Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Regsman tjoekie toe oor porno-bedrog
Foto ter illustrasie. ’n Amerikaanse prokureur wat pornografiekykers bedrieg het, is tot 14 jaar tronkstraf gevonnis. Foto: Unsplash

’n Amerikaanse prokureur gaan tronk toe nadat hy ’n groot aantal pornografiekykers met ’n slap riem gevang het en in die proses miljoene dollar op ’n bedrieglike wyse bekom het.

Paul Hansmeier van Minneapolis in die Amerikaanse deelstaat Minnesota het meer as 704 mense ingeloop en is pas tot 14 jaar gevangenisstraf gevonnis.

Hansmeier het kopieë van pornografiese flieks aanlyn gedeel en dan diegene wat dit aflaai met vervolging gedreig.

Hy het $3 000 van hierdie mense geëis om “verdere vervolging weens kopieregskending” te voorkom.

Dié bedrogspul het Hansmeier nagenoeg $3 miljoen in die sak gebring voordat hy uitgevang is.

Hy het in Augustus 2018 skuld beken op aanklagte van bedrog en geldwassery.

Hansmeier se medepligtige, John Steele, het ook skuld beken en word aanstaande maand gevonnis.

Die staatsaanklaer Erica MacDonald sê Hansmeier het sy eed om die wet te gehoorsaam geminag en gekies om dwang en leuens in te span om sy slagoffers uit te buit.

Tara Sullivan, namens die Amerikaanse inkomstediens, die IRS, het aan die hof gesê Hansmeier het sy posisie as prokureur misbruik om talle mense weens sy geldgierigheid uit te buit.

Die hof het bevind Hansmeier en Steele het op onwettige maniere die kopiereg van verskeie pornografiese flieks bekom wat Steele toe op webwerwe soos The Pirate Bay gedeel het.

Hulle het ook hul eie pornografiese flieks vervaardig en op dieselfde webwerf gedeel.

Sodra iemand die flieks afgelaai het, het Hansmeier hulle met ’n strafregtelike klag gedreig tensy hulle ’n bedrag van $3 000 betaal.

Hansmeier het aan geeneen van die beweerde kopieregskenders erken dat hý eintlik die eienaar van die betrokke flieks is nie.

Die hof het bevind Hansmeier se optrede was in hierdie opsig misleidend.

Die hof het ook gelas dat Hansmeier meer as $1,5 miljoen van die geld wat so bekom is, aan die slagoffers moet terugbetaal.

Meer oor:  Bedrog  |  Pornografie  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.