Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
‘Piesang’ en ‘doos’ saam vroegaand verbied op TV
Die Advertensiebeheerraad het bevind die woorde “doos” en “piesang” mag nie vroegaand saam in ’n TV-advertensie gebruik word nie. Foto: Unsplash

Dis onvanpas om vroegaand die woorde “piesang” en “doos” saam in ’n advertensie te gebruik, het die Advertensiebeheerraad (ABR) bevind.

Die beheerraad is oorval met klagtes van kykers wat ontevrede is met ’n nuwe TV-advertensie van die koerierdiens The Courier Guy waarin die woorde met ’n duidelike seksuele ondertoon gebruik word.

In die advertensie vir The Courier Guy se nuwe Pudo-diens, stuur ’n man (gespeel deur die komediant Schalk Bezuidenhout) ’n opgestopte piesang vir sy “meisie” in Philippolis.

Bezuidenhout praat in ’n mengsel van Afrikaans en Engels en sê in ’n stadium om ’n pakkie met Pudo te stuur, is “so maklik soos om iets in ’n doos te sit”.

Die woord “doos” is Afrikaans terwyl die res van die sin Engels is.

“Vind net die regte grootte ‘doos’ vir jou ‘piesang’,” sê Bezuidenhout se karakter verder.

“Daar is klein, medium, groot en selfs ekstragroot (bokse beskikbaar),” voeg hy by, en knipoog vir die kamera.

In ’n volgende toneel verskyn Bezuidenhout weer, maar aangetrek soos ’n blonde vrou, kwansuis die vriendin aan wie sy eerste karakter die opgestopte piesang gestuur het.

Bezuidenhout (as ’n vrou) is oorstelp van blydskap oor die opgestopte piesang en sê “sy slaap altyd beter saam met Schalk se piesang”.

Kykers hou nie van dié woorde nie.

Daar is by die ABR gekla dit is “vulgêr” en “kwetsend” aangesien dit seksuele ondertone bevat.

Een van die klaers sê nadat haar negejarige dogter die advertensie gesien het, het sy herhaaldelik gesê sy gaan nou die regte grootte “doos” vir haar “piesang” soek.

Die klaer meen die advertensie maak Suid-Afrikaners ongevoelig vir die erns van geslagsgeweld.

Adverteerder se ‘bedoeling is duidelik’

Die ABR het met die klaers saamgestem in soverre die gebruik van die woord “doos” en “piesang” in die advertensie ’n seksuele ondertoon het.

The Courier Guy het in reaksie aan die beheerraad gesê die woorde is “onskuldig” en beteken doodeenvoudig “boks” en ’n tropiese vrug.

Volgens die adverteerder heg kykers hul eie “vulgêre konnotasies” aan die betekenisse van die woorde “sonder om die definisies daarvan te verstaan”.

The Courier Guy sê dis nie sy skuld as kykers nie die betekenisse van die woorde behoorlik begryp nie.

Die ABR het egter nie met hom saamgestem nie en haal die drie moontlike definisies van die woord “doos” aan soos in die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT).

Een daarvan is dat dit na die vroulike geslagsorgane kan verwys.

Die “dubbele betekenis” van die woord in die advertensie is dus duidelik, sê die beheerraad.

As die adverteerder werklik net na ’n gewone boks wou verwys, sou hy eerder die woord “box” as “doos” in sy andersins heeltemal Engelse advertensie gebruik het.

“Die enigste redelike rede om die Afrikaanse woorde ‘doos’ en ‘piesang’ te gebruik, is om die alternatiewe betekenis van die woord ‘doos’ te impliseer en daardeur humor te skep,” sê die ABR.

Daarom, en omdat die gebruik van ’n opgestopte speelgoedpiesang die aandag van jong kinders sal lok, mag die advertensie voorts net tussen 20:00 en 05:00 uitgesaai word.

Hier is die betrokke advertensie:

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.