Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Oppas, daardie selfie is sleg vir die aarde

Hoeveel foto’s het jy die afgelope week geneem? Hoeveel keer het jy iets op Facebook ge-like, iets op sosiale media gedeel of ’n video afgelaai om later daarna te kyk?

Die mensdom het ’n rommelkrisis en die oplossing is dat ons ons denke moet verander – ook oor ons digitale voetspoor.

Bêre jy foto’s, video’s of dokumente in ’n wolk? Dis tog ’n baie gerieflike manier om jou data veilig te hou en te verseker dat al jou toestelle klopdisselboom werk.

Maar as jy omgewingsbewus is, is dit dalk tyd om jou data-voetspoor in te reken wanneer jy bereken wat jou impak op die aarde is.

Om digitale data in ’n wolk te stoor help tot ’n mate om die hoeveelheid e-rommel te beperk. Maar dit beteken nie dat daar geen e-rommel is nie. Alles wat nie op jou toestel – jou selfoon, tablet, hardeskyf of rekenaar – gestoor word nie, word steeds iewers gehou. Daardie “iewers” is gewoonlik ’n soort datasentrum; ’n sentrale plek (ook genoem ’n “bedienerplaas”) waar groot hoeveelhede data gestoor word.

Die hoeveelheid energie wat deur datasentra verbruik word, is aan die toeneem. Onlangse ramings is dat dit in die volgende dekade sal verdriedubbel.

Die hoeveelheid energie wat deur datasentra verbruik word, is aan die toeneem. Onlangse ramings is dat dit in die volgende dekade sal verdriedubbel – van net onder 3% van die wêreld se elektrisiteit tot meer as 8% teen 2030. Tans dra datasentra sowat 2% by van die wêreldwye vrystelling van kweekhuisgasse.

Dié 2% klink dalk nie na veel nie, maar datasentra het baie vinnig tot by dié vlak gekom. In 2019 het bedienerplase net meer as 400 terawatt-ure se elektrisiteit gebruik. Dit is meer as die helfte van die jaarlikse elektrisiteitsverbruik van die hele Afrika.

Wat dit nog erger maak, is dat net 6% van die data wat gestoor word enigsins gebruik word, volgens navorsing van Hewlett Packard Enterprise.

Die realiteit is dat mense besig is om ’n massiewe data-rommelhoop te skep wat geen doel dien nie, maar nogtans bydra tot aardverhitting.

In 2020 sal die totaal van die wêreld se data te staan kom op 40 zettagrepe (’n mooi naam vir regtig vrek baie) en die verwagting is dit sal in die volgende vyf jaar vyfvoudig toeneem. 90% van alle bestaande data is in die laaste twee jaar gegenereer.

Die punt is, die hele kwessie is besig om handuit te ruk.

Hier en daar begin mense pogings aanwend om iets daaraan te doen. Ek was onlangs in Suidoos-Asië en daar is bewusmakingsveldtogte aan die gang om mense aan te moedig om onnodige data uit te vee.

Maar terselfdertyd is daar planne om net meer bergplek van data te vind. Die tegnologie-tydskrif Ozy het onlangs berig data kan in die toekoms in die ruimte geberg word. Die wetenskaplike en entrepreneur Ohad Harlev se maatskappy, LyteLoop, het tegnologie ontwikkel om data in beweging te berg deur dit heen en weer te stuur tussen satelliete.

Moet ons regtig al hierdie data berg? Moet ons regtig 17 weergawes van elke foto hou?

Ek is nie seker wat die oplossing is nie. Moet ons regtig al hierdie data berg? Moet ons regtig 17 weergawes van elke foto hou? (Ek het nou die dag in ’n kroeg gesien hoe iemand ’n hele middag lank selfies neem. Pleks dat sy haar drankie geniet en ’n bietjie data spaar!)

Baie is al gesê oor die etiese aspekte daarvan wanneer ondernemings data versamel en berg. ’n Ruk gelede het die tegnologie-kenner Dylan Curan vir die wêreld gewys hoeveel van sy persoonlike data Facebook en Google opgepot het – van al die plekke waar hy ooit met sy foon was, elke tree wat hy gegee het tot elke webblad wat hy besoek het. Net so ’n magdom data oor my en jou sweef waarskynlik iewers in die digitale wêreld rond.

Ek is nie seker die oplossing is om bloot data in die ruimte te begin berg nie.

Ons moet eerder by die kern van die probleem van onnodige data probeer uitkom.

Die werklike kwessie hier is dat die mensdom ’n rommelkrisis het en die oplossing is dat ons ons denke moet verander – nie net oor fisieke rommel nie, maar ook oor ons digitale voetspoor.

  • Marelise van der Merwe is ’n produksieredakteur by Fin24. Dié rubriek het voorheen by Fin24 verskyn.
Meer oor:  Internet  |  Selfies  |  Sosiale Media  |  Tegnologie  |  Foto's
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.