Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Oor dié netwerk kla SA’ners steeds meeste
Suid-Afrikaners blyk steeds ontevrede te wees met Cell C se diens. Foto: Unsplash

Suid-Afrikaners is steeds die mees ontevrede met die diens van Cell C, die land se derde grootste selfoondiensverskaffer.

Volgens Consulta se jongste nasionale indeks van verbruikerstevredenheid (Sacsi), is Vodacom steeds die markleier, maar ook net-net.

Die resultate van die jongste indeks, vir 2019, is Dinsdag bekend gemaak.

Daarvolgens is Cell C steeds die agteros wat kliëntetevredenheid betref. Hy kry ’n telling van 71,9 uit 100, drie persentasiepunte onder die bedryfsgemiddeld van 74,9.

Sowel MTN as Vodacom is in pas met bedryfsverwagtinge met ’n indekspunt van onderskeidelik 75 en 76,1.

Consulta se indeks verteenwoordig net hierdie drie netwerke wat saam meer as ’n 80%-markaandeel in Suid-Afrika geniet. Gebruikers se tevredenheid met Telkom as diensverskaffer word nie by die indeks ingesluit nie.

Cell C, MTN en Vodacom het wel hul sokkies in die laaste jaar opgetrek. Al drie dié netwerke is hoër punte toegeken as ’n jaar gelede. Cell C se telling het skaars geroer van 71,4 indekspunte verlede jaar tot 71,9 vanjaar.

MTN het die grootste sprong gesien van 71,8 indekspunte in 2018 teenoor 75 punte in die jongste telling.

Consulta meen egter geen diensverskaffer het werklik rede om te spog nie – Suid-Afrikaners verwag elke jaar minder en minder goeie diens van hulle, wat beteken die nasionale gemiddeld daal. Suid-Afrikaners verwag eerder om teleurgestel te wees in diensverskaffers as om goeie diens te ontvang.

Net mediese fondse het swakker gevaar in Consulta se jaarlikse bepaling van verbruikerstevredenheid in die verskillende sektore.

selfoon

Volgens die konsultasiefirma sukkel Cell C ook toenemend om homself van sy mededingers te onderskei, wat sy beeld skade berokken.

“Dit is moeilik om te dink hoe Cell C uit sy huidige verknorsing gaan kom sonder om belangstelling by ’n kleiner marksegment te ontlok,” sê Ineke Prinsloo, hoof van verbruikersinsig by Consulta.

Sy noem Capitec en Virseker as twee voorbeelde van ondernemings in onderskeidelik die bank- en versekeringsbedryf wat met groot sukses op kleiner marksegmente gefokus het.

Cell C se totale uitstaande skuld het einde Desember reeds R8,7 miljard beloop. Hy het voorlopig goedkeuring van die Mededingingskommissie ontvang dat van sy bates deur die nuutgestigte maatskappy Gatsby oorgekoop word.

Cell C het deur die loop van 2019 meer as 2,8 miljoen kliënte verloor.

Waaroor kla intekenare?
  • Probleme met data
  • Samestelling van pakkette
  • Probleme met rekeninge
  • Swak seinontvangs
  • Pryse

Vir die tweede opeenvolgende jaar was die gaping ook die grootste by Cell C wat betref die ooreenstemming tussen kliënte se verwagtinge en die uiteindelike produk of diens wat die netwerk gelewer het. Die verskil tussen wat Cell C-intekenare gehoop het om te ontvang, en uiteindelik ontvang het, is meer as een indekspunt.

Die diens wat Vodacom uiteindelik bied, is weer 1,7 indekspunte hoër as wat kliënte verwag het, wat beteken Vodacom oortref die verwagtinge.

MTN oortref ook die verwagtinge, maar met ’n kleiner marge (0,6 indekspunte).

Suid-Afrikaners se verwagtinge van diensverskaffers se diens is egter besig om te taan, sê Prinsloo. Dit beteken diensverskaffers voldoen skaars aan die reeds lae verwagtinge wat intekenare koester.

Te veel klagtes word ook onopgelos gelaat. Byna 33% van die klagtes wat diensverskaffers ontvang, word nie opgelos nie. Dit is besonder hoog, sê Prinsloo. Ideaal gesproke moet dié syfer minder as 10% wees.

Vodacom ontvang die meeste klagtes onder al die diensverskaffers, gevolg deur Cell C en dan MTN.

MTN los ook die meeste klagtes op van al die netwerke.

Dit is daarom dalk geen verrassing nie dat MTN se intekenare ook die meeste lojaal is. 71,3% van MTN-kliënte het aangedui hulle sal nie skuif na ’n ander netwerk nie. 67,4% het dieselfde gesê by Vodacom teenoor 62% by Cell C.

Die bedryfsgemiddeld is 67,7%.

Kontrakkliënte by al die netwerke is eweneens die meeste lojaal, maar kla ook verreweg die meeste.

Meer oor:  Mtn  |  Cell C  |  Vodacom  |  Diensverskaffer  |  Tegnologie  |  Selfoonnetwerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.