Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Naspers: Só moet aandeelhouers nou kies

Naspers-aandeelhouers moet eersdaags ’n moeilike besluit neem: Wil hulle aandele in die nuwe maatskappy hê wat Naspers op die Euronext-aandelebeurs in Amsterdam noteer of wil hulle eerder nog Naspers-aandele hê?

Koos Bekker, voorsitter van Naspers se direksie. Foto: Lerato Maduna

Een van die faktore wat hul besluit kan beïnvloed, is belasting: Kapitaalwinsbelasting gaan onmiddellik ter sprake wees indien hulle kies om aandele in die sogenaamde NewCo te ontvang, terwyl dit slegs ter sprake word wanneer hulle eendag hul nuwe Naspers-aandele verkoop.

Naspers het Woensdagoggend op Sens die besonderhede uitgestippel vir die notering van die NewCo, asook die belangrike datums waarby Naspers-aandeelhouers moet hou.

Naspers het op 25 Maart aangekondig hy gaan al sy internetbates op die Euronext Amsterdam noteer. Dit sluit in sy belange in die Chinese en Russiese internetreuse Tencent en Mail.ru, asook ondernemings soos OLX, Delivery Hero, Swiggy, PayU en iFood.

Naspers se Suid-Afrikaanse mediabelange (Media24, waarvan Netwerk24 ’n publikasie is) en e-handelbelange (Takealot en Property24) word nié deel van die NewCo nie.

Die nuwe maatskappy, wat steeds nie ’n naam het nie, gaan volgens Woensdag se Sens-verklaring na verwagting reeds op 17 Julie op die Euronext noteer. Dit gaan ’n inwaartse, sekondêre notering op die JSE kry.

Eers moet aandeelhouers egter dié enorme stap goedkeur. ’n Spesiale algemene vergadering word op Vrydag 28 Junie in Kaapstad gehou waarop die resolusie met 75% van stemme moet slaag.

In die Sens-verklaring doen die direksie ’n beroep dat aandeelhouers die resolusie goedkeur, soos die direkteure ook self gaan doen: “Elkeen van die direkteure beoog om met al die stemreg van die aandele wat hulle besit, ten gunste van die resolusie te stem.”

Die groep sit ook weer die motivering agter die stap uiteen (sien kassie).

Aandeelhouers se keuse word nou duidelik uiteengesit. Hulle kan een van twee dinge doen:

  • Een Naspers M-aandeel aanvaar vir elke een N-aandeel wat hulle besit. Die M-aandele is ’n nuwe klas aandele, terwyl die N-aandele Naspers se gewone aandele is wat elkeen een stem per aandeel verteenwoordig. Elke M-aandele gaan egter kort daarna ingeruil word vir een NewCo-aandeel.
  • 0,36986 Naspers N-aandele aanvaar vir elke N-aandeel wat hulle besit. Die verhouding van 0,36986 Naspers N- gewone aandele pleks van een Naspers M- gewone aandeel (en dus later een NewCo- gewone aandeel) weerspieël die verhouding tussen die byna 439 miljoen N-aandele en die 1,12 miljard NewCo N-aandele wat uitgereik sal wees as die transaksie deurgevoer is.

Albei keuses hou belastingimplikasies in, maar nie noodwendig onmiddellik nie. Die aandele wat aan aandeelhouers uitgereik word, word geag niks werd te wees nie. Dit beteken as mense later hul aandele verkoop, sal die volle aandeelprys as kapitaalwins by hul inkomste gevoeg moet word vir belastingdoeleindes (minus enige toelaatbare aftrekkings).

Algemene vergadering

Die algemene vergadering word op Vrydag 28 Junie om 11:15 in die Protea-saal op die eerste verdieping van die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum 2 op die hoek van Heerengracht en Rua Bartholomeu Dias, in die strandfrontgebied van Kaapstad, gehou.

Die ruil van Naspers M-aandele vir NewCo N-aandele is egter onmiddellik belasbaar. Die opbrengs is gelykstaande met die markwaarde van die NewCo N- gewone aandele met notering.

Effektiewelik beteken dit dat die ontvangs van nog N-aandele vir eers belastingvry is (totdat dit later verkoop word), maar die ontvangs van M-aandele (wat NewCo-aandele word) is ’n belasbare gebeurtenis vir sekere Suid-Afrikaanse belastingbetalers.

Aandeelhouers mag nie met ’n persentasie van hul aandele een opsie kies en met die res die ander opsie nie – hulle moet dieselfde keuse vir al hul aandele uitoefen.

Meer inligting

Die omsendbrief, keusevorm en ander belangrike inligting kan op www.naspers.com verkry word.

Woensdag om 10:30 word ’n video op www.newglobaltechgroup.com geplaas waarin Bob van Dijk, Naspers en die NewCo se uitvoerende hoof, die voorgenome notering bespreek.

Daar is ’n perk van net meer as 61 miljoen op die aantal nuwe N-aandele wat uitgereik sal word. As meer mense dus dié opsie kies as wat aandele beskikbaar is, sal mense ’n aantal M-aandele (wat later NewCo-aandele word) moet aanvaar.

Aandeelhouers kan vanaf 1 Julie hul keuse uitoefen. Dit sluit op 19 Julie.

Ná die hele proses sal Naspers as groep minstens 73% van die belang in die NewCo hou, wat beteken plaaslike aandeelhouers sal tog ook deel in die NewCo se groei.

Naspers sal na verwagting volgens markkapitalisasie die grootste Suid-Afrikaanse maatskappy bly wat op die JSE genoteer is.

Wat van Naspers se A-aandele?

Op die oomblik het Naspers se A-aandele, ’n klas aandele met veel hoër stemreg as N-aandele, 68,37% van die stemreg in Naspers en N-aandele 31,63%. As nog N-aandele uitgereik word aan mense wat dié opsie kies bo aandele in NewCo, moet Naspers dienooreenkomstig nog A-aandele uitreik om die stemreg onveranderd te hou.

Motivering vir die transaksie

Die Sens-verklaring verduidelik weer waarom Naspers ’n “kloon” (minus sy Suid-Afrikaanse belange) oorsee noteer:

“Naspers het ’n lang geskiedenis van beleggings in tegnologiemaatskappye om groei te onderskep, en het homself herskep van ’n maatskappy in die drukmedia, betaaltelevisie en videovermaak in een van die top-10- wêreldwye internetmaatskappye volgens markkapitalisasie. “Deur sy groei het die maatskappy beduidende waarde vir sy aandeelhouers geskep.

“Die maatskappy verteenwoordig tans byna 25% van die JSE se aandeelhouersgeweegde indeks (Swix), vergeleke met 5% in 2013, en sy buitengewone gewig op die JSE en in belangrike FTSE/JSE-indekse is hoër as die meeste Suid-Afrikaanse institusionele beleggers se perke vir ’n enkele aandeel. Dis ongewoon dat ’n enkele aandeel so ’n buitengewone gewig dra vergeleke met ander indekse.

“As gevolg van die beleggingsperke op enkele maatskappye en beperkings ingevolge hul mandaat, is baie Suid-Afrikaanse institusionele beleggers gedwing om hul aandele in Naspers te verkoop namate Naspers gegroei het.

“Ná omsigtige en omvattende evaluasie van die meriete van ander strategiese opsies tot die maatskappy se beskikking, is die gevolgtrekking bereik dat die voorgestelde transaksie die belowendste manier is om hierdie markdinamika op te los en verdere aandeelhouerswaarde te skep. Die voorgestelde transaksie het ten doel om hierdie markvraagstukke op te los en is die volgende beduidende stap wat die Naspers-bestuur neem om verdere aandeelhouerswaarde te skep.

“Naspers glo dat die voorgestelde transaksie ’n beduidende stap vir Naspers is en ’n nuwe geleentheid daarstel vir wêreldwye internetbeleggers om toegang te kry tot Naspers se unieke portefeulje van internasionale internetbates. “Naspers wil deur middel van die Voorgestelde Transaksie sy indeksgewig op die JSE verminder en terselfdertyd ’n nuwe platform skep om inkrementele vraag te lok vanuit ’n breër verskeidenheid wêreldbeleggers.

“Naspers glo dat die voorgestelde transaksie goed inpas by sy voortgesette groei-ambisies en sal help om aandeelhouerswaarde mettertyd te verhoog.”

  • Netwerk24 is ’n produk van Media24, ’n Suid-Afrikaanse media- en e-handelmaatskappy wat aan Naspers behoort. Media24 word nie deel van die nuwe maatskappy wat in Amsterdam gaan noteer nie.
Meer oor:  Takealot  |  Naspers  |  Mail.Ru  |  Tencent  |  Media24  |  Bob Van Dijk  |  Koos Bekker  |  Internet  |  Kosaflewering  |  Media  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.