Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
‘Nuwe DStv’: Meer Afrikaans, belonings vir TV kyk

’n Nuwe Explora-dekodeerder, ’n lojaliteitsprogram en ’n afsonderlike pakket net vir flieks is van die opwindende aankondigings wat MultiChoice Woensdag aangekondig het.

Besonderhede oor die onderskeie aankondigings is nog skraps, maar dit is wat ons tot dusver weet.

1. Nuwe Explora

’n Nuwe Explora-dekodeerder, die Explora Ultra, sal binnekort beskikbaar wees. Dit sal al dieselfde funksies as die bestaande Explora bied, maar met ’n ingeboude WiFi toegerus wees.

MultiChoice het Woensdag verskeie nuwe opwindende dinge aangekondig wat na DStv kom.

Die nuwe Explora sal ook “regstreeks toegang bied tot ’n verskeidenheid platforms se inhoud,” maar MultiChoice het Woensdag geen melding gemaak of Netflix ook daarby ingesluit is nie.

Die Explora Ultra sal die stroming van inhoud oor die internet sowel as tradisionele televisie via satelliet toelaat.

MultiChoice het vroeër vanjaar gesê hy het reeds ’n vennootskap aangegaan met Netflix en Amazon, waarvolgens dié dienste by sy nuwe dekodeerder ingesluit sal word (saam met Showmax, DStv Now en die musiekstromingsdiens Joox).

Die Mededingingskommissie het egter intussen bevestig hy ondersoek die besonderhede van MultiChoice en Netflix/Amazon se ooreenkoms omdat dit dalk die maatskappy ’n monopolie kan bied omdat dit soveel dienste op een platform aanbied.

Dit is waarskynlik weens dié ondersoek dat MultiChoice Woensdag geen melding van Netflix of Amazon as deel van die Explora Ultra gemaak het nie.

LEES OOK: DStv dalk vasgevat oor sy planne met Netflix, Amazon

2. ’n Nuwe toestel net vir stroming

Afgesien van die Explora Ultra het MultiChoice ook ’n nuwe stromingstoestel aangekondig.

DStv Streama sal soortgelyk werk as ’n MiBox of Mediabox en koppel direk aan ’n televisie en verbind dit so aan die internet.

Die vermoede is dat dié toestel toegang tot dieselfde stromingsdienste as die Explora Ultra sal bied.

By Woensdag se aankondiging is Netflix en Amazon se Prime-diens nie as deel daarvan aangedui nie.

3. ’n Eie lojaliteitsprogram

Woensdag is vinnig melding gemaak van ’n nuwe lojaliteitsprogram wat DStv aan al sy kykers sal bied.

Besonderhede is nog min, maar volgens die aankondiging gaan kykers punte of belonings ontvang bloot deur meer televisie te kyk.

Die punte word binne sy app toegeken. Die maatskappy sê hy sal later meer besonderhede oor DStv Rewards bekend maak.

4. Stokvels kan saamwerk

MultiChoice het Woensdag ook ’n nuwe inisiatief genaamd DStv Community aangekondig. Eweneens was die aankondiging lig aan besonderhede, maar basies sal lede van gemeenskaplike spaarprogramme soos stokvels hul DStv-rekeninge daardeur betaal en vermoedelik afslag geniet.

5. Afsonderlike pakket vir fliekkanale

Intekenare van DStv se Compact Plus en goedkoper pakkette (insluitend Compact, Family en Access) kan voortaan teen ’n bykomende R99 per maand toegang kry tot drie van DStv se nuwe fliekkanale.

Al dié fliekkanale is ieder geval aan intekenare van DStv se duurste Premium-pakket beskikbaar.

MultiChoice het onlangs aangekondig hy gaan sy aanbod fliekkanale van ses tot vier verminder plus ’n afsonderlike Afrikaanse fliekkanaal, FliekNet.

Teen R99 ekstra sal intekenare van Compact Plus en ander, goedkoper pakkette toegang tot drie daarvan geniet, insluitend FliekNet.

6. Meer Afrikaans op Showmax

MultiChoice het ook bevestig hy beplan om spesiaal vir Showmax meer oorspronklike inhoud in Afrikaans te vervaardig.

Volgens die maatskappy is die segment van sy kykers “ontsettend belangrik” vir hom en daarom wil hy in meer Afrikaanse inhoud belê.

Meer oor:  Dstv  |  Multichoice  |  Showmax  |  Tegnologie  |  Televisie  |  Betaaltelevisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.