Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Please Call Me: Kitsryke skerm vir sy miljarde

Die twis oor Vodacom se Please Call Me-diens betrek nou ook ’n handtekening wat na bewering vervals is en finansiers wat 50% van die rykdom soek.

Kenneth Nkosana Makate, skepper van Please Call Me. Foto: Leon Sadiki

Kenneth Nkosana Makate, die skepper van die diens, staan bont vir eise van sy finansierders wat hul deel soek.

Hy wil klaarblyklik nie 50% van sy kitsrykdom deel met die mense wat die eerste R2 miljoen van sy regskoste betaal het nie. Hy sê hy het die ooreenkoms met die aanvanklike finansiers gekanselleer.

Die konstitusionele hof het in April 2016 in ’n opspraakwekkende uitspraak beslis Makate is die eintlike skepper van die diens. Die hof het Vodacom beveel om in goeder trou met Makate te begin onderhandel oor vergoeding, maar Vodacom het die afgelope week aan Rapport gesê die onderhandelinge het ’n dooiepunt bereik.

Bongo Futuse van Vodacom SA sê die saak is nou voor Vodacom se uitvoerende hoof, wat voorleggings van albei partye oorweeg. Die onderhandelinge is vertroulik. City Press, susterskoerant van Rapport, het vroeër berig Makate se eis kan tot R10,5 miljard wees.

Vodacom het intussen ’n interdik teen Makate bekom dat hy niks oor die onderhandelinge mag uitlap nie. Maar Makate het ’n nuwe wolf by die deur, blyk uit die jongste hofsaak oor dié sage.

Makate kon nie die duur litigasie bekostig wat nodig was om sy saak teen Vodacom te bewys nie. Hy het daarom ’n finansieringsooreenkoms met Christiaan Schoeman gesluit, lui hofstukke in die hooggeregshof in Pretoria.

Schoeman is in Oktober 1999 deur die destydse Natalse afdeling van die hooggeregshof as advokaat geskrap.

Schoeman het ook nie genoeg geld gehad vir die sowat R2 miljoen wat die aanvanklike hofsaak gekos het nie.

Hy het ander gekry om te “belê” in die hofsaak en die finansieringsooreenkoms is volgens hom met die maatskappy Raining Men waarin hy en die ander aandele het. Die ooreenkoms waarop Schoeman hom beroep, bepaal dat Makate 50% van sy uitbetaling aan die finansiers sal gee.

Sake het egter meer gekompliseerd geraak toe die geld vir regskoste opgedroog het. Teen einde 2014 het Makate nog opdraande gehad in sy hofsaak en hy moes die saak verder voer. Die saak was in daardie stadium in die appèlhof.

Makate het ’n nuwe prokureur in Januarie 2015 aangestel, wat die aanvanklike finansieringsooreenkoms met Schoeman en Raining Men gekanselleer het.

Luidens hofstukke is Schoeman en Raining Men se belangstelling opnuut geprikkel in September 2015 toe dit lyk of Makate suksesvol kon wees.

Schoeman-hulle het toe ’n dispuut met Makate verklaar, wat nog voor ’n arbiter hangend is.

Schoeman het die hooggeregshof in Pretoria in 2016 genader om Makate te verbied om ander regsverteenwoordigers te gebruik en die ou finansiers uit te sluit. Dié saak is geskik: Makate kon voortgaan om aan te stel wie hy wou en enige geld wat Vodacom uitbetaal het, sou eers in ’n trustrekening van ’n prokureursfirma betaal word totdat die dispuut deur arbitrasie opgelos is oor wie waarop geregtig is.

Schoeman-hulle vra die arbiter om te bevind dat die finansieringsooreenkoms bindend is op al die partye en dat óf hy óf Raining Men ’n party tot die ooreenkoms is. Makate trek egter Raining Men se benoeming in twyfel. Makate sê ook sy kansellering van die ooreenkoms is geldig. Schoeman het daarna van plan verander. Hy wou hê die hof moet die skikking wysig en die arbitrasieplan skrap. Hy wou eerder die dispuut in die hof laat oplos.

Makate het teruggekap dat Schoeman sy regstwis met hom wil uitrek sodat hy nie die vrugte van sy oorwinning oor Vodacom kan geniet nie.

Makate betwis met wie hy ’n ooreenkoms aangegaan het en of dit regtig Raining Men was. Volgens hom is sy handtekening op ’n addendum van die ooreenkoms vervals.

Regter Neil Tuchten het einde Augustus Schoeman se aansoek om die skikking te wysig, van die hand gewys.

Tuchten het gesê Schoeman het in die skikking arbitrasie “gekies”, maar wil nou vir onoortuigende redes van plan verander en eerder hof toe gaan. Die twis moet dus verder deur ’n arbiter beslis word.

Meer oor:  Vodacom  |  Selfoonmaatskappye  |  Please Call Me
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.