Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Ouditeurs bekommerd oor EOH as lopende saak
EOH het sy verlies noemenswaardig verminder, maar sy ouditeurs is steeds bekommerd oor die maatskappy as lopende saak. Foto: BusinessTech

EOH se direksie spog Woensdag met resultate wat dui op ’n vermindering in sy verliese, maar sy ouditeurs sê hulle is nie seker of die maatskappy as lopende saak kan aanhou nie.

EOH het Woensdag sy resultate vir die jaar tot einde Julie bekend gestel.

PwC het die maatskappy ’n ongekwalifiseerde oudit gegee, maar in die nota van PWC lig die ouditeurs ’n kommerwekkende agteruitgang van EOH se balansstaat uit.

EOH se gekonsolideerde huidige laste oorskry nou sy totale bates met meer as R2,4 miljard.

Die maatskappy het hom op 1 Augustus skuldig gemaak aan wanbetaling van sy skuld aan banke, maar het uitstel ontvang in die lig daarvan dat die maatskappy besig was met sy jaareindresultate.

Die ouditeurs sê egter dié gebeure is erg kommerwekkend.

EOH se verlies beloop nou R1,471 miljard teenoor R4,950 miljard ’n jaar gelede.

Sy bates het in twee jaar byna gehalveer.

In sy heraangegewe state vir 2018 het sy bates op R14,252 miljard gestaan. Dit is nou R7,185 miljard. EOH se kontantposisie het ook agteruitgeboer.

Van meer as miljard rand in kontant ’n jaar gelede sit die maatskappy nou net met R530 miljoen in die bank.

Sy inkomste het met 25% geval, van R14,949 miljard in 2019 tot R11,277 miljard vanjaar. EOH het veral in die eerste helfte van die jaar gesukkel om nuwe sake te doen.

Sy verlies per aandeel het egter wesenlik verbeter, met 68%. Die verlies per aandeel was in 2019 R30,41 en staan nou op R9,61.

“Ons is baie tevrede met die beduidende vordering wat die EOH-groep gedurende die huidige finansiële jaar gemaak het,” sê Stephen van Coller, uitvoerende hoof.

“Ons het daarin geslaag om ons te posisioneer vir groei en het grootliks ons erfenisprobleme opgelos, terwyl ons die groep suksesvol deur ongekende wêreldmarktoestande bestuur.”

EOH, wat onder meer betrek is by staatskaping, is in Julie met R7,5 miljoen beboet omdat hy in twee agtereenvolgende boekjare, 2017 en 2018, “onjuiste, vals en wesenlik misleidende” inligting by die JSE ingedien het.

EOH, wat sedertdien groot bestuursveranderinge ondergaan het, het die probleme erken. Van Coller het juis verlede week voor die Zondo-kommissie na staatskaping getuig en die foute voor die deur van sy voorgangers gelê. Van Coller hoop om die maatskappy se goeie naam in ere te herstel.

EOH se aandeelprys was Woensdag teen 14:30 5,29% laer op R6,09.

Meer oor:  Eoh  |  Tegnologie  |  Staatskaping  |  Resultate  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.