Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Reusevraag na internet; staat verslap regulasies

’n Groep internetdiensverskaffers vra die regering moet in die huidige inperkingstyd van die Rica-vereistes laat vaar.

Internetdiensverskaffers is oorval met versoeke om installasie en opgradering vir internetgebruik van die huis af.

Die Wet op die Onderskepping van Kommunikasie en die Verskaffing van Kommunikasieverwante Inligting (die Engelse afkorting is Rica) bepaal dat Suid-Afrikaners ’n bewys van identiteit en woonadres verskaf wanneer hulle om kommunikasiedienste aansoek doen.

Stella Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie, het Donderdag aangekondig die regering sal vir die inperkingstyd bykomende radiofrekwensiespektrum aan telekommunikasiemaatskappye toeken. Sy meen dit kan die druk internetverkeer help verlig.

Die regering sal regulasies vir die lewering van telekommunikasiedienste ook in dié tyd verslap.

Jacques du Toit, uitvoerende hoof van Vox Telecom, het aan Rapport gesê hoewel Ndabeni-Abrahams niks oor Rica gesê het nie, is dit bemoedigend dat die regering bereid is om regulasies in dié tyd te verslap sodat internetdiensverskaffers ’n broodnodige diens kan lewer.

Vox Telecom het die afgelope week ’n 400%-toename in versoeke van kliënte om veselinternetinstallasie of die opgradering van internetspoed tuis gehad, het Du Toit gesê.

40% meer kliënte wou ook opgradeer na ’n simmetriese pakket.

“Die tipiese internetgebruiker laai basies flieks en webwerwe af, maar noudat omtrent almal van die huis af werk, is die behoefte na ’n simmetriese pakket – waar die oplaai- en aflaaispoed dieselfde is – baie groter omdat inligting aan die werkgewer teruggestuur moet word.”

Stella Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie. Foto: Getty Images

’n Tipiese internetpakket bestaan uit twee syfers, soos byvoorbeeld 10 Mbps/20 Mbps, wat die lynspoed aandui. “Wanneer dié twee syfers verskil, is dit asimmetries, wat beteken jy laai inligting op teen 10 Mbps en laai data af teen 20 Mbps.”

Vumatel, wat veselinternet in huise en sakeondernemings installeer, het ook die afgelope twee weke ’n groot toename in huishoudelike vraag gehad. Simon Butler, kommersiële hoof, het gesê die maatskappy beoog om tydens die inperking volstoom voort te gaan met sy dienslewering.

“Ons installasie- en onderhoudspanne het die vermoë om in dié tyd in die groter vraag te voorsien.”

Rain, tot dusver die enigste plaaslike verskaffer van 5G-dienste, is oorval met versoeke vir roeteerders vir mobiele internet. “Ons werk dag en nag om in die groter vraag te probeer voorsien, maar ons het ’n dié toename nie heeltemal in ons vooruitskattings ingesluit nie,” sê Willem Roos, uitvoerende hoof.

Weens die vlugbeperkings is dit moeiliker om roeteerders en SIM-kaarte van China af te kry en vat dit langer om bestellings uit te voer.

“Dit kan dalk ’n bietjie langer neem om roeteerders by mense uit te kry, maar dit sál uiteindelik gebeur,” het Roos gesê.

Shane Chorley, bemarkingshoof van Frogfoot, nóg ’n veseldiensverskaffer, sê hul dienste gaan normaalweg voort. Hy is egter bekommerd daaroor dat installeerders dalk nie toegang tot mense se huise sal kan kry nie.

Die maatskappy het sy werkers toegerus met onder meer gesigmaskers en handskoene en hulle goed opgelei oor die nodige afstand tussen mense en die gebruik van handreinigers.

“Ons neem meer as 4 000 tydelike werkers in diens en dit is noodsaaklik dat hulle in hierdie tyd kan aanhou werk,” het Chorley gesê.

Intussen het Vumatel en Frogfoot gesê hulle sal kliënte se lynspoed as ’n tussentydse maat­reël gratis opgradeer om internetverbindings tuis ’n hupstoot te gee. Frogfoot sal die lynspoed van bestaande kliënte van 1 April tot 30 Junie verdubbel. Vumatel se verhoogde lynspoed sal van 1 April tot 31 Mei geld.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.