Prosus, die Naspers-filiaal wat die groep se oorsese internetbelange huisves, is byna halfpad met sy $5 miljard-program vir die terugkoop en aankoop van aandele.

Bob van Dijk, uitvoerende hoof van Naspers en Prosus. Foto: Getty Images
Daar is ook tekens dat die plan in sy doelwit slaag, naamlik om die groep se aandeelprys te ondersteun.
Prosus kondig sedert einde November weekliks aan hoeveel Prosus-aandele hy terugkoop en ook hoeveel van Naspers se aandele hy koop. Die mikpunt is vir $1,37 miljard se gewone Prosus-aandele en $3,63 miljard se gewone Naspers-aandele.
Teen 22 Januarie het Prosus reeds nagenoeg $869 miljoen van sy eie aandele teruggekoop en $996 miljoen se Naspers-aandele gekoop.
Sedert die terug- en aankoopplan op 24 November begin het, het Prosus se aandeelprys op die JSE met 8,2% tot R1 820,94 (26 Januarie se sluiting) gestyg. Naspers se aandeelprys het in dieselfde tyd met 12,6% tot R3 600 gestyg.
Hoewel die hele JSE die jaar met ’n stewige lopie begin het, het die indeks van alle aandele in dieselfde tyd met net 5% gestyg, wat dit wel laat lyk of die program ’n mate van sukses behaal. Aangesien heelparty ander faktore ook ’n rol met Naspers se aandeelprys kan speel, onder meer die waarde van die rand, sal ’n langertermynperspektief nodig wees om die sukses van die program te meet.
Die ontknoping van MultiChoice en die afsonderlike notering van Prosus op die Euronext-beurs in Amsterdam was die vorige twee stappe wat Naspers gedoen het om sy aandeelprys, wat nie die onderliggende waarde van die ondernemings in sy stal weerspieël nie, te probeer ondersteun.
Die maatskappy gebruik sy eie kontant vir die transaksies.
- Netwerk24 is ’n publikasie van Media24, ’n Suid-Afrikaanse filiaal van Naspers.