Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Popia-wet glo binnekort van krag
Popia beloof wêreldgehalte-beskerming vir verbruikers teen data-diewe. Foto: Reuters

Meer as ’n dekade nadat die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (Popia) vir die eerste keer ter tafel gelê is, sê die reguleerder 2020 is dié jaar waarin dit uiteindelik in werking gestel moet word.

Popia beloof wêreldgehalte-beskerming vir verbruikers teen onder meer oproepsentrums wat hulle verpes en data-diefstalle by sakeondernemings, maar is ook vir baie ondernemings ’n ontwikkelende migraine wat hulle ekstra geld en moeite gaan kos.

Die wet is al in 2013 deur die president onderteken, maar die meeste bepalings van Popia is nog nie in werking nie.

Die Inligtingsreguleerder (IR), wat verantwoordelik is vir die toepassing van Popia, het nou uiteindelik stappe begin doen om ’n regsraamwerk te skep vir implementering.

’n Groot oponthoud was ’n 18 maande lange dooiepunt tussen die tesourie en die IR oor finansiering, maar dié is nou bygelê.

Die IR sê Popia moet vanjaar ten volle van krag word en dat hy in gesprek is met die president hieroor.

Die IR sê sy begroting van R40 miljoen vir die 2020-’21-boekjaar is te min, maar die werk sal solank voortgesit word en onderhandelinge vir meer geld voortgaan.

Sedert die geskil oor die finansiering bygelê is, is ’n uitvoerende hoof en vyf uitvoerende bestuurders aangestel. Net die pos van uitvoerende hoof vir opleiding en kommunikasie is nog vakant en sal hopelik in die eerste helfte van die jaar gevul word, sê die IR.

Karl Blom, ’n senior vennoot by die regsfirma Webber Wentzel, sê dis goeie nuus en Suid-Afrika is nou in ’n beter posisie as twee of drie jaar gelede, maar dit beteken nie die volle implementering is noodwendig naby nie.

Wanneer die wet ten volle van krag word, het maatskappye een jaar grasie om alles in orde te kry vir nakoming.

Blom sê sedert die geldgeskil opgelos is, het die IR onder meer bykomende regulasies gepromulgeer en konsepriglyne gepubliseer vir die opstel van gedragskodes in verskillende bedrywe.

Ondanks dié momentum kan iets soos die opstel van gedragskodes wat nou moet gebeur, lank duur. Blom sê dit sal makliker wees vir bedrywe soos die mediese en die regsberoepe wat die vertroulikheid van mense se gegewens verstaan, maar ander sektore soos onderwys kan langer neem. Gedragskodes sal by die IR ingedien word vir goedkeuring en eers dan van krag word.

Elizabeth de Stadler van Novation Consulting en ’n kenner van Popia en verbruikerswetgewing, sê die IR het in die tweede helfte van 2019 heelwat belangrike aanstellings gemaak.

Sy sê sy het simpatie met die IR se uitdagings en meen dit sou onverantwoordelik wees van die reguleerder om Popia te implementeer sonder die nodige personeel en infrastruktuur in plek.

Tog is die vertragings om die IR se werksaamhede op dreef te kry veral sleg vir Suid-Afrikaanse verbruikers wat nie hul volle reg tot die beskerming van hul persoonlike inligting kan afdwing soos in die wet vervat nie, sê sy.

Volgens Blom het verbruikers wel ’n mate van beskerming teen telebemarkers ingevolge die nasionale Verbruikerswet en die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies. Dit bied egter nie soveel beskerming soos Popia nie.

Meer oor:  Data  |  Kuberkrakers  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.