Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Nuwe WhatsApp-slenter: Dis wat jy moet weet
WhatsApp
Skelms is besig om Suid-Afrikaners op WhatsApp te bedrieg. Foto: Getty Images

Skelms vang Suid-Afrikaanse WhatsApp-gebruikers met ’n nuwe slenter.

Verskeie publikasies het vandeesweek berig oor bedrieërs wat op WhatsApp hulself as iemand anders voordoen en geld van vriende vra – kwansuis omdat hulle in die moeilikheid is.

As jy die afgelope week ’n WhatsApp-boodskap van een van jou vriende ontvang het waarin hulle vra dat jy geld na ’n eWallet oorplaas en jy het dit gedoen, was jy waarskynlik ’n slagoffer van dié nuwe slenter.

Hier is alles wat jy van die nuwe slenter moet weet.

   

Hoe word mense bedrieg?

   

Sodra ’n bedrieër jou selfoonnommer na ’n nuwe SIM-kaart oorgedra het, laai hy WhatsApp af en registreer die nommer.

Dan wag hy dat enige van jou vriende vir jou ’n boodskap stuur (aangesien hy geen van jou vriende se nommers het om eerste ’n boodskap te kan stuur nie).

Hy reageer dan op die boodskap deur te vra vir ’n oorplasing na ’n eWallet omdat hy in die moeilikheid is en dringend geld kort.

   

Wat is ’n eWallet?

   

eWallet is ’n oorplasingsdiens van FNB wat jou toelaat om geld na iemand se selfoonnommer te stuur.

Die geld kan dan dadelik by enige van die bank se kitsbanke onttrek word.

Net persone met ’n FNB-rekening kan wel geld na ’n eWallet stuur. Ander banke het soortgelyke dienste, maar sover bekend maak die jongste slenter net melding van eWallet.

As jy vermoed jy het geld na ’n “vriend” gestuur, maar dis eintlik ’n bedrieër, kan jy dit binne 72 uur teen ’n vasgestelde tarief van R14 laat omkeer.

Dit geld egter net as die booswig nog nie die kontant onttrek het nie.

    

Hoe word nommers so maklik oorgedra?

   

Die slenter maak daarop staat dat die bedrieër toegang tot iemand se selfoonnommer kry deur dit na ’n ander selfoonnetwerk oor te dra.

Dit staan as porting bekend en verskil van die omruiling van SIM-kaarte, wat merendeels met bankbedrog verbind word.

Diensverskaffers laat deesdae porting toe deur ’n eenvoudige paar kodes in te voeg of ’n SMS te stuur. Dit beteken dis betreklik maklik vir ’n bedrieër om te bewerkstellig.

Banke het ander maatreëls, soos om boodskappe na ’n spesifieke toestel – en nie ’n spesifieke nommer nie – te stuur en só bedrog te beperk.

In die geval van WhatsApp kan die bedrieër die app opstel deur net ’n kode in te voeg wat hy per SMS ontvang.

Sodra ’n skelm ’n nommer na ’n nuwe SIM-kaart wil oordra, ontvang die oorspronklike eienaar daarvan ’n boodskap wat waarsku dat iemand die nommer wil oordra.

Die slegte nuus is dat indien jy nie reageer en aktief aandui jy wil nie jou nommer oordra nie, gebeur dit outomaties ná ’n kort tydperk.

Vodacom gee sy kliënte 40 minute om die oordrag van ’n nommer af te keur, terwyl MTN net 30 minute gee.

Cell C en Telkom stuur ook boodskappe na die eienaar van die nommer wat waarsku dat dit oorgedra gaan word na ’n ander netwerk (en dus ’n ander SIM-kaart).

As jy egter dié boodskap miskyk, word jou nommer oorgedra.

Die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika (Okosa), wat die oordra van selfoonnommers reguleer, het reeds in Maart 2018 nuwe konsepwetgewing ter tafel gelê om die proses te beveilig sodat nommers nie so maklik oorgedra kan word nie.

   

Hoe kan ek myself beveilig?

   

Jy kan ongelukkig nie keer dat jou nommer oordraagbaar is nie.

Jou nommer sal wel nie oorgedra word as jy op die boodskap reageer wat aan jou gestuur word wanneer ’n bedrieër dit probeer doen nie.

Jy kan ook jou diensverskaffer kontak en vra dat die oordrag van jou nommer omgekeer word.

Die beste stap sal wel wees om jou WhatsApp te beveilig deur tweeledige verifikasie aan te skakel.

Dit sal jou WhatsApp-rekening met ’n bykomende PIN beskerm, wat net jy ken.

Al beskik iemand oor ’n SIM-kaart met jou nommer, sal hy nie WhatsApp kan opstel sonder jou unieke PIN nie.

Moet ook nie net ’n boodskap vertrou wat jy per WhatsApp ontvang nie, al lyk dit asof dit van ’n goeie vriend of familielid is.

As die persoon vir geld vra, probeer by hulle uitvind wat aan die gang is. Onthou net, as die skelms hul nommer oorgedra het, sal die persoon nie ontvangs op sy eie selfoon hê nie.

Waak ook daarteen om jou selfoon af te skakel of lank nie daarna te kyk nie.

As skelms jou nommer wil oordra, sal dit net soveel makliker wees om te doen terwyl jou foon afgeskakel is, aangesien jy nie die waarskuwingsboodskap daaroor sal sien nie.

   

So aktiveer jy tweeledige verifikasie op WhatsApp

   

Gaan na “Settings”, dan na “Account” en aktiveer “Two-Step Verification”.

Jy sal gevra word om ’n PIN van ses syfers te skep.

Meer oor:  Slenter  |  Whatsapp  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.