Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Raak só ontslae van telebemarkers
David Dickens, uitvoerende hoof van die vereniging vir direkte bemarkers in Suid-Afrika. Foto: Verskaf

Sowat 1,7 miljard stukke inligting word jaarliks deur die vereniging vir direkte bemarking van Suid-Afrika (DMASA) skoongevee uit die databasisse van maatskappye wat per e-pos, teksboodskap en telefonies produkte aan verbruikers bemark.

Die vereniging, wat in 2005 deur groot banke en telekommunikasiegroepe opgerig is, het nou sowat 400 000 verbruikers wat op sy webblad geregistreer is wat verkies om nie deur maatskappye gekontak te word vir regstreekse bemarking nie.

Volgens David Dickens, uitvoerende hoof van die vereniging, is daar ’n eenvoudige proses wat gevolg kan word om seker te maak alle lede van die DMASA stop hul kommunikasie aan jou.

Gaan na die webwerf en volg die aanwysings.

Dickens sê iemand moet net op die DMASA se webwerf hul besonderhede invul dan sal hulle nooit weer ongevraag deur enige van sy lede gekontak word nie.

Hy sê om op die webwerf te registreer moet jy jou ID-nommer invul plus die nommers en e-pos-adresse waarop jy nie gekontak wil word nie.

DMASA het ’n ooreenkoms met die Verbruikerskommissie om klagtes oor die ongevraagde kontak van bemarkers te bestuur.

Die organisasie het duisende lede – die maatskappye wat normaalweg die bemarking doen – en hulle moet aan die vereistes van die Verbruikerswet voldoen.

“Die lede van die DMASA mag nie kontak met jou maak as jy spesifiek gevra het hulle mag nie.”

Volgens Dickens gaan die DMASA binnekort sy gedragskode vir die bedryf aanvaar.

Die vereniging wil dan aan die reguleerder van inligting, wat verantwoordelik is vir die afdwinging van die Wet op die Beskerming van Inligting (Popi) aanbeveel dat sy kode landwyd aanvaar word.

Dickens sê die gedragskode word nog deur die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa) en sy prokureurs hersien, maar hulle hoop om teen die einde van die maand ’n konsep-gedragskode bekend te stel.

Hy sê die Popi-wet gaan ’n impak hê op hoe persoonlike inligting gestoor en gebruik mag word. Dié wet maak byvoorbeeld op die beginsel staat dat ’n verbruiker reeds geweier het en eers toestemming moet gee voor hy gekontak kan word.

Daarteenoor maak DMASA se lede tans op die beginsel staat dat verbruikers nie omgee om gekontak te word nie en eers moet weier voordat bemarking aan hulle gestaak word.

’n Oorgangstydperk sal geld voor maatskappye se databasis vir dié nuwe regime geldig moet wees.

Regulasies ingevolge die wet is nog nie uitgevaardig nie.

Volgens Dickens is die regulasies se finale konsep onlangs versprei, maar dis onseker hoe lank dit gaan neem voor dit aanvaar word.

Die webwerf is opgegradeer om sy vermoë te vergroot sodat lyste met name van die bemarkers vinniger hanteer kan word.

Die databasis moes meer gebruikersvriendelik gemaak word.

Volgens Dickens voldoen die databasis aan die belangrike veiligheidsmaatreëls wat ook internasionaal geldig is.

As ’n verbruiker registreer, is dit vir drie jaar geldig “want dit toon ondernemings neem die weiering ernstig op”. Hy meen een jaar sou nie ernstig gelyk het nie.

Meer oor:  Dmasa  |  Tegnologie  |  Telebemarking  |  Kommunikasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.