Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Nuwe iPhone X Max glo duurste nóg
Die nuwe iPhone gaan glo meer as $999 kos, wat dit die duurste iPhone tot nog toe maak. Foto: Getty Images

Maak solank ’n afspraak met jou bankbestuurder, want Apple se nuwe iPhone wat hy Woensdag bekend stel, gaan na verwagting die duurste een tot nog toe wees.

Ontleders op Wall Street is opgewonde oor die prysstygings van Apple se jongste produkte en die impak wat verkope op die maatskappy se aandeelprys kan hê.

Die tegnologiereus se markwaarde het reeds die $1 000 miljard-kerf verbygesteek en die uitdaging vir Apple is om dié momentum te behou namate die vraag na nuwe slimfone afplat.

Een manier waarop hy dit kan doen, is om mense te oortuig om nóg meer vir ’n nuwe foon te betaal.

“Daar is niks werklik vernuwend op die spel nie,” sê Hal Eddins, hoofekonoom by Capital Investment Counsel, met verwysing na die drie iPhones wat Apple na verwagting Woensdag gaan aankondig.

“Dit bly ’n kwessie van mense aanspoor om aan te hou nuwe fone koop.”

Apple se nuwe vlagskipfoon, die iPhone X Max, het ’n reuseskerm van 16,5 cm en sal volgens ontleders enigiets tussen $1 049 en $1 099 kos.

Teen die huidige wisselkoers is dit enigiets tussen R15 800 en R16 550, uitgesluit invoerkoste.

Verlede jaar se iPhone X het $999 gekos met sy bekendstelling. Dit kos meer as R20 000 in Suid-Afrika.

’n Tweede foon wat Woensdag bekend gestel word, is die iPhone Xs, ’n kloon van die X, maar met ’n beter verwerker.

Die derde model het ontleders se belangstelling behoorlik geprikkel. Die iPhone Xc, of die iPhone 9 (die naam is nog nie bevestig nie), sal Apple se eerste “meer bekostigbare” foon wees.

Dié foon se skerm is van goedkoper LCD-tegnologie in plaas van die meer byderwetse, maar duurder, OLED-tegnologie.

Die iPhone Xc gaan wel soos die iPhone X lyk eerder as soos die iPhone 8, wat op sy beurt weer nes 2016 se iPhone 6 lyk.

Daar word verwag dat die iPhone Xc sowat $699 (sowat R10 500 voor invoerkoste) sal kos, ’n aansienlike bedrag vir ’n sogenaamde “intree-foon”.

Apple wou nie kommentaar lewer op die gerugte nie.

Die maatskappy gaan om 19:00 (SA tyd) die bekendstelling van sy nuwe produkte regstreeks op sy webwerf en Twitter uitsaai. – Reuters, verwerk

Meer oor:  Apple  |  Slimfoon  |  Iphone X Max  |  Iphone  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.