Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Prosus: Naspers se gly begin...

9:32

Die gly van Naspers se aandeelprys het begin nadat hy Woensdagoggend sy oorsese internetbelange as Prosus in Amsterdam genoteer het, met ’n sekondêre notering op die JSE.

Naspers het teen 09:30 al 31% laer op R2 399,99 - ’n vlak wat byna vier maande laas beleef is. Die aandeel het Dinsdag op R3 522,82 gesluit, maar die sluitingstydprys is aangepas omdat 25% van Naspers te bates verwyder is. Die nuwe sluitingstydprys vir Dinsdag wat Bloomberg aangee, is R2 318,98. Dit impliseer ’n daling van 6,5%, waarvan die aandeel later herstel het.

Dis nie ’n skok dat die gedeeltelike ontknoping Naspers se aandeelprys laat daal nie; inteendeel, een van die hoofdoelwitte daarvan is juis om Naspers se gewig op die JSE te verminder.

Naspers self voorspel dat sy aandeelprys met tot 25% gaan val ná Prosus se notering voordat dit weer kan groei.

9:07

Prosus se aandeelprys op die JSE het Woensdag op die JSE op R1 238,50 geopen - ver bo die verwysingsprys van R949,18 wat die Euronext Amsterdam (AEX) Dinsdagaand gestel het. 

Die aandeel het egter dadelik effens gedaal, tot R1 222. Dit kan dalk ’n wisselvallige dag wees.

’n Aandeelprys van R1 200 sal Prosus ’n markwaarde van R1 944 miljard gee - meer as die markwaarde van Naspers self, wat sowat R1 130 miljard beloop.

In Amsterdam het die aandeel op €76,16 geopen, ook ver bo die verwysingsprys van €58,70. Dit impliseer ’n markwaarde van byna €124 miljard.

Dit maak Prosus die derde waardevolste maatskappy in Europa, ná Royal Dutch Shell (€191,29 miljard) en Unilever (€148,86 mjd.)

Dit lyk asof Naspers met dié stap eindelik die diskonto op sy aandeelprys gaan ontsnap - ’n verwysing daarna dat sy aandeelprys nie eens die volle waarde van sy 31%-belang in die Chinese interneutreus Tencent weerspieël nie.

8:54

Naspers-aandeelhouers sal vandag hul oë op die beurs hou wanneer Prosus op die Euronext Amsterdam (AEX) en die JSE noteer.

prosus, naspers
Die embleem wat boaan die Prosus-prospektus staan. Dis Maandag uitgereik.

Niemand weet waarteen dié maatskappy se aandeel gaan verhandel en wat die totale markwaarde daarvan dus gaan wees nie.

Daarby gaan die notering ook Naspers se aandeelprys beïnvloed, met die verwagting dat dit met tot 25% kan daal.

Die Euronext het Dinsdagaand ná die sluiting van die beurs ’n verwysingsprys van €58,70 (R949,18 teen Maandag se wisselkoers) vir Prosus uitgereik.

Met meer as 1,62 miljoen aandele, sal dié prys Prosus ’n markwaarde van €95 miljard hê, oftewel R1 538 miljard. Naspers se markwaarde is nagenoeg R1 130 miljard.

Naspers en Prosus se hoof van beleggersbetrekkinge, Eoin Ryan, sê egter in ’n verklaring mense moet hulle nie te veel aan die verwysingsprys steur nie.

“Om dit in perspektief te stel, om ’n verwysingsprys te hê, is ’n AEX-vereiste en dit moenie gesien word as ’n mening van Naspers se bestuur of direksie oor die waarde van Prosus nie.

“Die prys is bloot Naspers se sluitingsprys vir die dag (R3 528,34), aangepas vir die wisselkoers en gedeel deur die uitstaande aandele van Prosus. Dis van geen groot belang nie, behalwe as maatstaf waarvolgens die AEX sy boonste en onderste uitskakelaars (circuit breakers) stel.”

’n Aandelemark-uitskakelaar, oftewel handelsperk, is ’n instrument vir die regulering van aandelemarkte wat daarop gemik is om te keer dat aandelebeurse ineenstort. Dit verhinder groot spekulatiewe bewegings binne ’n kort tydperk en die meeste aandelebeurse het sodanige grense.

Ryan sluit af met die opmerking dat Woensdag “vir seker ’n opwindende dag gaan wees”.

Naspers-aandeelhouers, wat as verstekopsie een Prosus-aandeel gaan ontvang vir elke Naspers-aandeel wat hulle besit, is waarskynlik gretig om te weet wat dié aandeel werd gaan wees. Hulle kan wel ’n alternatiewe opsie uitoefen, naamlik om ’n breukdeel van ’n Naspers-aandeel (0,36986) te ontvang vir elke Naspers-aandeel wat hulle besit.

Prosus, wat sy primêre notering op die Euronext Amsterdam het en ’n sekondêre notering op die JSE, gaan al Naspers se oorsese internetbelange huisves. Dit sluit in Naspers se 31%-belang in die Chinese internetreus Tencent en sy 28%-belang in die Russiese sosialemediaplatform Mail.ru, asook ondernemings soos OLX, PayU, Letgo, Swiggy en talle ander.

Naspers gaan minstens 73% van Prosus besit, en sal verder bestaan uit Media24, Takealot en ander Suid-Afrikaanse belange.

Die stap gaan Naspers se gewig op die JSE skerp laat daal – juis een van die doelwitte van die notering. Batebestuurders verskil oor die invloed en dit sal eers later in September in indekse weerspieël word. Dit kan die maatskappy se gewig op die JSE se indeks van alle aandele tot sowat 15% daal, teenoor 21% tans, raam Peter Takaendesa van Mergence Investments in Kaapstad, en Naspers se gewig in die aandeelhouersgeweegde top-40-indeks (Swix) kan van 25% tot sowat 18% daal.

Aan die ander kant kan Prosus self ’n gewig van tussen 3% en 4% van die JSE behaal.

  • Netwerk24 is ’n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers.
Meer oor:  Prosus  |  Naspers  |  Media24  |  Tegnologie  |  Internet  |  E-Handel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.