Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Ondersoek na Netflix, Amazon se gedrag in SA begin
Netflix is deel van die Mededingingskommissie se nuwe ondersoek na onmededingende gedrag in die digitale ekonomie. Foto: Getty Images

Internasionale digitale platforms soos Netflix, Amazon en Airbnb is nou in die visier van ’n nuwe ondersoek deur die Mededingingskommissie.

Tembinkosi Bonakele, kommissaris van die kommissie, het Woensdag aangekondig die ondersoek na mededinging in die “digitale ekonomie” het begin.

Die digitale ekonomie verwys na ’n parallelle ekonomie van ondernemings wat oor die internet sake doen.

Dit is teenoor die nywerheidsekonomie waar ondernemings vanuit fisieke winkels en fabrieke sake doen.

Daar is ’n “baie goeie kans” dat die digitale ekonomie kort voor lank die nywerheidsekonomie as die dominante grondslag vir ekonomiese aktiwiteit kan oorneem, sê die kommissie. Derhalwe is ’n ondersoek na mededinging in dié marksegment nou noodsaaklik.

Mededingingsowerhede in ander lande het ook al met soortgelyke ondersoeke begin, sê Bonakele. Suid-Afrika se kommissie sal hom deur die bevindinge in ander lande laat lei, sê hy.

Bonakele het spesifiek melding gemaak van die Amerikaanse departement van justisie se dagvaarding verlede maand van Google vir beweerde onmededingende gedrag.

“Dié hofsaak kap na die kern van Google se greep op die internet vir miljoene gebruikers, adverteerders, kleinsakeondernemings en entrepreneurs.

“Hierdie en ander bedrywighede wat mededinging beperk, word deur mededingingsowerhede in ander jurisdiksies ondersoek. Die bedrywighede benadeel mededinging en gebruikers deur ’n demper te plaas op die vermoë om met nuwe idees vorendag te kom.”

Volgens Bonakele is dit noodsaaklik dat Suid-Afrika deel is van die “globale skuif” om groot maatskappye in die digitale ekonomie te ondersoek vir moontlike onmededingende gedrag.

“Internasionale regulering is noodsaaklik om die moontlike skade vir kleinsake, gebruikers en die Suid-Afrikaanse ekonomie af te weer.”

Die sleutelvraag vir die Mededingingskommissie is nou of hy regulatoriese ingrype in ander dele van die wêreld ook hier wil toepas en of hy sy eie regulasies wil instel.

“Ons moet seker maak die mark is mededingend,” sê hy, maar voeg by dat Suid-Afrika as ’n reël sukkel om sy eie regulasies doeltreffend toe te pas.

Hy het Takealot as ’n moontlike dominante rolspeler in Suid-Afrika op die gebied van e-handel uitgesonder.

“Ons het dieselfde gesien in Amerika met Amazon en in China met Alibaba, en nou sien ons dit in Suid-Afrika met Takealot,” sê hy.

Volgens die kommissie is daar sowat 4,54 miljard internetgebruikers oor die wêreld heen, waarvan 34,54 miljoen in Suid-Afrika is.

Ons het dieselfde gesien in Amerika met Amazon en in China met Alibaba, en nou sien ons dit in Suid-Afrika met Takealot.
Tembinkosi Bonakele

Sowat 62% van Suid-Afrikaners het toegang tot die internet, hoofsaaklik via hul selfone. Internettoegang by die huis in Suid-Afrika is maar ’n skamele 10%.

Suid-Afrika het reeds verskeie gevestigde digitale platforms wat ’n verskeidenheid dienste bied.

Die meeste daarvan word wel deur oorsese ondernemings bedryf.

Bonakele gee toe Suid-Afrikaanse wetgewing soos dit nou daar uitsien, skiet waarskynlik tekort om van die internasionale ondernemings vas te vat oor moontlike onmededingende gedrag op eie bodem.

Waar bestaande wetgewing tekortskiet, gaan ook deel wees van die kommissie se finale ondersoek.

Die kommissie verwag ook om voorstelle te maak oor hoe die bedryf gewysig moet word ten einde veral kleiner rolspelers ’n regverdige kans te gee om teen die groter rolspelers mee te ding.

’n Soortgelyke omverwerping van die bedryf word verwag soos wat gesien is in die kommissie se onlangse ondersoek na die duur prys van data in Suid-Afrika wat uiteindelik gelei het tot ’n gemiddelde verlaging van 35% in datapryse.

Bonakele het nie Woensdag ’n tydlyn vir die kommissie se ondersoek aangekondig nie.

Lede van die publiek kon tot 30 Oktober kommentaar lewer op die voorgestelde ondersoek.

Meer oor:  Amazon  |  Uber  |  Netflix  |  Airbnb  |  Takealot  |  Tegnologie  |  Mededingingskommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.