Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Regstryd dreig tussen FibreStream, Vumatel

’n Regstryd dreig nadat die veselnetwerk-operateur Vumatel die internetdiensverskaffer (IDV) FibreStream van sy netwerk, bekend as Vuma, afgegooi het.

Vumatel het FibreStream as internet-diensverskaffer laat vaar. Foto: Fibre Stream

Nie een van die twee maatskappye wil sê wat die rede vir dié drastiese stap is nie.

FibreStream huur, soos ander IDV’s, die vesel-infrastruktuur van die operateurs in verskillende woonbuurte om data aan verbruikers te verskaf.

Die grootste verloorders die afgelope week was verbruikers, wat Maandag om 11:00 net eensklaps sonder internet gestrand gelaat is. Volgens een Kaapse FibreStream-kliënt het hulle bloot die boodskap gekry dat die diensverskaffer “bewus is van probleme in sekere gebiede”. Foonoproepe en e-posse is eenvoudig nie beantwoord nie.

Sy het eindelik tot die drastiese stap oorgegaan om haar kontrak met FibreStream eensydig te beëindig, die debietorder te staak en ’n nuwe IDV te kontrakteer.

FibreStream kla nou Vumatel het die wet oortree deur kliënte se besonderhede aan ’n mededingende IDV, Vox, te gee.

Vumatel het verbruikers wat op sosiale media gekla het dat hul internet van lyn af is, geantwoord dat FibreStream nie meer een van die IDV’s op sy netwerk is nie.

Vumatel het aan Netwerk24 bevestig dat FibreStream nie meer ’n IDV van Vuma is nie.

Hy wou egter nie oor die besluit uitwei nie.

“Soos met enige ooreenkoms, is Vuma nie vry om die besonderhede van sakeverwante uitkomste in die ope mark te bespreek nie.”

Vumatel sê daar is meer as 60 ander IDV’s op sy netwerk en FibreStream-kliënte kan vumatel.co.za besoek om ’n ander internetpakket te kies.

Michael Ribeiro, FibreStream se uitvoerende hoof, het bevestig dat hul ooreenkoms met Vumatel verbreek is.

’n Boodskap van Vox om klante te help om van FibreStream te skuif.

“Ons kan bevestig dat ons verhouding met Vumatel beëindig is. In dié sensitiewe stadium kan ons egter nie verdere besonderhede bekend maak nie,” sê hy.

“Ons is ongelukkig oor die manier waarop Vumatel gekies het om voort te gaan, aangesien hulle ons in ’n moeilike situasie geplaas het met baie van ons waardevolle FibreStream-kliënte. Die kliënte behoort aan ons en nie aan Vumatel nie en Vumatel is nie die enigste netwerkoperateur in die land nie.”

Ribeiro sê hy het skermgrepe wat bewys dat Vumatel van FibreStream se kliënte se private inligting met Vox gedeel het. Volgens hom is dit onbillik.

“Soos gesien in die skermgrepe, het Vumatel kliënte se inligting met Vox gedeel, wat teen die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (Popia) is. Ons is dus in ’n regsgeding met Vumatel gewikkel.”

Daar is heelwat mense wat op Twitter noem dat Vox hulle gekontak het om van diensverskaffer te verander.

Ander IDV’s het ook kliënte gewen.


Meer oor:  Vumatel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.