Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Rain 30% stadiger tydens staat van inperking

Die gemiddelde spoed van internetverkeer op Rain, Suid-Afrika se jongste mobiele netwerk, het tydens die staat van inperking met 30% in vergelyking met die eerste drie maande van die jaar gedaal.

Die gemiddelde internetspoed op Rain het aansienlik tydens die staat van inperking verswak. Foto: Unsplash

MyBroadband, wat kwartaalliks ’n gehalteverslag oor Suid-Afrikaanse selfoonnetwerke uitreik, het in sy jongste verslag bevind dat Rain se gemiddelde mobiele internetspoed oor die drie maande van April tot einde Junie 10,64 Mbps was.

In die voorafgaande drie maande was die gemiddelde spoed 15,20 Mbps.

Die mobiele internetverkeer op al die netwerke was tot 50% meer as gewoonlik, het MyBroadband bevind.

Onder normale omstandighede sou dit ’n aansienlike daling in die gemiddelde spoed van mobiele internet veroorsaak het, maar die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid (Okosa) het vroeg tydens die inperkingstyd bykomende hoëfrekwensiespektrum beskikbaar gestel om die druk op die mobiele netwerke te help verlig.

Die gemiddelde spoed van internetverkeer op Vodacom het ook effens verswak in hierdie tyd, maar nie naastenby soveel soos in die geval van Rain nie.

Volgens MyBroadband het die gemiddelde spoed van internetverkeer op Vodacom se netwerk met 2,4% van 29,79 Mpbs tussen Januarie en einde Maart tot 29,08 Mbps tussen April en einde Junie gedaal.

Cell C se gemiddelde internetspoed was grootliks onveranderd, terwyl Telkom s’n tydens die staat van inperking met 5,5% van 19,11 Mbps tot 20,16 Mbps verbeter het.

MTN skop egter oudergewoonte stof in die oë van sy mededingers. Die gemiddelde internetspoed op dié netwerk het met ’n massiewe 20,3% tot 52,28 Mbps verbeter.

Die gemiddelde internetspoed op MTN was vroeër in die jaar 43,47 Mbps.

Dit maak MTN steeds die vinnigste selfoonnetwerk in Suid-Afrika wat die gemiddelde spoed van sy mobiele internet betref en die eerste netwerk wat ’n gemiddelde aflaaispoed van meer as 50 Mbps aanteken.

internet

Al die diensverskaffers, behalwe Cell C, het in April bykomende hoëfrekwensiespektrum ontvang, maar nie soveel soos waarvoor aansoek gedoen is nie.

Die toekenning van bykomende spektrum is ook net tydelik; al die diensverskaffers moet dit teen die einde van November weer “teruggee” aan die kommunikasieowerheid waarna dit vir permanente toekenning opgeveil sal word.

Rain, Suid-Afrika se enigste mobiele netwerk net vir data, het benewens sy bestaande 20 MHz ’n bykomende 30 MHz se spektrum ontvang.

Rain se toekenning was heelwat minder as waarvoor hy aansoek gedoen het, en ook nie in die regte frekwensie nie.

Volgens MyBroadband is dit een van die vernaamste redes waarom dié netwerk se gemiddelde internetspoed soveel gedurende die staat van inperking gedaal het.

Rain kon doodeenvoudig nie aan die skerp toename in internetverkeer voldoen nie.

Sy bestaande tegnologie kon boonop ook nie die bykomende spektrum doeltreffend benut nie.

Die diensverskaffer is reeds besig om aanpassings aan sy radiotorings te maak sodat die bykomende spektrum doeltreffender ingespan kan word.

Meer oor:  Mtn  |  Cell C  |  Vodacom  |  Telkom  |  Rain  |  Internet  |  Tegnologie  |  Data
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.