Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Pasop! Dié nuwe Huawei werk net in sommige lande
Die nuwe Honor 10 Lite is reeds in Vodacom-winkels beskikbaar. Foto: Petrus Malherbe

Los maar liewer jou nuwe Honor 10 Lite by die huis as jy beplan om na Amerika of Australië te gaan.

Volgens die vervaardiger gaan dié toestel weens “regulatoriese redes” nie in daardie lande werk nie.

Honor is ’n filiaal van die Chinese Huawei.

Die nuwe Honor-slimfoon is einde Maart bekend gestel en reeds sedert die begin van April in Vodacom-winkels beskikbaar.

Die foon word egter verskeep met ’n boodskap in die boks wat lui dat die toestel net bedoel om in lande in Europa, die Midde-Ooste en Afrika gebruik te word.

Volgens die boodskap kan die foon nie swerf (roam) op netwerke in ander lande nie.

Dit beteken die Honor 10 Lite sal nie in onder meer die Verre-Ooste, Noord- of Suid-Amerika werk nie.

Dieselfde geld Australië en Nieu-Seeland.

Hoewel Honor sy produkte afsonderlik verkoop en bemark, bestaan sy toestelle uit dieselfde onderdele as Huawei s’n.

By navraag het Honor bevestig dat sy nuwe foon net werk in die lande wat op die boodskap binne die boks gemeld word.

“Die toestel is nie gesertifiseer om in Amerika gebruik te word nie, omdat ons nie beplan om dit daar bekend te stel nie” sê die maatskappy in ’n e-pos.

Dit word bloot om “regulatoriese redes” gedoen, voeg hy by.

Huawei en die Amerikaanse regering stamp al etlike maande koppe oor die maatskappy se beweerde bande met die Chinese regering en dat daar deur middel van sy toestelle op Amerikaanse burgers gespioeneer word.

Die tegnologievervaardiger probeer reeds al langer as ’n jaar tevergeefs om die gerugte nek om te draai.

Reguleerders in Amerika het reeds in April verlede jaar die gebruik van enige Huawei-produkte, insluitend Wi-Fi-herleiers en -slimfone, deur lede van die weermag verbied.

Sowel Australië as Nieu-Seeland het ’n soortgelyke verbod op die gebruik van Huawei-toerusting ingestel.

Siende dat Honor deel van die Huawei-stal uitmaak, is dit logies dat die toestel ook in geen van hierdie lande bekend gestel gaan word of selfs daar gaan werk sou iemand dit van elders daarheen neem nie.

    

Is dit darem ’n goeie foon?

    

Netwerk24 het kort ná die bekendstelling van die Honor 10 Lite berig dat die foon gemik is op ’n jonger generasie wat gek is daaroor om selfies te neem.

Raymond Liu, hoof van Honor in Suid-Afrika, het die feit benadruk dat dié foon enigiemand “op sy of haar héél mooiste” sal laat lyk.

Die foon beskik oor ’n uitstekende selfiekamera, maar voel baie plastiekerig. Foto: Petrus Malherbe
Teen die goedkoop prys is dit wel ’n goeie kopie.Foto: Petrus Malherbe

En dit is waar. Die Honor 10 Lite beskik oor ’n uitstekende selfiekamera met 24 megapiksels wat boonop kunsmatige intelligensie gebruik om jou voorkoms te “verbeter”.

Sommiges sal dié foefie geniet, maar ander sal frons om te sien hoe “anders” die foon se kamera jou laat lyk.

Die kamera verwyder as’t ware jou plooie, maar laat jou met ’n onnatuurlike gloed. Dié funksies kan in die foon se verstellings aangepas word, maar as ’n reël is dit geaktiveer.

Buiten daarvoor is die Honor 10 Lite ’n standaard-middelklasfoon soos vele ander Huawei- en Samsung-produkte in dieselfde prysklas.

Teen net R4 599 is dit waarskynlik te wagte dat die foon se verwerker nie die beste in die mark sal wees nie. Derhalwe was dit geen verrassing nie dat speletjies soms bietjie op die Honor 10 Lite vasgehaak het.

Die toestel beskik ook oor net 3 gigagrepe geheue, wat ’n bietjie min is vir enigiemand wat graag speletjies op hul foon speel.

Die ruim ingeboude 64 gigagrepe stoorplek is wel ’n lekker bonus.

Die Honor 10 Lite se ingeboude luidsprekers laat ook veel te wense oor, asook sy plastiekraam en -agterkant.

Maar as jy verby sulke tekortkominge kan kyk en net fokus op die prys en uitstekende selfiekamera, is die Honor 10 Lite nie ’n slegte kopie nie.

Die toestel is vir eers net in Vodacom-winkels vir kontant of op kontrak beskikbaar.

Meer oor:  Huawei  |  Slimfoon  |  Tegnologie  |  Selfoon
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.