Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Ons sál datapryse vanjaar afbring – Patel
Ebrahim Patel. Foto: Daily Sun

Ebrahim Patel, minister van ekonomiese ontwikkeling, het Maandag in die parlement die versekering gegee dat regeringslui vanjaar voorkeur daaraan gaan gee om die hoë datapryse af te bring.

Patel het weer bevestig dat die prys van data gaan daal sodra die Mededingingskommissie hul markondersoek afgehandel het. Die kommissie het in Augustus 2017 hul ondersoek begin om te bepaal wat moontlik die hoë koste van data in Suid-Afrika veroorsaak en hoe die regering kan ingryp om dit af te bring.

“Daar is ’n wye reeks bewyse dat datapryse in Suid-Afrika hoër is as wat dit kan wees, en wat ’n belemmering vir ekonomiese produktiwiteit is, terwyl toegang tot datadienste ook aansienlik tussen stedelike en landelike gebiede verskil,” het Patel in Mei 2017 gesê toe hy die markondersoek aangekondig het.

Die minister het Maandag in sy toespraak in die parlement ook gesê die regering sal vanjaar die “uitreiking van ’n nuwe spektrum en volledige digitale migrasie” van analoogtelevisieuitsendings finaliseer.

Volgens Patel gaan die regering die land se strategie rakende die sogenaamde vierde industriële revolusie afhandel en sy vennootskappe met die private sektor, universiteite en navorsingsinstellings deur die loop van die jaar uitbrei.

Wat is die vierde industriële revolusie?

Die sogenaamde “vierde” industriële revolusie verwys na die vierde groot nywerheidsera sedert die aanvang van die Industriële Revolusie in die 18de eeu.

Die vierde revolusie verwys spesifiek na die reeks nuwe tegnologieë wat die fisieke, digitale en biologiese wêrelde saamvoeg en sodoende verskeie dissiplines, van die ekonomie, medisyne en vervaardiging, gaan beïnvloed.

In kort verwys dit na die volgende vloedgolf van tegnologiese verandering waarby die mensdom sal moet aanpas. Verskeie nuwe werkgeleenthede en beroepe gaan daardeur geskep word.

Hierdie nuwe tegnologieë het die potensiaal om die werkplek en die samelewing as ’n geheel te ontwrig, sê hy. “Dit kan nuwe digitale skeidings binne en tussen lande skep. Maar die tegnologieë hou ook groot potensiële voordele in, en met behoorlike bestuur, kan ons dit aanwend in ons ontwikkelingsdoelwitte en in diens van ons mense.”

Die Mededingingskommissie se ondersoek vergelyk onder meer Suid-Afrika se (hoë) datapryse met ander lande s’n, dit bepaal of dataverskaffing se gehalte en dekking aan internasionale standaarde voldoen en kyk ook na wat die stand van die mark vir die verskaffing van data is.

Patel is dit eens dat hoë datapryse veral die land se jeugdiges, wat grootmaatverbruikers van data is, benadeel.

“Dit raak ook gebruikers in die algemeen, sowel as ondernemings in ’n ekonomie wat toenemend gekoppel raak en op inligting- en kommunikasietegnologieë vertrou.”

Hy het ook bevestig dat die regering hom reeds daartoe verbind om ’n raamwerk van nuwe vaardighede op te stel vir toekomstige werkgeleenthede, wat danksy die ontwikkeling van tegnologie eendag alledaags gaan word.

Die kommissie se ondersoek sal na verwagting teen einde Augustus afgehandel word.

Bykomende bron: Fin24

Meer oor:  Mtn  |  Cell C  |  Vodacom  |  Telkom  |  Ebrahim Patel  |  Mededingingskommissie  |  Datakoste  |  Parlement  |  Data  |  Ondersoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.