Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Nuwe Mr D Food sê kosaflewering kóók

Die spoed waarteen Suid-Afrikaners apps aanvaar om mee kos te bestel, het selfs hulle verbaas, sê Devin Sinclair (33), hoof van die nuwe Mr D Food, wat uit die ou Mr. Delivery omskep is.

  

Devin Sinclair (33), hoof van die nuwe Mr D Food. Foto: Verskaf

Sedert Mr D Food se app ses maande gelede bekendgestel is, is dit 200 000 keer afgelaai en daar vind nou al 100 000 bestellings per maand deur die app plaas.

Volgens hom het 80% van Mr. Delivery se kosbestellings verlede jaar Junie nog oor die foon plaasgevind en ’n jaar later vind 95% van alle bestellings deur die app plaas.

“Dit stem ooreen met die tendens wat ons orals in die wêreld sien dat die aanlyn bestelling van kos besig is om skerp toe te neem.”

Volgens hom glo hulle dit is baie realisties dat die getal mense wat die app afgelaai het in die komende ses maande gaan verdubbel tot 400 000 aan die einde van die jaar.

Die 25 jaar oue Mr. Delivery het onlangs ’n nuwe handelsmerk in splinternuwe kleure gekry

omdat hulle ’n “vars gesig wou sit op wat eintlik ’n heeltemal nuwe onderneming is”.

Sinclair sê die reis na die nuwe Mr D Food het in 2014 begin toe Takealot – wat voorheen ’n belang in hulle gehad het – die maatskappy ten volle bekom het.

Dit was net voor Takealot se samesmelting met Kalahari.com.

Só bestel jy op Mr D Food. Foto: Verskaf

Sinclair, ’n geoktrooieerde rekenmeester wat ’n MBA in e-handelstrategie van die Universiteit van Cambridge hett, het in Januarie 2015 by Takealot aangesluit.

Aflewering

’n Deel van die verandering van Mr. Delivery na Mr D Food het ingesluit om die doeltreffendheid van die netwerk van afleweringsvoertuie te verbeter en die sinergieë in aflewering met Takealot te benut.

Vandag doen die afleweringsvloot ’n mengsel van aflewering, nie net meer kos nie, maar ook pakkies vir Takealot en die aanlyn klerewinkel Superbalist.

“Dit was belangrik om die skaalvoordele van die afleweraars te vergroot en hulle ’n beter geleentheid te gee om ’n inkomste te verdien.”

Dit het ook sin gemaak om aflewering te deel, “want mense bestel nie middagete of aandete tussen twee en vier in die middag nie en daar word ook nie veel pakkies tussen 17:00 en 20:00 op Vrydagaande afgelewer nie’’.

Gedragsverandering

Die apps verander verbruikers se gedrag.

“Daar is nou geen rede meer hoekom jy nie ’n slaai na jou lessenaar by die werk kan bestel vir middagete nie.”

Die app word nou meer dikwels en vir verskillende etes gebruik. “Hoe gereeld dit gebruik word, dui aan dis nie meer net vir bederf nie, maar word deel van ’n leefstyl.”

Volgens hom begin mense selfs ontbyt bestel.

Dit het ook gekom nadat meer restaurante bygevoeg is, wat ’n groter keuse aan verbruikers gee en omdat dit ’n maklike diens is om te gebruik.

Die ou Mr. Delivery was amper net met die groot kitskos-restaurantkettings geassosieer.

Die restaurant wat hulle nou aanbied, is in nege maande meer as verdubbel van minder as 700 tot oor 1400.

Sagteware

Benewens die app vir verbruikers, moes hulle ook sagteware ontwikkel vir die digitale kommunikasietoestelle waarmee restaurante die bestellings ontvang.

“As die verbruiker die bestelling op die app plaas, word dit dadelik deur ’n Android-toestel in die restaurant uitgedruk.”

Die sagteware vir die restaurant en die app vir verbruikers is deur hul eie span ingenieurs gebou.

’n Webtuiste is ook gebou waar die restaurante hul bestellings kan sien en waar spyskaarte bestuur kan word soos as iets uitverkoop is.

Vinniger

Hulle moes ook die tegnologie ontwikkel wat die afleweringspan gebruik.

’n App is vir hulle gebou wat baie gesofistikeerde tegnologie gebruik om seker te maak die naaste drywer kry die bestelling en doen die aflewering.

Die verandering moes verseker dat dit makliker en eenvoudiger is om bestellings te plaas en afleweringstye versnel.

“Ons het probeer seker maak dat ons die bestelling binne 15 minute van die restaurant tot by die kliënt kan kry.”

Die tegnologie wat van die kliënt se liggings gebruik maak gee restaurantkeuses in ’n omtrek van 5 km.

Wat van mededinging?

Sinclair sê Mr D Food word op drie maniere van die mededinging onderskei.

  • 1. Groter keuse van restaurante: Die groot kitskoskettings wat beskikbaar is deur hulle soos Nando’s wat nie noodwendig op ander is nie, volgens hom.
  • 2. Wydste dekking: Volgens hom het Mr D Food ook die wydste dekking in die land en is in meer gebiede beskikbaar as ander. Dit is in 1 900 woonbuurte beskikbaar.
  • 3. Jy kan kontant betaal: Hy glo ’n belangrike eienskap wat hulle onderskei is dat hulle aan kliënte die vermoë bied om kontant te betaal met aflewering. “Dit is belangrik in Suid-Afrika en wat spruit uit die feit dat ons die mark verstaan. Hoewel 95% van ons bestellings op die app plaasvind, word ’n groot persentasie daarvan kontant betaal. Ons is die enigste aanlyn kos afleweringsonderneming wat die opsie bied.”

Uber Eats is tans baie gewild in veral Kaapstad.

“Ek dink sedert hul aankoms het hulle die kategorie uitgebrei. Meer mense bestel kos om afgelewer te word as voorheen en meer mense doen dit deur ’n app.

“Maar sedert hulle gekom het, het ons aanhou groei. Hul koms het nie ons groei beperk nie.”

Fooitjies

Mense wat die app gebruik, wíl fooitjies aan die drywers gee.

Toe hulle die app begin toets het, was fooitjies aanvanklik nie ingesluit nie.

“Baie kliënte het ons egter versoek dat hulle ’n fooitjie deur die app wil gee.”

Verreweg die meerderheid van kliënte verkies om ’n fooitjie aan die afleweraars te gee.

Dit beloop rofweg 10% van die rekening.

Groei

Naspers is Takealot se grootste aandeelhouer. Wêreldwyd het Naspers sedert Mei vanjaar meer as ’n $500 miljoen in twee aanlyn kosafleweringsondernemings belê het.

Die belegging in die nuwe Mr D Food is ook wesenlik.

Dit is gedoen met die oog op die geleentheid en groei wat gaan kom, sê Sinclair.

In 2015 is minder as 1% van die kos wat bestel is in Suid-Afrika aanlyn bestel. Vergeleke daarmee was dit toe 35% in ontwikkelde lande en kan dit na raming vanjaar 65% bereik.

Die groei wat Mr D Food voorsien, word verwag uit dié verskuiwing van bel-en-bestel na die gebruik van die app.

Die toenemende tydsbeperkinge wat verbruikers ervaar en die gepaardgaande soeke na gerief, gaan ook groei verseker.

Volgens hom kan dit reeds gesien word. Hul syfers toon verbruikers gebruik die app nou pleks van ’n handvol kere per jaar ’n handvol kere per maand.

Die skerm van ’n slimfoon wat toon hoe ver die bestelling gevorder het. Foto: Verskaf

Daar word verwag dat sowat 20 miljoen slimfone in Suid-Afrika teen 2020 gebruik gaan word.

“Ons glo as ons app die maklikste is om te gebruik en die beste diens lewer, gaan die getal mense wat dit gebruik in pas met die groei in slimfone toeneem.”

Wins

Die fokus is tans op groei.

“Ons beskou onsself as amper op dag een van die nuwe Mr D Food-onderneming. Ons het swaar belê om die ou Mr. Delivery na die nuwe Mr D Food te neem en dit te posisioneer om voordeel te trek uit die geleentheid, wat ons glo groot gaan wees.”

Dit is ’n bedryf met klein winsmarges.

Mr D Food maak sy geld deur ’n persentasie te kry van die inkomste uit die kos wat verkoop word.

“Soos baie e-handelondernemings gaan dit daaroor om skaal op te bou. Daar is sekere koste wat jy moet hê en as ’n sekere skaal bereik is, begin die ondernemings winsgewend word.”

  • Netwerk24 is ’n produk van Media24, die Suid-Afrikaanse filiaal van Naspers, die meerderheidsaandeelhouer van Takealot, wat Mr D Food besit. 
Meer oor:  Uber  |  Takealot  |  Naspers  |  Kos  |  Kitskos  |  Restaurante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.