Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Pasop vir dié slenters, waarsku DStv
MultiChoice waarsku intekenare teen verskeie slenters wat DStv-kykers teiken. Foto: Unsplash

DStv-kykers moet katvoet wees vir talle slenters wat spesifiek intekenare van hierdie betaaltelevisiediens in die visier het, waarsku MultiChoice, die eienaar van DStv.

Die maatskappy lys minstens vyf verskillende slenters wat in die laaste paar weke sy intekenare teiken.

“Booswigte gebruik verskillende taktieke om óf intekenare uit hul geld te bedrieg, óf om hul persoonlike inligting te bekom.”

Hier is ’n uiteensetting van die verskillende slenters waarteen MultiChoice waarsku.

Die ‘geskenkbewys’

Intekenare ontvang ’n e-pos met die blye nuus dat hulle ’n geskenkbewys of ’n groot som geld by MultiChoice ontvang as beloning vir hul lojaliteit.

Die e-pos vra dan vir die intekenaar se persoonlike inligting voordat die prys opgeëis word.

‘Finale kennisgewing’ per SMS

Sommige intekenare het ’n SMS ontvang waarin dit voorkom hul DStv-rekening is agterstallig.

Die dreigende boodskap voer aan die intekenaar se dienste gaan opgeskort word tensy daar dadelik ’n betaling in die meegaande bankrekening gemaak word.

Dié SMS is nie van MultiChoice afkomstig nie, en die betrokke bankbesonderhede behoort ook nie aan die maatskappy nie.

DStv-intekenare kan te alle tye seker maak van enige agterstallige skuld of uitstaande betalings op die DStv-app of aanlyn.

Plasings op sosiale media

Boosdoeners teiken ook werksoekers, waarsku MultiChoice.

Daar is verskeie vals advertensies op Facebook en Twitter vir poste by DStv wat nie bestaan nie.

Van die advertensies bied selfs aan om werksoekers na ’n onderhoud te vervoer, iets wat MultiChoice nooit sal doen nie, sê hy.

“Wees asseblief waaksaam. As jy daarin belangstel om vir MultiChoice te werk, soek vir geleenthede op ons webwerf.”

DStv Premium ‘teen ’n eenmalige bedrag’

In ’n ander slenter teiken boosdoeners intekenare van DStv se goedkoper pakkette en bied hulle ’n opgradering tot DStv Premium, maar teen ’n eenmalige bedrag.

Die skelms gee een bedrag en sê dit gee toegang tot DStv Premium vir ’n jaar.

Dié bedrag moet dan ook aan hulle oorbetaal word, eerder as aan DStv self.

MultiChoice waarsku dat intekenare te enige tyd self na DStv Premium kan opgradeer, en dat betalings nooit aan derdepartye gemaak moet word in hierdie verband nie.

Bedrog deur ‘installeerders’

Swendelaars wat hulself voordoen as geakkrediteerde installeerders van DStv, bied intekenare onrealistiese dienste soos gratis opgraderings na duurder pakkette teen ’n minimale eenmalige bedrag.

Elkeen van DStv se geakkrediteerde installeerders is van ’n unieke ID-kaart voorsien. As die persoon dit nie kan lewer nie, moenie sy dienste gebruik nie, waarsku MultiChoice.

Meer oor:  Dstv  |  Betaaltelevisie  |  Multichoice  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.