Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
R38 m. tydens Swart Vrydag se besigste uur bestee
Suid-Afrikaners het op Swart Vrydag alte gretig aanlyn inkopies gedoen. Foto: Unsplash

Suid-Afrikaners het nie vanjaar oudergewoonte tot middernag wakker gebly om dadelik die beste winskopies op Swart Vrydag aanlyn aan te skaf nie.

Volgens PayU, een van Suid-Afrika se voorste platforms wat aanlyn betalings verwerk, was aanlyn aankope in die eerste uur op Swart Vrydag (dus van middernag tot 01:00) 63% laer as ’n jaar gelede.

Die totale waarde van transaksies in die eerste twee ure van Swart Vrydag was ook 59% laer.

Teen 07:00 is aanlyn winkels se virtuele drempels deurtrap met gretige winskopiejagters, dermate dat sommige webwerwe in hierdie uur soos ’n kaartehuis ineengestort het.

PayU het tussen 08:00 en 09:00 Vrydagoggend R38 miljoen se transaksies verwerk.

Dit kom neer op min of meer R633 000 se artikels per minuut. Die meeste aankope (60%) was op mobiele toestelle.

As geheel was verkoopsvolumes aanlyn op Swart Vrydag 14% meer as verlede jaar, al het die dag betreklik stadig begin.

OneDayOnly.co.za se webwerf het Vrydagoggend omstreeks 07:00 weens “oorweldigende belangstelling” ophou werk, het ’n woordvoerder bevestig.

SV

Die webwerf was deur die loop van die oggend op wankelrige bene voordat dit teen vroegmiddag weer op dreef was.

Takealot en Superbalist, nog twee uiters gewilde aanlyn handelaars, se webwerwe het wel deurgaans gewerk, anders as vorige jare op Swart Vrydag.

Lugbraaiers, platskermtelevisiestelle, skootrekenaars en Rain-simkaarte was van die gewildste produkte tydens vanjaar se Swart Vrydag-uitverkoping, het Karla Levick, Takealot se kommunikasiehoof, by navraag gesê.

Levick het nie spesifieke verkoopsyfers bekend gemaak nie.

Vanjaar was die eerste keer dat artikels soos pakke van 50 gesigmaskers en simkaarte op die lys van topverkopers vir die dag verskyn.

Tablette vir skottelgoedwassers het ook van die virtuele winkelrakke gevlieg, sê Levick.

Op OneDayOnly.co.za was dit tegnologieprodukte wat Suid-Afrikaners na hul kredietkaarte laat gryp het.

Lugponies (hover boards), koordlose oorfone en Kindles was besonder goeie verkopers, sê Matthew Leighton, woordvoerder.

Verrassend genoeg het skoonmaakprodukte soos wasgoed-kapsules en tablette vir skottelgoedwassers ook op OneDayOnly.co.za se lys van gewildste artikels beland.

Kleinhandelverkope het 79% van alle transaksies behels. Reisprodukte soos vliegtuigkaartjies en vakansiepakkette was maar net 11% van verkope. Verlede jaar op Swart Vrydag het dié segment 20% van alle verkope behels.

Party handelaars het op die dag ook gesukkel om die groot volumes betalings op een slag te verwerk, maar as geheel was aanlyn betalings “taamlik stabiel,” sê Karen Nadasen, uitvoerende hoof van PayU in Suid-Afrika.

Die grootste aantal transaksies per sekonde was wel 30% laer as 2019 se hoogtepunt.

  • Netwerk24 is deel van Media24, nes Takealot en PayU in die Naspers-stal.
Meer oor:  Onedayonly.Co.Za  |  Takealot  |  Superbalist  |  Ekonomie  |  Aanlyn Inkopies  |  Swart Vrydag  |  E-Handelaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.