Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Pornhub maak webwerf ‘veiliger’

Pornhub, een van die wêreld se grootste platforms vir pornografiese video’s, gaan harder probeer om kinder- en wraakpornografie van sy webwerf af te hou.

Sogenaamde wraakpornografie, wanneer ’n eks die voormalige paartjie se private video’s op die webwerf Pornhub laai, is onwettig. Foto: iStock

Die webwerf het groot veranderinge aan sy gebruiksvoorwaardes aangekondig in ’n poging om die oplaai van onder meer video’s met kinders en ander onwettige materiaal te stuit.

Dit kom nadat die Pulitzer-bekroonde joernalis Nicholas Kristof op 4 Desember in The New York Times onder die opskrif “The Children of Pornhub” geskryf het oor verskeie gevalle waarin kinders uitgebuit is en die vroue selfs jare later nie kan ontsnap aan video’s wat net keer op keer op die webwerf gelaai word nie.

Dit sluit in sogenaamde wraakpornografie, wanneer ’n eks die voormalige paartjie se private video’s op die webwerf laai en gevalle waarin vroue verkrag word nadat hulle bedwelm is.

In ’n nuusverklaring kondig Pornhub onder meer die volgende aan:

  • Slegs gebruikers wat behoorlik geïdentifiseer is, sal video’s kan oplaai. Die proses om gebruikers te verifieer sal in 2021 uitgebou word. Intussen is alle inhoud verwyder wat nie deur ’n sogenaamde inhoudsvennoot (professionele vervaardigers) of mense in die sogenaamde “modelprogram” (waarin geakkrediteerde modelle rolle vertolk) opgelaai is nie. Dit sal weer toegelaat word nadat verifikasie gedoen is.
  • Die aflaai van video’s is nou verbode. Die enigste uitsondering is betaalde inhoud in die geverifieerde modelprogram. Dit sal dit onmoontlik maak om video’s weer te laai nadat dit verwyder is, een van die probleme wat baie misbruikte vroue en kinders moet trotseer.
  • Moderering van inhoud word verbeter. ’n Sogenaamde Red Team sal nou die platform oudit vir enige potensieel onwettige materiaal wat die bestaande proses van moderering sal versterk.
  • Meer verbode woorde word ingestel. Een van die dinge wat Kristof uitgelig het, is dat mense doelbewus kan soek vir seksuele dade wat eintlik onwettig is, soos “girls under18”, “14yo” of “exploited teen”. Hoewel dit nie noodwendig wel minderjarige meisies in die video’s is nie, soms net modelle wat jonk lyk, word onwettige materiaal wel só opgelaai.

Die webwerf, wat behoort aan die Kanadese firma MindGeek, het onlangs ’n vennootskap aangegaan met die VSA se sentrum vir vermiste kinders en ’n sogenaamde Trusted Flagger-ooreenkoms gesluit met tientalle organisasies wat hulle teen kindermishandeling en geslagsgeweld beywer.

“Ons kernwaardes, soos inklusiwiteit, vryheid van uitdrukking en privaatheid, is slegs moontlik as ons platform deur ons gebruikers vertrou word. Oor die jare het ons sterk maatreëls ingestel om ons platform teen nie-konsensuele materiaal te beskerm, en ons verbeter heeltyd ons vertrouens- en veiligheidsbeleid om onwettige materiaal beter te merk, te verwyder en te hersien en aan te meld. Ons hoop ons het ons toewyding getoon deur met ons voorbeeld te lei,” luidens die verklaring, wat nie aan ’n individu toegeskryf word nie.

Pornhub het ook vroeër vanjaar ’n onafhanklike ondersoek begin en het reeds van die aanbevelings van die ondersoekspan in werking gestel.

Die nuwe stappe kom egter te laat om Pornhub se betalingstroom te red. CNN berig Mastercard en Visa het pas kredietkaartgebruikers se vermoë om die kaarte op Pornhub te gebruik geblokkeer.

Mastercard het verlede week gesê hy het ná Kristof se artikel met ’n ondersoek begin. In die ondersoek van ’n paar dae lank is bevind dat daar wel onwettige materiaal op Pornhub is.

Visa het die gebruik van kaarte op Pornhub verbied, al is sy ondersoek nog nie afgehandel nie.

Pornhub self het dié besluite as “uiters teleurstellend” beskryf.

American Express het nog nooit toegelaat dat sy kaarte op webwerwe met volwasse inhoud gebruik word nie en PayPal het dienste aan Pornhub in 2019 reeds opgeskort.

Meer oor:  Visa  |  Mastercard  |  Mindgeek  |  Pornhub  |  Pornografie  |  Tegnologie  |  Webwerwe  |  Kinderpornografie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.