Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Party webwerwe staan, ander steier op Swart Vrydag
Besoekers aan OneDayOnly.co.za se webwerf is Vrydag deur dié boodskap begroet.

Die meeste e-handelaars se webwerwe het vanjaar in die eerste paar uur van Swart Vrydag staande gebly.

Takealot, wie se gewilde Blue Dot Sale om middernag begin het, se webwerf het regdeur die besige oggend aanhou werk.

Daar was geen klagtes op sosiale media oor Takealot se webwerf of app wat van lyn af gegaan het nie.

Superbalist, waarvan Takealot ’n groot deel besit, se webwerf was ook Vrydagoggend sonder probleme. Betalings is naatloos voltrek en in e-posboodskappe beloof die aanlyn klerewinkel artikels sal voor die einde van aanstaande week afgelewer word.

Waar alles sover vlot verloop vir Takealot en Superbalist, gaan dinge ’n bietjie slegter by OneDayOnly.co.za. Dié e-handelaar se webwerf het vroegoggend ineengestort en winskopiejagters het teen vroegmiddag eers weer toegang verkry.

Sy (betreklik nuwe) app het wel deurgaans gewerk, maar goggas het ook ingesluip met sommige betaalmetodes.

OneDayOnly.co.za het juis Donderdag aan Netwerk24 gesê hy is “slaggereed” vir die toestroming van besoekers na sy webwerf op Swart Vrydag.

Volgens ’n woordvoerder het OneDayOnly.co.za se ingenieurs juis sy webwerf se vermoë vergroot om heelwat meer gebruikers op ’n slag toe te laat.

Dit blyk die uiteindelike toestroming van gretige inkopiegangers was erger as wat die e-handelaar verwag het.

Sy webwerf het kort ná 07:00 ophou werk en was ure later steeds van lyn.

OneDayOnly.co.za het ’n groot bohaai opgeskop met sy aanbod van tot 100% afslag op sekere artikels op Swart Vrydag.

Inkopiegangers wat toevallig ’n sekere artikel op ’n sekere tyd in hul mandjie plaas, sou daardie artikel gratis ontvang.

OneDayOnly.co.za adverteer die aanbod steeds op sy webtuiste en app, maar verklap ook nie watter artikels by die aanbod ingesluit is nie. Die afslag op ander produkte wissel tussen 25% en 70%.

Die webwerwe van gewilde groothandelaars soos Game en Makro het ook Vrydag skynbaar sonder enige probleme gewerk. Baie winkelgroepe het Suid-Afrikaners aangeraai om vanjaar winskopies aanlyn te koop weens die koronaviruspandemie.

E-handelaars se webwerwe stort gereeld ineen op Swart Vrydag. Foto: Pixabay

Winkelsentrums oor die land heen was vroegoggend betreklik leeg in vergelyking met vorige jare op Swart Vrydag.

Meer en meer mense het wel later begin opdaag en moes in sommige sentrums in lang toue wag om toegang tot sekere winkels te kry.

Sommige winkelgroepe het hul aanbiedinge vir Swart Vrydag verleng om stormlope en groot groepe mense op die dag te vermy.

Game, wat reeds baie van sy promosies die hele maand al aanbied, het sy gebruiklike middernagtelike opening van winkels vir Swart Vrydag gekanselleer.

Handelsure is wel van Woensdag af verleng en die meeste van sy winkels is op Swart Vrydag van 06:00 tot 20:00 oop.

Aanlyn waarsku Game op sy webtuiste dat aflewering van artikels tot 14 werksdae kan neem weens hoë volumes in bestellings.

Meer oor:  Onedayonly.Co.Za  |  Takealot  |  Aanlyn Inkopies  |  Swart Vrydag  |  E-Handelaar  |  Inkopies  |  Ekonomie  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.