
Cell C en MTN het onlangs 'n nuwe ooreenkoms onderteken.
Die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika (Okosa) is die josie in dat Cell C en MTN ’n uitgebreide ooreenkoms onderteken het sonder sy goedkeuring.
Okosa, wat onder meer datadiensverskaffers in Suid-Afrika reguleer, het gereageer op mediaberigte dat Cell C vanaf vroeg aanstaande jaar gaandeweg al hoe meer van MTN se netwerkinfrastruktuur gaan gebruik.
In ’n streng bewoorde verklaring Dinsdag sê Okosa MTN en Cell C kan nie sommerso só ’n ooreenkoms aangaan sonder om dit met hom te bespreek nie.
Die owerheid gee toe Cell C en MTN het hom ingelig oor die ooreenkoms, maar sê dit was nog nie onderhewig aan die nodige assessering om te bepaal of dit voldoen aan wetgewing en regulasies nie.
Cell C het by navraag aan Netwerk24 gesê die ooreenkoms voldoen aan “al die toepaslike regulatoriese vereistes”, sonder om te spesifiseer of Okosa dit pertinent goedgekeur het.
Die implikasie word geskep dat MTN en Cell C dit nie as nodig geag het om Okosa se goedkeuring te verkry alvorens ’n aankondiging oor die ooreenkoms gedoen is nie.
LEES OOK: Telkom in sak en as oor Cell C, MTN nou saamwerk
“Die vraag of enige ooreenkoms wat verband hou met ’n gereguleerde diens of die gebruik van ’n gelisensieerde hulpbron (soos spektrum) regulatoriese goedkeuring verg, is ’n besluit wat die owerheid nooit net aan die partye kan oorlaat om oor te besluit nie,” sê Willington Ngwepe, hoof van Okosa.
Die owerheid het nie aangedui wat die volgende stappe gaan wees, en of hy die ooreenkoms gaan opskort totdat hy dit ondersoek het nie.
Intussen het Okosa ook aangedui hy is bewus van berigte dat Telkom ’n aanbod gedoen het om Cell C oor te koop.
Hy het gewaarsku dat só ’n stap ook onderhewig sal wees aan streng regulatoriese goedkeuring.