Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Regering ‘moet hande van spektrum afhou’

MTN en Vodacom is onderskeidelik die land se eerste en tweede beste selfoondiensverskaffers wat op- en aflaaispoed en netwerkgehalte betref, wys die jongste verslag deur MyBroadband.

’n MTN-selfoontoring in Soweto. MTN is die voorste selfoondiensverskaffer wat op- en aflaaispoed en netwerkgehalte betref, volgens MyBroadband.Foto: ELIZABETH SEJAKE

Die bevindings is gegrond op ’n Android-spoedtoets wat onder 13 272 unieke gebruikers gedoen is. MTN het ’n aflaaispoed van 64,29 Mbps en ’n oplaaispoed van 25,42 Mbps wat aan hom ’n punt van 9,73 uit tien gee vir die gehalte van sy netwerk.

Vodacom is in die tweede plek met ’n punt van 5,65. Telkom is derde met ’n punt van 5,17 en Cell C en Rain onderskeidelik vierde en vyfde.

Ondanks dié diens moet MTN en Vodacom met net 30% van Suid-Afrika se totale spektrum tevrede wees. Hulle bedien 80% van die bevolking.

Die Vryemarkstigting het die afgelope week ’n maatskaplik-ekonomiese impakstudie bekend gestel oor die nadelige uitwerking van die regering se IT-beleid, spesifiek ten opsigte van spektrumtoekenning.

Die vernaamste bevinding is dat die regering se stremmende IT-beleid die skuld moet kry vir hoë datapryse en swak en wisselvallige selfoon- en internetverbindings. Die regering het in 2004 en 2005 laas spektrum aan MTN en Vodacom toegeken om 3G-netwerkinfrastruktuur in werking te kan stel. Dit was in die 1,8 en 2,1 GHz-bande.

“Daar moet verstaan word dat die huidige 167 MHz se spektrum wat dié selfoondiensverskaffers het, neerkom op net 30% van die totale spektrum. Dit is ongeëwenaar ter wêreld en kom basies daarop neer dat hierdie markleiers ‘gestraf’ word vir hul sukses.”

Die Mededingingskommissie het in Desember 2019 die bevindings van ’n ondersoek na datapryse in Suid-Afrika bekend gemaak waarin bevind is dat veral MTN en Vodacom se pryse armer huishoudings benadeel. Selfoondiensverskaffers is gedwing om hul datapryse te verlaag.

Die Vryemarkstigting sê in sy impakstudie dit is duidelik dat die Mededingingskommissie wil toesien dat MTN en Vodacom markaandeel verloor pleks daarvan om toe te sien dat hulle eerder spektrum ontvang wat tot voordeel van gebruikers sal strek.

Die feit dat die weerhouding van spektrum MTN en Vodacom noop om duur infrastruktuur op te rig om 4G met uiters beperkte spektrum aan Suid-Afrikaners beskikbaar te stel, word geïgnoreer.

Die Vryemarkstigting sê die mislukte digitale migrasieproses wat reeds in 2015 voltooi moes wees, veroorsaak dat waardevolle spektrum in die bande 700 en 800 MHz in beslag geneem word deur analoog-TV- en radiostasies. Die migrasie van analoog- na digitale aardtelevisie sal na verwagting eers volgende jaar afgehandel wees.

Intussen ontneem die regering met sy inmenging in vryemarkkragte verbruikers die voordele van goedkoop en betroubare internettoegang en die jongste tegnologie wat elders ter wêreld as vanselfsprekend aanvaar word.

Die regering se aandrang op ’n onbeproefde, staatsbeheerde groothandel-ooptoegangsnetwerk (Woan) is een voorbeeld. Woan sal uit ’n konsortium van mense bestaan waarvan 70% Suid-Afrikaners is met deelname deur voorheen benadeelde groepe, soos die jeug en mense met gestremdhede. ’n Groot deel van die spektrum wat nog opgeveil moet word, sal aan Woan afgestaan word.

Rapport het vroeër berig dat Woan soos ’n netwerk sal funksioneer en ook spektrum waarna daar ’n groot vraag is aan selfoondiensverskaffers sal kan verkoop. “Maar in werklikheid bestaan daar reeds ’n Woan in Suid-Afrika. Die ooreenkomste wat selfoondiensverskaffers vir swerwing (roaming) onderling met mekaar gesluit het om meer spektrum te bekom, wys hoe doeltreffend ’n mark-gegronde Woan funksioneer.”

MTN en Vodacom het byvoorbeeld ooreenkomste gesluit met Liquid en Rain, terwyl daar ook ooreenkomste tussen Cell C, MTN, Telkom en Vodacom bestaan. “Selfoondiensverskaffers is gedwing om hierdie ooreenkomste aan te gaan omdat die regering nie spektrum beskikbaar stel nie.”

Die Vryemarkstigting beveel aan dat die regering spektrumregulering afskaf en dat dit op die vrye mark verhandel word. Die onderlinge ooreenkomste tussen diensverskaffers toon dat die private sektor weet wat hy doen.

Meer oor:  Regering  |  Veiling  |  Selfoondienste  |  Diensverskaffers  |  Spektrum  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.