Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Prosus faal in poging om Just Eat te bekom
Bob van Dijk, uitvoerende hoof van Prosus.Foto: Getty Images

Die stryd om die Britse kosafleweraar Just Eat te bekom, is verby.

En Prosus, die Nederlandse onderneming waarin Naspers al sy oorsese internetbelange belê, het as verloorder uit die stryd getree.

Just Eat se aandeelhouers het ’n aanbod van Takeaway.com aanvaar om alle aandele vir £5,9 miljard te bekom.

Prosus het alles in die stryd gewerp om Just Eat se aandeelhouers te probeer oortuig dat hy die beste onderneming is om die sukkelende kosafleweraar te koop.

In Desember het Prosus ’n finale aanbod van 800p per aandeel gemaak, wat die totale koopwaarde van Just Eat op £5,5 miljard te staan gebring het.

Takeaway.com het egter 916p per aandeel aangebied vir ’n totale koopwaarde van £6,3 miljard.

Die Nederlandse Takeaway.com het uiteindelik minder vir Just Eat betaal, maar was deurgaans die gunsteling onder aandeelhouers om die transaksie te beklink.

Die finale aanbod het neergekom op 889p per aandeel.

Net 0,02% van Just Eat se aandeelhouers het teen die spertyd van 10 Januarie aangedui hulle kies Prosus se aanbod bo dié van Takeaway.com.

Hoewel hy verloor het, gaan hy “aanhou om geleenthede te identifiseer wat voldoen aan ons huidige strategie en hoë vlakke van opbrengs vir ons aandeelhouers sal beteken”, sê Bob van Dijk, uitvoerende hoof van Prosus, in ’n verklaring.

Die samesmelting van Just Eat en Takeaway.com sal bestuur word deur Takeaway.com se uitvoerende hoof, Jitse Groen.

Dit sal na verwagting die wêreld se grootste kosafleweraar wees wat meer as 360 miljoen bestellings per jaar verwerk met ’n totale waarde van meer as £6,6 miljard.

Die maatskappy se hoofkantoor gaan in Amsterdam wees, maar dit sal op die Londense aandelemark genoteer wees.

Volgens Groen het meer as 80% van Just Eat se aandeelhouers Takeaway.com se aanbod aanvaar.

Minstens 50% van aandeelhouers moes ten gunste daarvan wees vir die transaksie om te slaag.

Waar het alles begin?

Die stryd om Just Eat te bekom het in Augustus 2019 begin nadat Takeaway.com met die onderneming begin onderhandel het. Daarvolgens sou Takeaway.com en Just Eat saamsmelt en sou Takeaway.com ’n belang van 48% in die nuwe onderneming besit.

Prosus het toe besluit om sy eie aanbod vir Just Eat te doen, sonder dat hy gevra is om dit te doen. Prosus het uiteindelik drie keer ’n verhoogde aanbod gemaak om Just Eat te koop.

Die maatskappy se direksie het elke aanbod egter van die hand gewys. Aandeelhouers was ook daarteen gekant.

Kosaflewering was verlede jaar die ster in Naspers se stal.

Sy inkomste uit die aflewering van kos wat aanlyn bestel word, het in die laaste boekjaar tot einde Maart 2019 met 127% opgeskiet.

Wêreldwyd groei die mark vir kosaflewering heelwat vinniger as die tradisionele kosmark, derhalwe het Prosus sy visier daarop om so vinnig moontlik soveel rolspelers moontlik in die bedryf te bekom.

Prosus besit reeds beduidende belange in kosafleweraars in Brasilië, Mexiko, Columbië, Europa en Indië.

Prosus se aandeelprys het gunstig op die nuus gereageer dat hy die stryd om Just Eat te bekom, verloor het.

Sy aandeelprys was in ’n stadium 2,3% hoër op R1 150 voordat dit weer effens teruggesak het tot R1 142,71.

Naspers het Maandag eweneens 1% hoër op R2 398,73 verhandel.

  • Netwerk24 is deel van Media24, ’n filiaal van Naspers.
Meer oor:  Takeaway.Com  |  Just Eat  |  Prosus  |  Naspers  |  Tegnologie  |  Kosaflewering  |  Dienste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.