Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
R300 miljard se waarde deur Prosus geskep

Nagenoeg R300 miljard se waarde is Woensdag geskep deurdat Naspers 25% van sy markwaarde as Prosus ontknoop het.

prosus, naspers
Die Prosus-handelsmerk.

Dis die verskil tussen Naspers se markwaarde Dinsdag met die sluiting van die JSE en die gesamentlike markwaarde van Naspers en Prosus Woensdag. Dis selfs al het Naspers se aandeel met 32% geval grootliks omdat ’n kwart van sy markwaarde na Prosus verskuif het – ’n daling wat wel vooraf verwag is.

Prosus het nou daarin geslaag om iets reg te kry wat batebestuurders nou al jare lank warm onder die kraag het: Om Naspers se 32%-belang in die Chinese internetreus Tencent te weerspieël, plus nog ’n bietjie meer waarde.

Naspers se aandeelprys het die afgelope jare nie eens dié belang weerspieël nie; die aandeel is beskou as tot 40% ondergewaardeer gegrond op die som van Naspers te onderliggende maatskappye.

Prosus is die nuwe maatskappy wat Naspers Woensdag op die Euronext Amsterdam genoteer het, met ’n sekondêre notering op die JSE. Benewens die Tencent-belang, huisves dit onder meer OLX, Avito, Swiggy, PayU en Letgo, ’n kombinasie van ondernemings in e-handel, betaling, kosaflewering, geklassifiseerde advertensies en sosialemediaplatforms wêreldwyd.

Prosus het verras met ’n noteringsprrys van 76 in Amsterdam en R1 238,50 op die JSE. Dit het die dag eindelik effens laer gesluit op onderskeidelik 74,44 en R1 202,65. Naspers het van R3 522,82 Dinsdag tot R2 465 Woensdag geval.

k

Die waarde van die belegging van gewone aandeelhouers wat die verstekopsie kies, naamlik om een Prosus-aandeel te ontvang vir elke Naspers-aandeel wat hulle besit, sal teen Woensdag 4,1% meer wees as Dinsdag.

Dié wat egter kies om nagenoeg 37% van ’n Naspers-aandeel ekstra te ontvang, sal 4,2% armer daaraan toe wees, en dus meer as 8% armer as iemand wat die verstekopsie kies

Aandeelhouers het tot Vrydag 12:00 as hulle die Naspers-opsie wil kies.

Wat oor die volgende agt uur, of paar dae of weke gebeur, maak nie saak nie. Wat regtig saakmaak, is watter waarde ons skep en die ondernemings wat ons bou.
Basil Sgourdos

Dié berekeninge sluit nie die kapitaalwinsbelasting in wat onmiddellik betaalbaar gaan wees indien die Prosus-aandeel aanvaar word nie. Volgens berekeninge wat Anchor Capital gedoen het, kan enigeen met 34 of meer Naspers-aandele besit, kapitaalwinsbelasting verwag indien die finale verwysingsprys vir Prosus in die omgewing van R1 200 is.

Die finale verwysingsprys gaan na verwagting Maandag vasgepen word.

Aandeelhouers wat die Naspers-opsie vat, gaan ook uiteindelik kapitaalwinsbelasting betaal, maar eers wanneer hulle Naspers-aandele verkoop.

Die belangriker vraag is egter vir die meeste batebestuurders wat die toekomspotensiaal van onderskeidelik Prosus teenoor Naspers se aandeel is.

Karin Richards, ’n onafhanklike makelaar, sê op Twitter dit lyk asof die waarde vir aandeelhouers in Prosus gaan lê, gegewe dat die waarde van ’n Naspers- en Prosus-aandeel saam nou meer is as Dinsdag se sluitingstydprys.

David Shapiro van Sasfin sê ook op Twitter dat daar die ontknoping ’n “oefening in waardeskepping” was, maar hy waarsku daar is nog “so baie bewegende dele”.

Basil Sgourdos, finansiële hoof van Naspers en Prosus (wat dieselfde bestuur en direksie het), het Woensdagoggend in ’n telekonferensie met joernaliste gesê: “Wat oor die volgende agt uur, of paar dae of weke gebeur, maak nie saak nie. Wat regtig saakmaak, is watter waarde ons skep en die ondernemings wat ons bou.”

Sgourdos het Prosus en Naspers gaan proaktief bly om waarde te skep. Naspers gaan uiteindelik minstens 73% van Prosus behou.

Sgourdos het beklemtoon dat die Prosus-notering hulle toegang gee tot ’n nuwe poel kapitaal – beleggers in tegnologie wat regstreeks in Naspers se internetbelange kan belê.

Hy is nie bekommerd oor ’n gebrek aan likiditeit in Prosus se aandeelprys nie, iets waaroor die mark wel bekommerd is.

Gegewe dat Naspers-aandeelhouers gratis Prosus-aandele kry en baie van hulle langtermynaandeelhouers is wat nie vinnig verkoop nie, en gegewe dat Naspers belowe het om nie sy eie belang in Prosus tot minder as 73% te verlaag nie, is die vraag hoe nuwe beleggers toegang tot Prosus sal kan kry.

Sgourdos sê die oorweldigende meerderheid aandeelhouers met wie hulle die afgelope maand gepraat het, gaan kies om die Prosus-aandeel te aanvaar eerder as die breukdeel.

Sgourdos sê die vrylik verhandelbare poel van 25% is nie lukraak bepaal nie en hulle glo daar sal genoeg aandele op die mark verhandel. “Ons is redelik gemaklik daarmee.”

Die maatskappy het die opsie om nog aandele uit te reik, maar Sgourdos sê dis iets wat slegs gedoen sal word as die vraag baie hoog is: “Ons sal wil sien hoe dinge ontwikkel. Ons wil dinge sinvol benader.”

Sgourdos sê die oorweldigende meerderheid aandeelhouers met wie hulle die afgelope maand gepraat het, gaan kies om die Prosus-aandeel te aanvaar eerder as die breukdeel.

Die finale persentasie aandeelhouers wat Prosus kies, sal eers Maandag bekend wees. 100% van Naspers se A-aandeelhouers en 95,51% van sy N-aandeelhouers het in Augustus op die algemene vergadering ten gunste van die notering van die groep se oorsese internetbelange in Amsterdam gestem.

Aandeelhouers mag nie met ’n persentasie van hul aandele een opsie kies en met die res die ander opsie nie – hulle moet dieselfde keuse vir al hul aandele uitoefen.

Die notering gaan Naspers se gewig op die JSE skerp laat daal – juis een van die doelwitte van die notering. Batebestuurders verskil oor die invloed en dit sal eers later in September in indekse weerspieël word. Dit kan die maatskappy se gewig op die JSE se indeks van alle aandele tot sowat 15% daal, teenoor 21% tans, het Peter Takaendesa van Mergence Investments in Kaapstad vroeër gesê, en Naspers se gewig in die aandeelhouersgeweegde top-40-indeks (Swix) kan van 25% tot sowat 18% daal.

Aan die ander kant kan Prosus self ’n gewig van tussen 3% en 4% van die JSE behaal.

  • Sake is ’n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers.
Meer oor:  Prosus  |  Naspers  |  Media24  |  Tegnologie  |  Notering  |  Internet  |  E-Handel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.