuig in die stelsel geregistreer is, kan jy brandstof ingooi.

’n Kennisgewing word na die FastLane-app vir bestuurdersverifikasie en -magtiging gestuur.

Die pomp sal die brandstoftoewysing vrystel en die betaling word outomaties afgetrek en ’n kwitansie word via die app gestuur.

Gewone verbruikers kan die tegnologie benut, maar dit kan ook die prosesse bespoedig vir petroleummaatskappye en maatskappye wat hul eie vloot bestuur, en die risiko vir diefstal en bedrog verminder.

FastLane kan amper as biometriese data vir voertuig beskryf word. So in plaas van jou vingerafdruk, jou oog of liggaamsbeweging gebruik die stelsel jou kar se unieke aspekte.

Shadab Rahil en Nolan Daniel, gesamentlike uitvoerende hoofde van Payment24, meen dat FastLane nog ’n sekerheidsvlak tot Payment24 se portefeulje van meer as 20 oplossings vir brandstof- en vlootbestuur toevoeg.

“Dit bied aan vulstasie-eienaars, vlootbestuurders en selfs individuele verbruikers groter doeltreffendheid en ’n beter ervaring, terwyl die bykomende voordeel is dat bestuurders en petroljoggies nie aan kaarte of sleutelborde hoef te raak om betalings tydens die Covid-19-pandemie te doen nie.”

Daniel sê: “Ons beweeg na ’n situasie waarin die voertuig die betaalmeganisme word. Dit skakel die tyd en moeite uit wat tradisioneel nodig was om ’n voertuig te vul.

“Met behulp van gevorderde algoritmes en kunsmatige intelligensie het ons dit vinniger en veiliger per motor gemaak as om iets soos ’n vlootkaart te gebruik.”

Die FastLane-oplossing is ontwerp vir toestande in die hele Afrika en is ook energiedoeltreffend. Dit kan aflyn ook gebruik word.

“Deurlopende verbinding is nie nodig om transaksies goed te keur nie, en dit is ideaal vir plekke soos landelike vulstasies oor Afrika heen wat beperkte verbinding het,” sê Rahil.

Volgens Payment24 word FastLane eersdaags by sommige BP-vulstasies in gebruik geneem. Gesprekke met ander vulstasies en banke duur voort.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.