Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Prosus-plan gee Jan Taks dalk ekstra R4 mjd.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) sal enigiets tussen R2 miljard en R4 miljard se ekstra inkomste verdien uit kapitaalwinsbelasting vanweë die beoogde transaksie van Naspers en Prosus.

naspers
Die ruil van Naspers-aandele vir nuwe Prosus-aandele deur Suid-Afrikaanse aandeelhouers van Naspers sal tot kapitaalwinsbelasting aanleiding gee. Foto: Getty Images

Dit is omdat die ruil van Naspers-aandele vir nuwe Prosus-aandele deur Suid-Afrikaanse aandeelhouers van Naspers tot kapitaalwinsbelasting aanleiding sal gee.

Dít blyk uit ’n verdere verduideliking deur Naspers se internasionale e-handelsmaatskappy, Prosus, oor die transaksie waarin hy sowat 2,27 Prosus-aandele aanbied in ruil vir elke Naspers-aandeel wat openbare aandeelhouers van Naspers besit.

Dié beoogde transaksie is verlede week aangekondig. Prosus wil sodoende ’n 45,4%-belang in Naspers verkry, wat sy totale belang verhoog tot sowat 49%.

Naspers het Prosus in 2019 afsonderlik in Amsterdam en op die JSE genoteer. Daar is ’n kruisaandeelhoudingsooreenkoms tussen Naspers en Prosus. Prosus besit al Naspers se internasionale internetbelange, insluitend die 29%-belang in die Chinese internetreus Tencent.

Die volgende stap is dat Prosus ’n buitengewone aandeelhouersvergadering moet belê waar sy aandeelhouers sekere aspekte van die transaksie moet goedkeur.

Prosus het vrae oor die transaksie soos volg beantwoord.

LEES OOK: Naspers: Wat jy as aandeelhouer moet weet

Kortliks weer die doel van die transaksie

Vanweë Naspers se sterk prestasie op die JSE oor die jare heen het sy gewig in die aandeelhouersgeweegde indeks (Swix) teen April tot 23,3% gestyg.

Dit skep die probleem dat baie beleggingsfondse nie toegelaat word om so ’n groot persentasie van hul bates in slegs een aandeel te besit nie.

Dié probleem gaan vererger namate die groep se beleggings in sosiale platforms, kosaflewering, geklassifiseerde advertensies en in onderwys- en finansiële tegnologie vinniger as die gemiddelde op die JSE groei.

Gegewe Naspers se huidige konsentrasie op die JSE en moontlike toekomstige groei, is dit volgens die groep nodig om die gewigte van Naspers en Prosus te herskik.

Aan Prosus se kant sal die transaksie sy vrylik verhandelbare aandele op die Amsterdamse beurs wesenlik verhoog. Dit sal Prosus onder die 20 topaandele in die Euro Stoxx 50-indeks plaas, wat nuwe beleggers na hom sal lok. Dit sal sy likiditeit verhoog en groei aanhelp.

Naspers sal steeds Prosus beheer soos tans en hy sal steeds die grootste maatskappy op die JSE wees.

Belastings wat onmiddellik van toepassing word

Versnelde kapitaalwinsbelasting sal toepaslik wees op sommige Suid-Afrikaanse Naspers-aandeelhouers wat die Prosus-aanbod aanvaar. Dit is belasting wat hulle andersins sou betaal as hulle hul Naspers-aandele teen ’n wins sou verkoop.

Die geraamde totale belasting hierop kan tussen R2 miljard en R4 miljard wees.

(Individuele belastingbetalers kry in elke belastingjaar vrystelling van R40 000 se kapitaalwins. Mense word aangeraai om ’n belastingkonsultant vir raad te vra.)

Prosus sal in Suid-Afrika na raming sowat R1,8 miljard moet betaal aan aandeeloordragbelasting. Soos met soortgelyke transaksies van dié aard is daar geen kapitaalwinsbelasting op maatskappyvlak vir Naspers of Prosus nie.

Wat van toekomstige belasting vir die groep?

Die onderliggende Naspers- en Prosus-ondernemings sal steeds belasting betaal waar hulle sake doen en waar hul gebruikers gesetel is.

In die 2020-boekjaar het Naspers sowat R10,2 miljard se belasting in Suid-Afrika betaal. Dit was 70,8% van die groep se internasionale belastingbydraes.

Naspers se genormaliseerde effektiewe belastingkoers vir die boekjaar was ’n relatief hoë 28,13%.

Die voorgestelde transaksie verander nie aan die groep se benadering tot belasting of sy belastingstatus nie. Naspers bly ’n Suid-Afrikaanse belastinginwoner.

Prosus bly ’n beheerde buitelandse maatskappy van Naspers binne die Suid-Afrikaanse belastingjurisdiksie.

Naspers en Prosus bly saam deel van dieselfde groep vir Suid-Afrikaanse belastingdoeleindes.

  • Netwerk24 is deel van Media24, ’n filiaal van Naspers.
Meer oor:  Prosus  |  Naspers  |  Tegnologie  |  Aanlyn Inkopies  |  Kosaflewering  |  Drank  |  Aflewering  |  E-Handel  |  Apps
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.