Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Res van SA gaan lánk wag vir 5G

Terwyl ’n klompie Suid-Afrikaners in die groot stede nou toegang het tot 5G, sal die res van die land tot drie jaar moet wag vir dié soort vinnige, betroubare hoëspoed-internet, sê ’n bedryfskenner.

Die regering praat al jare van hoëgehalte internettoegang vir die hele land – maar dit is afhanklik van die toekenning van nuwe spektrum.

Die grootskaalse ontplooiing van 5G is grootliks afhanklik van die beskikbaarstelling van permanente spektrum – ’n proses wat opnuut op die lange baan geskuif is.

Die onafhanklike kommunikasieowerheid (Okosa) was veronderstel om teen einde Junie vanjaar ’n uitnodiging vir aansoeke vir spektrumtoekenning te publiseer, maar dit het nog nie gebeur nie.

Die uitnodiging wat Okosa moet uitreik, is vir lisensies vir spektrum in die bandwydtes 700 MHz, 800 MHz, 2,3 GHz, 2,6G Hz en 3,5 GHz. Okosa het onderneem om die lisensies teen Desember 2020 op te veil.

Dominic Cull van Ellipsis Regulatory Solutions, ’n maatskappy wat spesialiseer in regsadvies aan die telekommunikasiesektor, het aan Rapport gesê Okosa is ’n ondoeltreffende maatskappy wat nie genoeg finansiering en vermoë het om die spektrumtoekenning behoorlik uit te voer nie.

Die voorbereiding vir die opveil van spektrum is ’n yslike taak en uiters ingewikkeld, sê Cull. “Reëls vir die veiling moet opgestel word en aansoekers vir die bodproses moet gekeur word voordat jy ’n klomp mense in ’n vertrek kan kry vir die veiling.”

Daar is ook nog die moontlikheid dat ontevrede partye hof toe kan gaan, wat die toekenningsproses verder kan uitrek.

Stella Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie, het in ’n beleidsdokument gesê die bodprosesse vir spektrum vir die nuwe ooptoegang-selfoonnetwerk (Woan) en selfoonoperateurs moet gesamentlik geskied.

Om in aanmerking te kom vir die Woan moet voornemende deelnemers aan swartbemagtigings- en burgerskapvereistes voldoen. Minstens 70% van ’n konsortium se lede moet Suid-Afrikaners wees.

Ndabeni-Abrahams wil hê dat die Woan voorkeur moet kry by die toekenning van spektrum.

Die oorblywende deel van die spektrum sal aan selfoonnetwerke opgeveil kan word.

Toe al hoe meer Suid-Afrikaners vroeër vanjaar van die huis af begin werk, is spektrum tydelik beskikbaar gestel sodat daar aan die yslike vraag na netwerktoegang voldoen kon word.

Dié tydelike toekenning kom in November vanjaar tot ’n einde.

Intussen het Suid-Afrika se twee grootste selfoonoperateurs, Vodacom en MTN, die tydelike spektrum wat aan hulle toegeken is, gebruik om 5G in dele van Johannesburg, Kaapstad en Port Elizabeth aan te skakel.

ITWeb het berig dat Vodacom 5G op 20 plekke ingestel het – 18 in Gauteng en twee in Kaapstad. MTN het sy 5G-netwerk op 100 terreine in Gauteng, Kaapstad en Port Elizabeth aangeskakel.

Maar 5G kan eers op groot skaal uitgebrei word nadat permanente radiofrekwensiespektrum toegeken is en dié proses sloer al sedert 2016.

Die regering het 15 jaar laas spektrum toegeken en selfoonoperateurs moes weens die beperkte beskikbaarheid van spektrum teen groot koste peperduur infrastruktuur oprig om op te gradeer van 3G na 4G.

Cull sê die spektrum wat Okosa gaan opveil, is bedoel vir 4G-dienste en dat selfoonnetwerke hierdie spektrum wil gebruik vir die verskaffing van sporadiese 5G-dienste.

Hy meen egter dat 5G nie in dié stadium ’n prioriteit moet wees in ’n land soos Suid-Afrika waar groot gedeeltes van die bevolking – veral in landelike gebiede – min tot geen internetverbinding het nie.

Business for South Africa (B4SA) sê in sy versnelde ekonomiese herstelstrategie, wat verlede week uitgereik is, die beskikbaarstelling van nuwe spektrum kan R20 miljard ekstra inkomste en 65 000 nuwe werkgeleenthede tot die ekonomie voeg.

Meer oor:  Selfoonnetwerk  |  Internet  |  Data  |  Diensverskaffers  |  Spektrum  |  Tegnologie  |  5G
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.