Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Prosus verhoog aanbod vir Just Eat
Bob van Dijk, uitvoerende hoof van Prosus en Naspers. Foto: Getty Images

Prosus het sy kontantaanbod verhoog om ’n meerderheidsaandeel in die Britse kosafleweringsmaatskappy Just Eat te bekom.

Die maatskappy, waarin Naspers sy buitelandse internetbelange hou, het sy aanbod van 710p tot 740p per aandeel verhoog.

Prosus bevind hom tans midde-in ’n vyandige oorname-aanbod vir Just Eat en ding regstreeks met Takeaway.com vir ’n meerderheidsaandeel in die maatskappy mee.

Prosus se jongste aanbod kom neer op £5,1 miljard teenoor Takeaway.com se aanbod van £4,7 miljard.

Prosus het ook ingestem tot ’n eenvoudige meerderheid van Just Eat, wat 50% van alle aandele plus nog een aandeel behels.

“Prosus meen die verhoogde aanbod onderstreep sy verbintenis tot die transaksie en vorm ’n aantreklike en versekerde waarde vir Just Eat-aandeelhouers, terwyl dit terselfdertyd die gepaste opbrengs vir sy eie aandeelhouers beteken,” sê die maatskappy Maandag in ’n verklaring.

Prosus het op 22 Oktober skielik ’n aanbod gemaak om Just Eat te bekom, selfs al het die maatskappy se direksie toe reeds aangedui dat hy Takeaway.com se aanbod steun.

Prosus se model vir kosaflewering is dat die maatskappy die aflewering doen, terwyl Takeaway.com glo restaurante behartig.

Just Eat onderpresteer reeds ’n geruime tyd en verloor markaandeel, maar tog glo Prosus die maatskappy is ’n “aantreklike belegging”, wat ondanks die huidige uitdagings die potensiaal het om op lang termyn te groei.

Die dag voor Prosus sy aanbod aangekondig het, het Just Eat teen 589p verhandel.

Sy jongste aanbod is dus heelwat meer as wat Just Eat toe werd was, sê Prosus.

Just Eat se direksie het intussen erken dat hy verdere beleggings benodig en dat dit “dalk” sy winsgewendheid kan beïnvloed.

In sy verklaring Maandag sê Prosus hy glo steeds sy aanvanklike aanbod van 710p per aandeel was “regverdig”, maar hoop dat die aangepaste aanbod “meer aanloklik” vir Just Eat se aandeelhouers sal wees.

“Just Eat se aandeelhouers word versoek om die aanbod so gou as moontlik te aanvaar.”

Die afsnydatum vir Prosus se aanbod was aanvanklik 11 Desember, maar dit is nou tot 27 Desember om 13:00 (Londense tyd) verleng.

Teen laatmiddag op 6 Desember het aandeelhouers van net 0,0018% van Just Eat se aandele al die aanbod aanvaar.

Prosus besit tans geen aandele in Just Eat nie.

Die maatskappy het Maandagoggend byna 1% hoër teen R972,93 op die JSE verhandel.

Naspers was eweneens 0,6% hoër op R2 066,98.

Naspers besit minstens 73% van Prosus.

  • Netwerk24 is deel van Media24, ’n filiaal van Naspers.
Meer oor:  Just Eat  |  Prosus  |  Naspers  |  Maatskappye  |  Oorname
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.