Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Prosus verkoop 192 m. Tencent-aandele

Prosus gaan byna 192 miljoen Tencent-aandele verkoop. Dit sal Prosus se belang in die Chinese internetreus Tencent van 30,9% tot 28,8% laat daal.

Bob van Dijk, uitvoerende hoof van Naspers en Prosus.

Prosus is die maatskappy waarin Naspers al sy oorsese internetbelange huisves. Naspers self besit 72,6% van Prosus. Prosus se primêre notering is op die Euronext-beurs in Amsterdam en sy sekondêre notering is op die JSE.

Dis die tweede keer in drie jaar dat die groep ’n deel van sy belang in Tencent verkoop. In 2018 het die groep $9,8 miljard verdien toe hy sy belang in Tencent van 33,2% tot 30,9% verminder het.

Hy het toe nagenoeg 190 miljoen aandele verkoop.

Naspers het in 2001 in Tencent, een van die grootste e-handel- en sosialemediamaatskappye in China, belê. Tencent besit ook verskeie maatskappye wat mobiele en rekenaarspeletjies vervaardig.

Die mark het nie van die idee gehou nie. Net nadat die nuus op Sens aangekondig is, het Naspers se aandeelprys met 5,4% geval en Prosus s’n op die JSE met 4,7%. Teen 12:30 was Naspers 4% laer vir die dag op R3 519,31 en Prosus 3,2% laer op R1 638,10. Dis teenoor die daling van net 1% in die indeks van alle aandele.

Tencent is al jare lank ’n groot en standhoudende bron van Prosus en Naspers se wins.

Volgens die maatskappy gaan hy die opbrengs gebruik om sy “finansiële buigsaamheid te verhoog om in groei-ondernemings te belê, asook vir algemene korporatiewe doelwitte”.

Prosus onderneem om vir die volgende drie jaar geen verdere Tencent-aandele te verkoop nie, “in pas met sy langtermyngeloof in die potensiaal van die onderneming”.

Die groep sê hy bly “standvastig verbind tot Tencent”.

Prosus se grootste beleggingsgebiede is aanlyn geklassifiseerde advertensies, kosaflewering en finansiële tegnologie. Hy het ook beleggings in apps vir onder meer opvoeding en e-handel.

“Ons sien geleenthede om dié groeimodelle verder op te skaal om wêreldwye ondernemings te bou wat al hoe waardevoller raak.”

Prosus onderneem ook om aan te hou om innoverende ondernemings en entrepreneurs te ondersteun.

Die Tencent-aandele word aan institusionele beleggers wêreldwyd aangebied in ’n versnelde proses wat na verwagting binne ’n dag afgehandel sal word. Die waarde van die transaksie sal daarna aangekondig word.

Meer oor:  Prosus  |  Naspers  |  Tencent  |  Aandele  |  E-Handel  |  Tegnologie  |  Beleggings  |  Geklassifiseerde Advertensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.