Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
‘Paspoort’ as bewys van inenting dalk gou nodig

Jy sal dalk eersdaags moet bewys dat jy met die Covid-19-entstof ingeënt is as jy wil terugkeer na ’n normale lewe – veral as jy wil reis.

Reisigers gaan eersdaags talle opsies hê om te kan bewys hulle óf ingeënt is óf negatief getoets is vir die virus wat Covid-19 veroorsaak. Foto: Unsplash

Groot maatskappye, gesondheidsorganisasies en ondernemings sonder winsbejag het verlede week aangekondig dat hulle gaan saamwerk om ’n digitale “inentingspaspoort” te skep wat wêreldwyd gebruik kan word om te bewys dat jy het wel teen die koronavirus ingeënt is.

Die Vaccination Credential Initiative (VCI), ’n koalisie van organisasies soos Microsoft, Oracle, Salesforce, Cerner, Epic Systems en die Mayo Clinic, ontwikkel nou tegnologiese standaarde om te verifieer dat iemand ingeënt is.

Dié “paspoort” sal toelaat dat enigiemand vanaf ’n slimfoon ’n geverifieerde afskrif kan deel van die mediese bewys dat hulle ingeënt is.

Hiermee probeer die organisasies help dat mense na ’n normale lewe kan terugkeer. Dit sal ook verseker dat mense nie sommer oor hul immuniteitstatus teen Covid-19 kan jok nie.

“Soos die wêreld begin herstel van die pandemie, is dit noodsaaklik om elektroniese toegang tot inenting, toetsing en ander mediese opgawes te hê sodat reis en ander dinge hervat kan word,” het Mike Sicilia, uitvoerende vise-president van Oracle se Global Business Units, gesê.

“Die proses moet net so maklik soos aanlyn bankdienste wees. Ons is daartoe verbind om saam te werk met die tegnologie- en mediese gemeenskap, sowel as regerings oor die wêreld heen om te verseker dat mense waar en wanneer ook al nodig veilige toegang tot die inligting het.”

Die doel van die VCI is om individue met digitale toegang tot hul inentingsgeskiedenis te bemagtig sodat hulle instrumente soos CommonPass kan gebruik om veilig na hul werk, reise, skool en lewe terug te keer, terwyl hulle hul privaatheid beskerm, sê Paul Meyer uitvoerende hoof van The Commons Project Foundation.

“Oop standaarde en die wederkerige gebruik van inligting is die kern van VCI se pogings en ons sien daarna uit om die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en ander wêreldwye belanghebbendes te ondersteun om dit ook vir gesondheidsdata daar te stel.”

Intussen het die lugdienste Emirates en Etihad in samewerking met die Internasionale Lugvervoervereniging (Iata) ’n nuwe app bekendgestel wat ook ’n “digitale paspoort” skep vir reisigers wat moet kan bewys dat hulle óf ingeënt is óf negatief getoets is vir die virus wat Covid-19 veroorsaak.

Die app laat reisigers toe om hul sertifikate op te laai voordat hulle by die lughawe aankom. Dit word dan outomaties deurgevoer na die lugdiens en die lughawe vir wanneer die reisiger wil inteken vir die vlug.

Die app, Iata Travel Pass, sal vir eers beperk wees tot die Midde-Ooste en dié twee lugdienste, maar mik om ná April na meer lugdienste en meer bestemmings uitgebrei te word.

Meer oor:  Lugdienste  |  Inenting  |  Entstof  |  Covid-19  |  Tegnologie  |  Reis  |  Paspoort  |  Lughawens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.