Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Nuwe Watch, iPad – Apple se 5 grootste aankondigings

’n Nuwe Apple Watch wat die suurstofvlakke in jou bloed kan meet en ’n verbeterde weergawe van die gewilde iPad Air is net enkele van die nuwe produkte en dienste wat Apple Dinsdag op ’n geleentheid in sy hoofkantoor in Cupertino, Kalifornië, bekend gestel het.

Plaas van die gewone affêre voor ’n skare aanhangers en bekendes, is vanjaar se aankondiging weens die koronaviruspandemie aanlyn gedoen.

Vyf van die grootste aankondigings:

1. Nuwe Apple Watch meet suurstofvlakke in jou bloed

Die nuwe Apple Watch Series 6 kan die suurstofvlakke in jou bloed meet. Foto: Apple

In ’n ongewone stap het Apple Dinsdag twee nuwe weergawes van sy reeks slimhorlosies aangekondig.

Die nuwe, duurder model, die Apple Watch Series 6, kan die draer se suurstofvlakke meet.

Die horlosie is ook toegerus met ’n verbeterde skyfie wat dit – volgens Apple – tot 20% vinniger sal maak as die Series 5 wat in 2019 uitgereik is.

Dit is die eerste weergawe van die Apple Watch wat ’n sensor insluit om suurstofvlakke in die bloed te meet.

Dit word oornag gedoen terwyl jy slaap en die horlosie gebruik infrarooilig wat die vel deurdring.

Die Series 6 se skerm sal ook helderder vertoon, veral in direkte sonlig, beloof Apple.

’n Nuwe, goedkoper Apple Watch is ook Dinsdag bekend gestel. Die Apple Watch SE bevat baie van dieselfde funksies as die Series 6, maar die onderliggende tegnologie is meer verouderd.

Die SE is toegerus met dieselfde skyfie as 2019 se Series 5.

Dit bied wel al die verwagte funksies van ’n slimhorlosie, insluitende ’n hartklopmonitor en die vermoë om te bespeur as die draer val.

Die Series 6 word eersdaags in Amerika uitgereik en kos $399. Die SE kos enigiets van $279 afhangende van die grootte van die skerm.

Die plaaslike prys, of datum waarop dit hier beskikbaar gaan wees, is nog nie bekend nie.

Die goedkoopste Series 5 kos sowat R10 000, wat beteken die Series 6 gaan waarskynlik nog duurder wees.

Die Series 6 is ook Apple se eerste slimhorlosie, trouens sy eerste toestel wat sonder ’n USB-herlaaipoort verskeep word. Dit word gedoen om sy impak op die omgewing te verminder, sê Apple.

2. Apple swyg nog oor nuwe iPhone

Apple het Dinsdag verskeie nuwe toestelle aangekondig, maar nie ’n nuwe iPhone nie. Foto: Reuters

Aanhangers wat Dinsdag gehoop het op meer inligting oor die iPhone 12, is droëbek huis toe.

Apple het nie ’n woord gerep oor die nuwe iPhone wat na verwagting steeds voor die einde van die jaar uitgereik gaan word nie.

Hy het in Julie gewaarsku sy jongste iPhone gaan vanjaar later uitgereik word omdat die pandemie probleme met die vervaardiging daarvan veroorsaak het.

Ontleders reken die iPhone 12 sal op sy eie geleentheid aangekondig word.

Apple het Dinsdag bevestig die jongste weergawe van sy bedryfstelsel vir iPhones en iPads is nou beskikbaar.

iOS 14, iPadOS 14, watchOS 7, en tvOS 14 kan van Woensdag op die meeste nuwe Apple-toestelle geïnstalleer word.

iOS 14, wat ’n hele rits nuwe funksies bied, kan op alle iPhones wat nuwer is as die iPhone 6S (wat in 2015 uitgereik is) geïnstalleer word.

Klik hier vir meer inligting oor al die nuwe funksies van iOS 14.

3. Nuwe iPad Air lyk soos ’n iPad Pro

Die nuwe iPad Air lyk presies soos die iPad Pro, maar is goedkoper. Foto: Apple

Die jongste weergawe van Apple se iPad Air lyk op ’n haar soos sy gewilde, maar heelwat duurder, iPad Pro.

Die nuwe iPad Air spog met ’n massiewe skerm van 10,9 duim (27,69 cm) en sy vingerafdrukskandeerder is nou in die kragknoppie ingebou.

Volgens Apple is die nuwe iPad Air sy “kragtigste en veelsydigste iPad tot nog toe”.

Dit is toegerus met die nuwe A14- bioniese skyfie.

Die agtste generasie van Apple se immergewilde iPad is ook aangekondig.

Die iPad 8 is toegerus met die A12- bioniese skyfie en ’n ruim skerm van 10,2 duim (25,91 cm).

Die nuwe iPad Air is vanaf Oktober in die VSA beskikbaar en in vyf kleure: silwer, grys, goud, groen en blou.

Dis wel nie goedkoop nie. Die goedkoopste weergawe kos $599 (R9 850 teen die huidige wisselkoers) en tot $879 (R14 500) vir die meer gevorderde modelle.

Die iPad 8 is ietwat goedkoper teen $329 (R5 400) vir die model met 32 gigagrepe se stoorplek.

Die iStore het nog geen aankondiging gemaak oor plaaslike beskikbaarheid of pryse nie.

4. Oefen saam, teen ’n prys

Met Apple Fitness+ wil Apple mense help om aanlyn te oefen. Foto: Apple

Apple het in die laaste boekjaar ’n enorme deel van sy inkomste verdien deur die verkoop van dienste soos Apple Music en iCloud.

Die maatskappy betree nou ook die mark vir gesondheidsdienste met Fitness+, ’n betaaldiens wat Apple-gebruikers toegang sal gee tot “wêreldklas-instrukteurs en -oefenprogramme”.

Teen ’n vaste maandelikse tarief kry gebruikers weekliks toegang tot nuwe oefenprogramme en -sessies wat virtueel op enige Apple-toestel gevolg kan word.

Die diens word spesifiek vir Apple Watch beplan, maar integreer ook naatloos met ander iPhones, iPads en selfs Apple TV-toestelle, het Apple Dinsdag gesê.

Tien verskillende oefeninge word ingesluit, onder meer fietsry, oefeninge vir die trapmeule, joga en kardiovaskulêre sessies. Jy benodig ’n Apple Watch Series 3 of nuwer een om Fitness+ te gebruik, het Apple gesê.

Die diens word later vanjaar uitgereik en sal $9,99 per maand in Amerika kos.

Die Suid-Afrikaanse prys sal waarskynlik heelwat goedkoper wees. Apple Music kos ook $9,99 in Amerika per maand, maar net R59,99 per maand in Suid-Afrika.

5. Betaal een bedrag vir alles

Apple One bied gebruikers die opsie om een bedrag vir verskeie van die maatskappy se dienste te betaal. Foto: Apple

Met soveel bykomende dienste om van te kies, het Apple besluit om ’n enkele tarief vir verskeie daarvan te vra.

Apple One bondel verskeie van die maatskappy se dienste en produkte saam teen ’n vaste maandelikse bedrag.

Teen $14,95 kry gebruikers toegang tot Apple Music vir musiek, Apple TV+ vir vermaak, Apple Arcade vir speletjies en iCloud vir berging.

Duurder opsies bied toegang tot nog dienste, soos Apple News+ (wat nog nie in Suid-Afrika beskikbaar is nie) en die nuwe Apple Fitness+.

Spotify het reeds kapsie gemaak teen dié plan van Apple en kla dit brei die maatskappy se dominante posisie in die mark na musiekstromingsdienste uit.

Spotify is in Europa in ’n regstryd met Apple gewikkel waar hy die maatskappy van onmededingende gedrag beskuldig.

In ’n verklaring Woensdag het Spotify gesê dit is onregverdig dat Apple sy eie musiekstromingsdiens bied teen $9,99 per maand (dieselfde prys as Spotify), maar dan verskeie ander dienste teen net $5 meer byvoeg.

“Ons doen ’n beroep op die owerhede om dringend Apple se onmededingende gedrag te beperk,” sê Spotify.

Volgens Apple is Apple One gemik op bestaande intekenare van hierdie dienste en nie noodwendig om nuwe intekenare te probeer lok nie.

Meer oor:  Spotify  |  Apple  |  Apple Watch  |  Oefening  |  Tegnologie  |  Ipad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.