Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Nuwe era vir vuurpyle ná SpaceX se sukses

SpaceX van Elon Musk het Donderdag sy grootste vuurpyl suksesvol gelanseer en boonop weer die drie hoof-aandrywingsvuurpyle op ’n tiekie laat land – reg om weer gebruik te word.

Die 70 m hoë SpaceX Falcon Heavy-vuurpyl staan Donderdag gereed op die lanseerbaan op Cape Canaveral, Florida in die VSA. Dié vuurpyl is nou die grootste operasionele een ter wêreld en is beduidend goedkoper om te gebruik danksy sy dele se vermoë om ná elke lansering die ruimte in na die Aarde terug te keer en weer vir sendings gebruik te word.Foto: Reuters

Die Falcon Heavy, wat tans die wêreld se grootste operasionele vuurpyl is, het Donderdag ’n kommunikasie-satelliet vir die Saoedi-Arabiese maatskappy Arabsat die ruimte ingeneem.

Dié satelliet sal nou internet- en televisiedienste aan gebruikers in Afrika, Europa en die Midde-Ooste verskaf.

Maar die vuurpyl is nie net spesiaal vanweë sy grootte en vermoë om enorme vragte te dra nie.

Die Falcon Heavy bestaan uit een kern-vuurpyl en twee aanjaers. Al drie is eintlik vuurpyle uit eie reg en is op SpaceX se reeds suksesvolle Falcon 9-weergawe geskoei.

Die Falcon Heavy kan enorme vragte van tot 64 ton die ruimte inneem én hy kan dit beduidend goedkoper doen omdat al drie die vuurpyle weer gebruik kan word.

Soos die Falcon 9 keer die Heavy-weergawe ná elke sending terug na die lanseerblad, waarna dit vir verdere sendings gereed gemaak kan word.

Dit maak ruimtevlugte aansienlik goedkoper vir regerings en maatskappye oor die wêreld heen.

Hoewel SpaceX al jare sy Falcon 9’s ná sendings laat land, was die Falcon Heavy ’n baie uitdagender proses.

SpaceX het in 2018 die Falcon Heavy getoets op ’n enorme mediagebeurtenis toe Musk, stigter en uitvoerende hoof van die maatskappy, sy eie Tesla- elektriese motor met die vuurpyl die ruimte ingestuur het as bewys van die vuurpyl se vermoë om groot vragte te kan hanteer.

Dié motor dryf tans in ’n wentelbaan om die Son met ’n SpaceX-pop in uniform op die passasiersitplek.

Op dié geleentheid het die kern-vuurpyl, wat lank ná die aanjaers teruggekeer het Aarde toe, nie suksesvol geland nie.

Op Donderdag se vlug het al drie vuurpyl-dele van 23 verdiepings hoog veilig na die Aarde teruggekeer. Waar die twee aanjaers gelyk terug op die lanseerblad in Florida se Cape Canaveral geland het, moes die kern-vuurpyl langer vlieg om die vrag tot in die ruimte te neem voordat dit na die Aarde kon terugkeer.

Dus het dié deel homself gevlieg tot by ’n onbemande skip, sowat 645 km oos van die Florida-kuslyn, waarop die die vuurpyl kon land.

Musk het ná die suksesvolle landing getwiet: “Die Falcons het geland,” terwyl sy werknemers op ’n regstreekse uitsending op YouTube van trots gejubel het.

Vir SpaceX is dit ’n groot oorwinning omdat dit sy kanse vir uiters winsgewende militêre kontrakte nou beduidend verbeter het.

Al drie vuurpyl-dele van Donderdag se sending sal nou voorberei word vir juis só ’n kontrak wat in die middel van die jaar ’n menigte militêre wetenskapsatelliete sal vervoer.

Volgens die Amerikaanse weermag is die Falcon-vuurpyle dus nou weermag-gesertifiseer, wat miljarde broodnodige dollars vir SpaceX kan beteken.

Vir SpaceX is die volgende toets om in Julie daarin te slaag om ’n suksesvolle bemande vuurpyl vir die Amerikaanse weermag, genaamd Crew Dragon, te lanseer. Indien dit suksesvol is, sal dit die hernuwing van kontrakte vir gereelde vlugte na veral die Internasionale Ruimestasie vir SpaceX verseker.

Ongeag dié kontrakte het die Aarde nou goedkoper en meer beskikbare toegang tot die grootste vragkapasiteit vir die ruimte nog. – Reuters, verwerk

Meer oor:  Spacex  |  Elon Musk  |  Ruimtevaart  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.