Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
‘Opium vir die gees’ laat Naspers weer daal

“Opium vir die gees.”

Dít is hoe rekenaarspeletjies van die Chinese internettegnologiegroep Tencent deur China se staatsmedia beskryf is.

Naspers het al in 2001 'n groot belang in Tencent bekom. Foto: Getty Images

’n Groot belang in Tencent word deur die genoteerde internetgroep Naspers se filiaal Prosus besit. In reaksie op die opmerking het Naspers sowel as Prosus se aandeelpryse Dinsdag met meer as 6% gedaal nadat Tencent met amper 7% gedaal het.

Die aandeelpryse het verlede week ook skerp gedaal – onderskeidelik amper 5% en amper 6% laer vir die week. Tencent het vir die week met amper 10% gedaal, toon Iress se markinligting.

Die opmerking deur die Chinese staatsmedia het meegebring dat Tencent dit oorweeg om ’n verbod te plaas op kinders se toegang tot sy vlagskip-videospeletjie.

In ’n nuusberig van die Economic Information Daily is daar verwys na Tencent se Honor of Kings-selfoonspeletjie en gesê minderjariges is verslaaf aan aanlyn speletjies. Daar is ook gevra vir verdere beperkings op die bedryf.

Dié nuusblad is geaffilieer met Xinhua, China se grootste media-agentskap, wat aan die staat behoort.

Dit het beleggers se vrese oor staatsinmenging in dié bedryf laat toeneem nadat die staat reeds op die eiendom-, opvoedkundige en tegnologiesektor toegeslaan het.

“Beleggers glo nie dat enigiets verbode terrein is nie en sal reageer en soms oorreageer op enigiets in die staatsmedia wat pas by die verhaal van die staat wat tegnologiemaatskappye wil onderdruk,” sê Ether Yin, vennoot by Trivium, ’n konsultasiegroep in Beijing.

Tencent word as China se grootste sosialemedia- en videospeletjiegroep beskryf.

Sy aandeelprys het Dinsdag vroegoggend met 10% geval – wat amper $60 miljard van sy markwaarde uitgewis het.

Dit het later effens beter gevaar nadat die berig van die nuusblad se webtuiste en sy WeChat-rekening verdwyn het.

Die berig is egter later weer gepubliseer, maar die historiese gelaaide term “opium vir die gees” is verwyder.

In die aanvanklike berig het die nuusblad “Honor of Kings” uitgesonder as die gewildste aanlyn speletjie onder kinders, wat dit vir tot agt uur per dag speel.

“Die opium vir die gees het ’n bedryf geword wat honderd miljarde werd is,” is berig. “Geen bedryf, of sport, kan toegelaat word om op so ’n manier te ontwikkel dat dit ’n hele generasie vernietig nie.”

Opium is ’n sensitiewe onderwerp in China wat die eiland Hongkong in 1842 aan die einde van die Eerste Opium-oorlog aan Brittanje afgestaan het. Die oorlog het gehandel oor Brittanje wat die dwelm na China uitgevoer het en die gevolglike wydverspreide verslawing daaraan.

Tencent sê in ’n verklaring hy sal verdere maatreëls instel om die tyd en geld te beperk wat minderjariges aan die speletjies bestee. Hy gaan met Honor of Kings begin.

Die maatskappy vra ook vir ’n verbod deur die bedryf op internetspeletjies vir kinders van jonger as 12 jaar oud.

Die aangepaste berig se aanslag is ook gewysig en lui dat die owerhede, ontwikkelaars en gesinne moet saamwerk om kinders se verslawing aan aanlyn videospeletjies te bekamp en dat ouers vir die toesig verantwoordelik moet wees.

Die Chinese regering het sedert 2017 probeer om die tyd te beperk wat minderjariges aan videospeletjies bestee.

Die owerheid plaas egter die afgelope paar maande ’n nuwe fokus op die welstand van kinders en sê hy wil die regulasies vir aanlyn speletjies en -opvoeding verder versterk.

Verlede maand is aanlyn onderrig in hoofskoolvakke verbied. China se private sektor wat dié onderrig aanbied, is $120 miljard werd.

Dit het gevolg op nog stappe teen die tegnologiebedryf, insluitende om Tencent te verbied om eksklusiewe kopiereg-ooreenkomste vir musiek aan te gaan.

Die daling in Naspers en Prosus se aandeelpryse kom te midde van ’n tyd wat aandeelhouers reeds senuagtig is oor hul keuses oor ’n transaksie wat in Mei aangekondig is. Prosus wil 45% van die uitgereikte gewone aandele van Naspers verkry in ruil vir nuwe aandele wat hy gaan uitreik. Dit gaan sy belang in Naspers tot 49,5% verhoog.

Naspers en Prosus was van die minder as ’n handvol aandele in die top-40-indeks op die JSE wat Dinsdag gedaal het. Die meeste ander het goed gestyg. – Reuters en bygewerk

Meer oor:  Prosus  |  Naspers  |  Tencent  |  China  |  Aandeelpryse  |  Rekenaarspeletjies  |  Internet  |  Regulasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.