Die Onafhanklike Kommunikasieowerheid (Okosa) sê in ’n verklaring hy weet niks van ’n beplande oorname van Cell C deur Telkom nie.

Dylan Richardson van die Sharks. Dié span word deur Cell C geborg. Foto: Getty Images
Daar is Dinsdag wyd berig dat Telkom ’n aanbod gemaak het om die sukkelende Cell C te koop.
Geen formele aankondiging hieroor is al deur enige van die partye gedoen nie, hoewel Telkom wel aandeelhouers in ’n omsigtigheidsverklaring op Sens, die JSE se nuusdiens, gewaarsku het dat ’n groot verkryging in die pyplyn is.
Okosa het Woensdag gesê hy neem kennis van hierdie berigte, sowel as berigte van Cell C se voortslepende finansiële verknorsing.
Cell C se skuld beloop reeds byna R9 miljard.
Die owerheid waarsku egter dat enige oorname van Cell C deur Telkom of enige ander maatskappy onderhewig sal wees aan regulatoriese goedkeuring.
Cell C is ook reeds geruime tyd besig om met MTN te onderhandel om van sy netwerkinfrastruktuur gebruik te maak in ’n poging om koste te besnoei.
Volgens Okosa moet hy ook nog ingelig word van enige formele ooreenkoms in daardie verband.
Tog verwelkom die owerheid die pogings om Cell C “se voortbestaan te verseker”.
Die reguleerder meen dit is in die beste belang van die Suid-Afrikaanse telekommunikasiebedryf dat Cell C ’n lopende saak bly omdat dit verseker dat die publiek toegang het tot ’n wye verskeidenheid bekostigbare opsies vir selfoondienste.
Telkom het nog glad nie op die gerugte gereageer nie, afgesien van die omsigtigheidsverklaring Dinsdag.
Cell C het wel in reaksie op die mediaberigte Woensdag ’n verklaring uitgereik waarin hy op die “onlangse bespiegelinge” reageer.
Hy bevestig of ontken nie dat onderhandelinge tans met Telkom plaasvind nie en sê net hy bly daartoe verbind om “bedryfsdoeltreffendheid” vir sy kliënte te verseker.
Hy maak ook melding van die “gevorderde stadium” van sy onderhandelinge met MTN rakende ’n ooreenkoms om dié diensverskaffer se infrastruktuur te benut.
Cell C het ook intussen onafhanklike regskenners en finansiële adviseurs aangestel om hom te help om sy skuld te bestuur.