Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Oudminister kap terug oor MultiChoice

Yunus Carrim, voormalige minister van kommunikasie, sê dit is “bisar” om voor te stel Koos Bekker, voorsitter van Naspers se direksie, het niks te doen gehad met MultiChoice se pogings om regeringsbeleid oor digitale enkripsie te beïnvloed nie. 

Yunus Carrim, voormalige minister van kommunikasie.

Carrim het vroeër aan die Mail & Guardian gesê Bekker was “aggressief betrokke” by gesprekke om ongekodeerde seinverwerkers goed te keur en het met hom daaroor vergader. 

MultiChoice en Imtiaz Patel, sy hoofbestuurder, is tans in die spervuur oor hulle die SAUK R100 miljoen vir ’n 24-uur-nuuskanaal betaal het.

Dit was glo op voorwaarde dat die SAUK hulle ondersteun om ongekodeerde seinverwerkers vir digitale aardgebonde televisie goedgekeur te kry. Die SAUK se antwoord was dat dit regeringsbeleid is waaroor hulle geen invloed het nie.

Phumzile van Damme, die DA se woordvoerder oor kommunikasie, sê dit bewys dat MultiChoice omkoopgeld betaal het wat staatskaping ondersteun. 

Naspers erken Bekker en Carrim het een keer vergader om die kodering van seinverwerkers te bespreek. Hulle sê Pravin Gordhan, voormalige minister van finansies, was ook teenwoordig en kan getuig geen Gupta-verwante of enige ander onwettige vraagstukke is bespreek nie. 

Carrim het Vrydag hierop gereageer deur te sê hy het nooit na enige spesifieke ontmoeting verwys of gesê wie teenwoordig was nie. 

“Ek het ook nie gesê of selfs geskimp dat enigiets onwettig of iets in verband met die Guptas bespreek is nie,” sê hy. 

Volgens Carrim is dit dus onvanpas om sy kommentaar te koppel aan diegene wat hulle daarvoor beywer om ANN7 van die lug af te haal. 

Carrim sê Bekker se hoofdoel was om hom te oortuig oor sy siening oor gekodeerde seinverwerkers en hy was geïrriteerd omdat hy (Carrim) nie met hom saamgestem het nie. Bekker het daarna ’n kompromie deur ’n bemiddelingsproses probeer bereik. 

Die regering se voorstel was dat gekodeerde seinverwerkers goedgekeur word, maar dit is later verander na ongekodeerde seinverwerkers, wat MultiChoice bevoordeel.

Koos Bekker, nie-uitvoerende voorsitter van Naspers se direksie, sê die ondersoek na MultiChoice sal weke eerder as maande duur. Foto: Jaco Marais

Carrim sê Bekker het weens sy rol in die media en die feit dat hy op verskeie panele oor inligtingstegnologie gedien het homself as ’n tipe “adviseur” vir Carrim beskou. 

Carrim sê Bekker kon egter juis weens sy gevestigde belange in die sektor duidelik nie so ’n rol vertolk nie. 

“Dit het gelyk of hy geïrriteerd is dat ek nie kon sien hoe briljant hy is nie,” sê Carrim. 

Carrim hou vol dat Bekker ’n hand in MultiChoice se veldtog om die regeringsbesluit om te keer moes gehad het. 

MultiChoice het sy eie interne ondersoek na die ANN7-kontrak en ander omstrede kwessies geloods. 

Naspers het aanvanklik gesê dit is onvanpas vir hulle om by MultiChoice se sake in te gryp en dat die outonomie van hul bedryfsmaatskappye en onafhanklike direksies respekteer moet word. 

Bekker het egter Vrydag gesê Naspers sal wel verseker dat álle bewerings teen MultiChoice deeglik ondersoek word. 

Hy sê hy weet nie van enige kriminele optrede of omkopery nie en ontken enige bande met die Guptas.

Volgens hom is Naspers en MultiChoice onder druk omdat staatskaping die laaste paar maande prominent in die nuus was, maar dit sal uitloop op sensuur en sal ’n “gevaarlike presedent” skep as hulle die ANN7-kanaal skrap.

  • Netwerk24 is ’n produk van Media24, ’n filiaal van Naspers.
Meer oor:  Yunus Carrim  |  Koos Bekker  |  Multichoice
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.