Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Prosus wil 45% van Naspers hê in ruil vir aandele

Die internetreus Naspers en sy internasionale e-handelgroep Prosus het Woensdag waarskynlik die omvattendste aandeel-omruilings nóg op die JSE aangekondig.

Bob van Dijk
Bob van Dijk, uitvoerende hoof van Naspers en Prosus.

Hiervolgens wil Prosus ’n vrywillige aanbod aan Naspers-aandeelhouers maak om 45,4% van Naspers oor te neem, in ruil vir nuwe aandele in Prosus.

Die voorstel is dat Naspers-aandeelhouers 2,27 nuwe Prosus-aandele sal ontvang vir elke Naspers-aandeel wat hulle aan Prosus bied.

Die ruilkoers is bereken om seker te maak albei stelle aandeelhouers trek voordeel uit die waardeskepping van die transaksie.

Naspers en Prosus verduidelik in ’n Sens-verklaring dat Naspers weens sy sterk groei mettertyd ’n te groot deel van die JSE se aandeelhouersgeweegde indeks (Swix) uitgemaak het – 25,9% teen Augustus 2019.

Dis hoekom Naspers toe in September sy internasionale internetbelange as Prosus op die Euronext-beurs in Amsterdam genoteer het.

Maar weens die kruisaandeelhouding en Prosus se verdere sterk groei het Naspers se gewig in die Swix teen April vanjaar alweer op 23,3% gestaan.

Dit dra volgens die groep by tot die groeiende diskonto van sy aandeelprys teenoor sy netto batewaarde.

Anders gestel, Naspers se aandeelprys weerspieël nie die waarde van sy onderliggende ondernemings nie omdat hy nie op die JSE kan groei nie.

Dis deels omdat groot batebestuursfirmas se mandaat die persentasie wat hulle in een maatskappy mag belê, beperk en ook deels omdat buitelandse beleggers lugtig is vir Suid-Afrika, het die groep voorheen oor die diskonto gesê.

Naspers en Prosus verwag die transaksie sal in die derde kwartaal vanjaar beklink word, hoewel Prosus-aandeelhouers nog sekere aspekte sal moet goedkeur. Die Suid-Afrikaanse Reserwebank het reeds die voorgestelde aandeelomruiling goedgekeur, maar ander regulatoriese goedkeurings moet nog plaasvind.

Prosus sal ná die transaksie ’n belang van 49,5% in Naspers hou teenoor die huidige 3,7%. Naspers se belang in Prosus sal verklein van die huidige 73,2% na 57,2%.

Bob van Dijk, uitvoerende hoof van sowel Prosus as Naspers, sê die aandeelaanbod sal Prosus se status as die grootste internetmaatskappy in Europa uitbrei.

naspers
Grafika

Naspers-aandeelhouers sal onmiddellik voordeel trek deurdat hulle dan hul Naspers-aandele, wat teen ’n groter diskonto teenoor die netto batewaarde verhandel, verruil vir Prosus-aandele, wat teen ’n kleiner diskonto teenoor sy netto batewaarde verhandel.

Volgens Basil Sgourdos, finansiële hoof van Prosus en Naspers, het hulle sedert Prosus se notering in 2019 verskeie opsies gesoek om die groepstruktuur te verbeter. Hy meen die voorgestelde aandeelomruiling is doeltreffend, kan relatief gou in werking gestel word, en kom met minimale koste. Dit behou steeds Naspers as die grootste Suid-Afrikaanse maatskappy op die JSE, en steeds in beheer van Prosus.

  • Netwerk24 is ’n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers.

Meer oor:  Naspers  |  Prosus  |  Beleggings  |  E-Handel  |  Tegnologie  |  Geklassifiseerde Advertensies  |  Aandele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.