Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Nuwe Apple Watch sal jou beursie laat skrik
Die nuwe Apple Watch Series 4 spog met die grootste skerm nóg op 'n slimhorlosie. Foto: Getty Images

Het jy R8 000 wat jou sak brand?

Dan is die splinternuwe Apple Watch Series 4 net die ding vir jou. Dit word aanstaande week in Suid-Afrika uitgereik.

iStore, die Suid-Afrikaanse Apple-winkel, het bekend gemaak dat die Series 4 plaaslik R8 000 gaan kos vir die “vroulike” 40 mm-weergawe, terwyl die “manlike” een van 44 mm R8 600 kos.

Dit maak dié peperduur slimhorlosie se prys minstens R2 500 meer as sy voorganger, die Series 3, drie jaar gelede.

Die Series 4 word op 28 September in Suid-Afrika en in verskeie ander lande uitgereik. Dit is op Apple se jaarlikse konferensie op 12 September by sy hoofkantoor in Kalifornië bekend gestel.

Die Series 4 se skerm is 30% groter as sy voorgangers s’n en is gemaak van gevorderde OLED-tegnologie. Laasgenoemde is waarskynlik die rede vir die horlosie se hoë prys.

Ander gevorderde funksies van die Series 4 sluit in ’n ingeboude elektrokardiogram wat jou hart se elektriese aktiwiteit meet, asook sensors wat sal agterkom as jy val.

Lees hier meer oor die horlosie se nuwe funksies.

Twee weergawes van die Series 4 word in ander lande uitgereik, waaronder Amerika. Die (nog) duurder weergawe bevat ’n ingeboude eSimkaart wat beteken gebruikers kan oproepe daarmee maak, selfs al is hul iPhone nie naby nie.

Dié weergawe word nie plaaslik uitgereik nie, het ’n verteenwoordiger van iStore bevestig.

Tariewe en invoerbelasting ruk ook Suid-Afrikaners se sak.

Tariewe en invoerbelasting ruk ook Suid-Afrikaners se sak. Die Series 4 (sonder die eSim) kos $399 in Amerika (sowat R6 000) terwyl die prys hier R8 000 of meer beloop.

Die iStore bied wel ’n program waardeur kopers hul ou Apple Watch kan inruil en afslag van tot R2 400 kry op ’n Series 4.

Dié afslagbedrag is onderhewig aan streng bepalings en voorwaardes, sê iStore. Dit sluit in dat jou huidige horlosie deur ’n verteenwoordiger van iStore ondersoek word.

Daar is ook opsies om die horlosie teen ’n spesiale maandelikse tarief aan te skaf vir diegene met ’n FNB-kredietkaart.

Series 4 ook op Vitality

Intussen het Discovery aan MyBroadband bevestig dat die Series 4 binnekort deel gaan wees van sy Vitality-program.

As beloning vir ’n aktiewe leefstyl bied Discovery reeds ’n geruime tyd ’n Apple Watch aan sy Vitality-lede aan.

Volgens Craig Nossel, hoof van Vitality, gaan die mediese fonds binnekort bekend maak presies hoe lede ’n nuwe Series 4 so te sê verniet kan kry en watter mikpunte hulle daarna weekliks sal moet behaal.

Meer oor:  Apple  |  Istore  |  Fiksheidsbandjies  |  Slimhorlosies  |  Oefening  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.