Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Ouers gewaarsku oor dié Fortnite-gevaar

Die veiligheid van die rekeninge van miljoene spelers van die uiters gewilde videospeletjie Fortnite is in die gedrang weens ’n sekuriteitsfout, het navorsers van Check Point Software Technologies bevind.

Dié tegnolgiemaatskappy het Woensdag in ’n verslag gesê dat ’n fout in Fortnite se verifikasieproses spelers se rekeninge aan kuberkrakers blootstel.

Luidens die verslag kan kuberkrakers bloot ’n skakel aan spelers stuur en sodra die speler daarop klik, kry die booswig toegang tot sy rekening.

Met dié toegang kan ’n skelm amok maak op ’n speler se rekening. Die kuberkraker kan byvoorbeeld van Fortnite se virtuele geld aanskaf (in ruil vir “regte” geld) of van die speler se toerusting smous of oordra na ’n ander rekening.

Boonop kry die kuberkraker ook toegang tot die speler se private gesprekke met ander spelers – inligting wat uitgebuit kan word, veral as die speler jonger as 18 is.

“Ons is ingelig oor die kwesbaarheid in ons verifikasieproses en ons sal werk daarvan maak,” sê Epic Games, die skepper van Fortnite, in ’n verklaring.

Fortnite is ontsettend gewild.

“Ons moedig spelers aan om hul rekeninge te beveilig deur nie dieselfde wagwoord oral te gebruik nie en om nie besonderhede van hul rekening aan enigiemand anders te gee nie.”

Dit is nie duidelik of dié fout al deur enige kuberkraker uitgebuit is nie, en vir nou is dit nog net teoreties moontlik om so toegang tot spelers se rekeninge te kry.

Fortnite het miljoene spelers oor die wêreld heen en is een van gewildste videospeletjies ooit.

Oded Vanunu, hoof van Check Point se navorsingspan, wat die verslag saamgestel het, waarsku dat ouers gereed moet wees vir wat op Fortnite kan gebeur.

“Jou kinders speel ’n speletjie en ander mense kan kyk wat hulle doen en na hul gesprekke luister,” sê hy.

“Die kind dink dalk hy praat met ’n ander 12-jarige, maar dit kan in werklikheid ’n volwassene wees wat hom vra om ’n foto te stuur in ruil vir ’n wapen.

“Dis hoe gek hierdie speletjie is.”

Epic Games verdien sakke vol geld deur bykomstighede soos wapens en uitrustings aan spelers van Fortnite te verkoop.

Die maatskappy word op $15 miljard gewaardeer.- Bloomberg

Meer oor:  Fortnite  |  Epic Games  |  Kuberkrakers  |  Tegnologie  |  Videospeletjies  |  Kuberaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.