Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Nuwe fone om oor opgewonde te raak in 2020

2020 beloof om ’n jaar van groot aankondigings te wees in die slimfoonbedryf.

Al die bekendste vervaardigers gaan na verwagting nuwe vlagskipfone uitreik – en die mededinging om as die markleier gekroon te word, raak al hoe strawwer.

Hier is vyf toestelle wat ons nie kan wag om te sien nie.

Samsung se eerste voubare foon, die Galaxy Fold. Foto: Getty Images

   

Samsung Galaxy Fold 2

   

Samsung se eerste voubare foon sal in die geskiedenisboeke as ietwat van ’n flater beskou word.

Dié foon se bekendstelling is telkens uitgestel namate nóg foute met dié ontluikende (en peperduur) stuk tegnologie ontdek is.

Samsung het hopelik uit sy foute geleer met sy Fold 2 wat na verwagting later vanjaar gaan verskyn.

Die skindertonge klap dat die Suid-Koreaanse selfoonvervaardiger hard werk aan ’n voubare skerm waar geen naat sigbaar is nie. Die raam en skarnier sal glo ook stewiger wees.

Daar is egter nog geen nuus oor die prys van die Fold 2 nie.

Die Fold 1, wat glo uitverkoop is, het meer as R45 000 gekos.

   

Samsung Galaxy S11

   

Samsung begin gewoonlik die nuwe jaar met die bekendstelling van sy jongste Galaxy-foon.

Die verwagting is dat hy oudergewoonte weer einde Februarie sy nuwe Galaxy S11 gaan uitreik.

Dié toestel sal na verwagting ’n enorme kamera van 108 MP hê, as die skinderstories geglo kan word.

Nóg ’n nuttige funksie waaroor die S11 glo gaan beskik, is ’n spektrometer. Dit sal die gebruiker in staat stel om onder meer die voedingswaarde van kos te bepaal deur eenvoudig ’n foto van ’n gereg te neem.

Apple reik na verwagting twee nuwe iPhones vanjaar uit. Foto: Unsplash

   

Minstens twee nuwe iPhones

   

Jy sal dalk nie weer tot einde September hoef te wag vir ’n nuwe iPhone nie.

Gerugte doen die ronde dat Apple beplan om sommer vroeg in die jaar sy nuwe SE-model bekend te stel.

Daar word bespiegel dat die iPhone SE 2 nie so klein gaan wees soos sy voorganger, wat in 2016 uitgereik is, nie.

Die grootte gaan glo vergelykbaar wees met die iPhone 8. Die nuwe SE sal wel dieselfde kragtige skyfie as iPhone se nuutste modelle bevat.

Die iPhone 12 is wel ook op pad. Dié foon sal na verwagting oudergewoonte in die laaste kwartaal van die jaar uitgereik word.

Besonderhede is nog skraps, maar ontleders verwag dat Apple weer ’n haas uit die hoed gaan pluk en ’n iPhone gaan bekendstel wat totaal anders lyk as enige van sy voorgangers.

Huawei se P30 Pro. Foto: Getty Images

   

Huawei P40 Pro

   

Huawei gaan in 2020 voortgaan om indrukwekkende slimfone te skep, ongeag sy voortslepende kopstamp met Amerikaanse owerhede.

Die P30 Pro van 2019 het reeds grense verskuif op die gebied van selfoontegnologie, en die verwagting is dat die P40 dieselfde gaan doen.

Daar is nog bitter min besonderhede oor die nuwe foon beskikbaar, behalwe dat die P40 Pro glo vyf kameralense gaan hê.

Die P30 Pro het tans vier lense (afgesien van die selfie-kamera).

Huawei het reeds bevestig dat die P40 ook sy eerste vlagskipfoon gaan wees wat nie Google se dienste gaan bied nie.

Die foon sal wel steeds van die Android-bedryfstelsel gebruik maak, maar sal nie van enige van Google se apps soos Maps of YouTube bevat nie.

Die nuwe foon word na verwagting in Maart uitgereik.

Die nuwe Motorola Razr. Foto: Motorola

    

Wie reik nog nuwe fone uit?

   

Hoewel Samsung, Huawei en Apple die grootste rolspelers in die bedryf is, veral in Suid-Afrika, reik ander maatskappye ook nuwe spogfone deur die loop van die jaar uit.

Motorola beplan opvolgers vir sy nuwe Razr- en Moto G8-reeks.

Dit sluit ’n nuwe voubare foon in.

Anders as Huawei of Samsung se voubare fone wat soos ’n boek oop- en toevou, vou Motorola se nuwe Razr-reeks van bo na onder – baie soos ’n klapfoon van ouds.

Xiaomi stel ook na verwagting sy nuwe vlagskipfoon, die Mi 10, later bekend. Die Mi 9 is uitstekend ontvang, ook in Suid-Afrika waar dit reeds geruime tyd beskikbaar is.

Meer oor:  Samsung  |  Apple  |  Huawei  |  Slimfoon  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.