Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Prosus: Just Eat boer agteruit sonder hulp

Die Britse kosafleweringsfirma Just Eat onderpresteer en verloor markaandeel. Prosus glo hy kan dié situasie met sy oornameaanbod keer en hy glo sy mededinger vir Just Eat, Takeaway.com, kan dit nié doen nie.

Bob van Dijk, uitvoerende hoof van Prosus en Naspers. Foto: Getty Images

Dis die kern van ’n aangepaste kontantaanbod wat Prosus Maandag vir Just Eat gedoen het en waarin hy sê aandeelhouers moet “so gou as moontlik” besluit of hulle die aanbod wil aanvaar.

Die Just Eat-direksie steun die aanbod van Takeaway.com, wat in aandele betaal gaan word, terwyl Prosus kontant aanbied.

Prosus, wat in September van Naspers ontknoop is, het die waarde van sy oornameaanbod op 710p gehou, maar het die drempel vir aandeelhouers wat dit moet goedkeur, van 90% tot 75% verlaag.

Just Eat se direksie het reeds ingestem tot Takeaway.com se aanbod, wat op £4,7 miljard neerkom, toe Prosus op 22 Oktober sy ongevraagde aanbod regstreeks aan aandeelhouers gedoen het. Prosus se aanbod is £4,9 miljard werd.

Die afsnydatum vir Prosus se aanbod is op 11 Desember om 13:00 (Londense tyd).

Prosus maak in sy finale aanbod die punt dat Takeaway.com se aandeelprys al met 12,4% geval het sedert die aanbod aan Just Eat.

Prosus se model vir kosaflewering is aflewering deur die maatskappy self, terwyl Takeaway.com se model is dat restaurante die aflewering doen.

Prosus glo dat beduidende investering in Just Eat nodig is om sy markposisie te behou en versterk. Die maatskappy se bedryfs- en finansiële prestasie het die afgelope ruk verswak en Prosus glo dis juis omdat Just Eat te min investeer. Dit laat die deur oop vir goed gefinansierde afleweraars soos Deliveroo en Uber Eats om markaandeel te wen.

Prosus besit verskeie belange in kosaflewering, onder meer in Swiggy in Indië, iFood in Brasilië en Mr D Food in Suid-Afrika.

Prosus het sedert 2016 reeds $2,8 miljard in kosaflewering belê.

As skrikmaak-taktiek verwys Prosus na die aandeelprys van Grubhub in die VSA, ’n afleweraar waarvan die aandeelprys in ’n enkele dag in Oktober met 43% getuimel het nadat teleurstellende kwartaalsyfers uitgereik is.

Prosus glo dat Grubhub ook die “verkeerde” sakemodel van restaurantaflewering volg en deur mededingers met hul eie afleweringslogistiek soos Uber Eats die stryd verbygesteek word.

  • Netwerk24 is ’n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers. Naspers besig nagenoeg 73% van Prosus.
Meer oor:  Just Eat  |  Prosus  |  Naspers  |  Tegnologie  |  Kosaflewering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.